Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sal Afrikaans dié geradbraak kan oorleef?

Die lug tril van spanning oor die plek van Afrikaans aan die Universiteit van Stellenbosch.

In die vroeë 1980’s word ek ’n trotse Matie, vars uit die Hoërskool Oudtshoorn. Dit was traumaties om my ouerhuis te verlaat en afgelaai te word by ’n koshuis waar hardebaarde met lang hare ons een Sondagmiddag inwag. In ’n skrikvreemde omgewing word ek en my ouers met ’n vriendelike “Middag, Oom, middag Tannie” deur die seniors begroet. Hulle stel my voor aan my kamermaat, ’n weird ou met wilde krulhare. “Ek gaan regte swot,” sê hy en skiet ’n sigaretstompie weg. “Ek hoop nie hy rook in jou kamer nie,” fluister my ma. “Sal jy reg wees?” vra my pa en hulle ry weg.

Ek het geglo ek sal oukei wees. En ek was. Totdat die eerste klasse begin en ek met torings akademiese boeke by Van Schaiks uitstrompel. Niemand het my gesê dat aardrykskunde nou geografie gaan heet nie. Nog minder dat van die dik handboeke slegs in Engels beskikbaar sou wees nie. Ek skrik myself in ’n tranerigheid in toe ek 34% vir die eerste klastoets behaal. “Light ’n smoke,” troos my kamermaat. Dis die bloody Engelse handboeke wat ek nie kan baasraak nie. Die taal waarin Amerikaanse weerkundiges cumuluswolke beskryf, is wêrelde verwyderd van die Karoo se donderweer in meneer Müller se klasse.

Toe die dosent, ’n terrible, mislike jong miss met heuplengte voortydige grys hare, haar oë in afkeur vir my rol, was ek gereed om te quit.

Die draaipunt kom in die English Special-klas. Toe die dosent, ’n terrible, mislike jong miss met heuplengte voortydige grys hare, haar oë in afkeur vir my rol, was ek gereed om te quit. Sy vra iets uit ’n poem en wys haar vinger na my: “Answer!” Die vraag was wat ’n vulture was. Ek kon nie. Vulture en culture rym. Is ’n vulture nie ’n vuurspuwende berg nie? Nee, dis ’n volcano! Of het sy gesê voucher? Langs my het ’n vrolike meisiekind van Hartenbos gesit. “Aasvoël,” het sy gefluister. “My ma skryf Afrikaanse stories,” sê sy ’n ruk later.

Ek wóú huis toe. Na die Klein-Karoo se hitte onder die Swartberge. Waar die pikswart mannetjievolstruise met hul wit pluime tussen Calitzdorp en Oudtshoorn langs die plaasdrade hardloop as ’n motor verbykom.

In my tweede jaar verskyn Kringe in ’n bos.

Vandag beleef ek weer die anxiety van al die studente wat met Afrikaans in hul DNS gebore is. In wie se are hul ma se taal bruis. Om skielik langs Engelse weë te wandel, kan serious wees. Maar nou ja, ek kan ook seker nie met al die Afrikaanssprekendes simpatiseer nie. Ek is ook skuldig aan woordmoord. Ek praat nou van dié wat life as ’n amazing journey beskou. Hulle wat awesome shows op die stage gaan uitcheck, of great lunches enjoy en te cool is om eens te realise dat hulle Afrikaans in sy glory in destroy. Is dit omdat daar ’n general laziness bestaan om korrekte Afrikaanse woorde te gebruik? Sal ons oor ’n paar jaar mekaar nog actually verstaan? Sal ons, soos “huidiglik”, mekaar nog ’n “lekker daggie” toewens? ’n Telefoonoproep eindig met: “Oukei, bye!”? Sal studente cope? Sal opdragte en skripsies in Afrikaans geskryf wees? Of gaan ons Afrikaans dump soos ’n bag of trash? Oor al hierdie goed kan ’n mens ’n great song skryf.

Hopelik nie, ten minste so lank volstruise en vultures voëls bly en skrywers boeke oor olifante en woude publiseer.

  • Nell is ’n skrywer van Kaapstad.
Meer oor:  Universiteit  |  Afrikaans  |  Stellenbosch  |  Taalbeleid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.