Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
SAL is Thatcher-oomblik vir CR

Die stryd om die SAL van totale ondergang te red het ontaard in ’n politieke stryd tussen die regering en vakbonde – en meer spesifiek die regering en die ver-linksgesinde National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa).

Numsa maak geen geheim van sy politieke aspirasies nie. Soveel so dat die vakbond sy eie politieke party, die Sosialistiese Revolusionêre Werkersparty (SRWP), gestig het om in Mei vanjaar se algemene verkiesing deel te neem.

Die SRWP, met die volle gewig van Numsa agter hom, kon egter net ’n skamele sowat 24 000 stemme op hom verenig – ’n klinkklare vernedering vir Irwin Jim, Numsa se breedsprakige hoofsekretaris en de facto politieke leier.

Jim het hom egter nie van stryk laat bring deur die nederlaag nie. Inteendeel, hy het dit as ’n tydelike terugslag bestempel en Numsa opnuut verbind tot sy politieke agenda. Nou blyk dit Numsa het ’n ideale voertuig in die probleme van die SAL gevind om sy politieke agenda te dryf.

Dit is duidelik dat Numsa, gerugsteun deur ’n vereniging wat kajuitpersoneel verteenwoordig, daarop uit is om die SAL tot oor die afgrond te dryf met hul alles-of-niks-benadering tot onderhandeling.

Jim en Numsa maak geen geheim van wat op Suid-Afrika wag sou hulle eendag aan die bewind kom nie – die nasionalisering van die ekonomie en die gryp van private eiendom en bates.

Jim en Numsa maak geen geheim van wat op Suid-Afrika wag sou hulle eendag aan die bewind kom nie – die nasionalisering van die ekonomie en die gryp van private eiendom en bates.

In dié opsig is hulle selfs meer radikaal as die EFF. Daar was aanvanklik bespiegelinge oor ’n moontlike alliansie tussen die EFF en Numsa, maar niks het daarvan gekom nie.

Dit sal interessant wees om te sien of dié twee ideologiese eendersdenkende partye nader aan mekaar sal beweeg in die aanloop tot die plaaslike verkiesings in 2021. Ek vermoed egter dat Numsa te links is vir die EFF.

Numsa se hantering van die SAL-staking is dalk net ’n voorspel van wat op Eskom wag, hoewel hy nie so sterk verteenwoordig is in Eskom nie.

Die vakbond met die meeste lede in Eskom is Numsa se Nemesis, die National Union of Mineworkers (NUM), wat baie nader aan die ANC is. Die NUM het net meer as 18 000 lede in Eskom, terwyl Numsa net meer as 9 000 het.

Dit kan wees dat Numsa se houding en optrede in die SAL-sage net daarop uit is om pres. Cyril Ramaphosa se reg-rukplanne vir die ekonomie te frustreer, sonder enige behoorlike oorweging van die gevolge. Anders as Eskom is die SAL nie te groot om te misluk nie en die lugdiens se ondergang sal nie naastenby dieselfde gevolge hê as Eskom se ondergang nie.

Privatisering is die antwoord vir die SAL én Eskom, maar die vakbonde vind dit onaanvaarbaar. Vakbondleiers soos Jim is van die misplaaste mening dat hulle demokraties verkose is en daarom geregtig is om die demokratiese reg van die regering te ondermyn.

Die geveg om die SAL te red is terselfdertyd ’n stryd om heerskappy tussen die (onverkose) vakbonde en die (verkose) regering. Die grondslag vir die onverkwiklike stand van sake is deur die ANC vasgelê weens sy politieke alliansie met sommige vakbonde wat hulle nou ook die reg toeëien om ook politieke teenstanders te wees.

Wie ook al die stryd gaan wen, sal bepalend wees vir die stand en gehalte van ons demokrasie.

Ramaphosa en die ANC besef dit dalk nog nie, maar die oplossings vir baie van hul uitdagings lê langs die weg oor hoe hulle die vakbonde ontmoedig van hul oordrewe sin van hul politieke mag.

Dit kan ook beskryf word as Rama­phosa se Margaret Thatcher-oomblik, met verwysing na die voormalige Britse premier se koppestamp met die Britse nasionale mynwerkersunie.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator.
Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Numsa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.