Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sakelui kan nie net wegkyk

Aan die einde van Vrouemaand is dit goed om na te dink oor hoe dit begin het: Op ’n hoë noot met ’n vrou – skatryk, uitgeslape en beginselvas – wat op indrukwekkende wyse haar voet dwars sit. Magda Wier­zycka, uitvoerende hoof van die batebestuursfirma Sygnia, se besluit om KPMG as ouditeure af te dank, verdien staande applous.

Wierzycka het haar direksie gevra om KPMG in hul peetjie te stuur oor dié firma se betrokkenheid by die Gupta-ondernemings Oakbay en Linkway. Sy het KPMG gekonfronteer oor hul oudits van dié twee maatskappye en, toe sy ontevrede was met hul antwoorde op haar reguit vrae, daar en dan besluit: Genoeg is genoeg.

Dit is goed dat die statutêre Onafhanklike Reguleringsraad vir Ouditeure (Irba) tans KPMG se bande met die Guptas ondersoek. Dit is gepas dat Moses Kgosana as nie-uitvoerende direkteur van Alexander Forbes moes bedank ná vrae oor sy vermeende vriendskappe met die Guptas terwyl hy destyds nog by KPMG was. Maar dit is nie genoeg nie.

Tereg waarsku Wierzycka dat Suid-Afrikaners nie meer handjies gevou kan sit en wag vir ondersoeke om afgehandel te word nie. Haar daadwerklike, spoedige optrede onderstreep dat etiese sakepraktyk, en sakeleiers wat bereid is om standpunt in te neem, deel moet wees van teenkorrupsie-strategieë.

Suid-Afrikaners weet lankal dat die regering, die president en die kaders wat hom beskerm, nie te vertroue is nie.

Suid-Afrikaners weet lankal dat die regering, die president en die kaders wat hom beskerm, nie te vertroue is nie. Die afgelope tyd is ook groot private ondernemings by staatskaping-bewerings betrek.

Dit help nie dat McKinsey ’n senior vennoot op verpligte verlof geplaas het ná onthullings oor die konsultante-maatskappy se rol in die R495 miljoen wat van Eskom gevloei het na Trillian, ’n Gupta-verwante maatskappy, nie; of dat die sagteware-maatskappy SAP vier van sy senior bestuurders in Suid-Afrika op verpligte verlof geplaas het ná bewerings dat SAP die Gupta-familie omkoopgeld aangebied het ten einde ’n kontrak van R1 miljard met Transnet los te slaan nie. As bewerings oor dié maatskappye waar is, behoort daar nie net hier en daar ’n kop te rol nie. Dan moet hulle skoert, soos die Britse skakelmaatskappy Bell Pottinger, wat nie maklik weer in Suid-Afrika sal ­sake doen nie.

Dit is belastingbetalers se geld wat vir KPMG se Eskom-oudits betaal het en kragtens wetgewing moet ouditmaatskappye ongerymdhede, bedrog of diefstal aanmeld. Die vermoede dat KPMG in gebreke gebly het om juis dit te doen waarvoor ek en jy hulle betaal het, is onrusbarend omdat ons ál minder vertroue het in staatsinstellings wat veronderstel is om ’n waghondrol te speel: soos die Valke, vervolgingsgesag en openbare beskermer. As selfs ouditmaatskappye onbetroubaar is, behoort private maatskappye die leiding te neem en te illustreer dat geld nie noodwendig die wortel van alle kwaad is nie.

Etiese sakeleiers moet hul finansiële slaankrag teen korrupsie gebruik en wys dat daar ook ander maniere van doen en ander idiome is. Dalk kan ons dan sê: Geld wat stom is, maak reg wat krom is.

* Dr. Sonja Loots doseer Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Kaapstad.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Vrouemaand  |  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.