Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
SAL: Likwidasie of sakeredding?
Roelof Botha
Roelof Botha

Net soos verskeie ander staatsondernemings, pluk die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) nou die wrang vrugte van Jacob Zuma se rampspoedige bewind.

Nepotisme was een van die uitstaande kenmerke van Zuma se termyn as president van Suid-Afrika. Aanstellings in die openbare sektor is gemanipuleer om seker te maak dat vriende en familie voordeel trek uit sy politieke mag, veral by die nasionale vervolgingsgesag – sy hoofdoelwit was immers om nie ’n tronksel met sy sakevennoot, Schabir Shaik, te deel nie.

Dié aanstellings het selde verband gehou met die nodige vaardighede en ondervinding wat vir bestuursposte in staatsinstellings en -departemente vereis word.

Die syfers vertel die droewige verhaal: In 2017 (die laaste keer dat die lugdiens sy finansiële state gepubliseer het) was die laste byna R18 miljard meer as die bates. Die verhouding van bedryfsbates (sonder voorraad) tot bedryfslaste was ’n rapsie meer as een-derde van die norm vir finansiële stabiliteit (wat een of hoër is).

Reddingsboeie wat sedert 1994 deur die regering aan die sukkelende staatsbeheerde lugredery verskaf is, beloop nou al meer as R50 miljard – genoeg geld om ’n halfmiljoen sogenaamde HOP-huise in arm nedersettings te bou en meer as 300 000 werksgeleenthede te skep – ’n wesenlike meervoud van die poste by die SAL wat in die gedrang is.

Verder kon die SAL tussen 2014 en 2017 nie sy inkomste verhoog nie.

Verder kon die SAL tussen 2014 en 2017 nie sy inkomste verhoog nie, terwyl internasionale lugvaart van krag tot krag gegaan het en die afgelope tien jaar agtereenvolgens stewige winste behaal het. Kostes by die SAL, veral die salarisrekening, het egter aanhou toeneem en verliese het opgestapel.

Afgesien van onbeholpenheid in die algemeen, is die grootte van die SAL se arbeidsmag een van die kernprobleme wat dringend aandag verg. Produktiwiteit in die lugvaartbedryf word onder meer deur die verhouding van inkomste tot aantal personeellede gemeet, met ’n huidige internasionale gemiddeld van R7,9 miljoen. Dit is meer as 50% hoër as die SAL s’n.

Op die oog af blyk daar net twee opsies te wees: likwidasie of sakeredding. Laasgenoemde is pas deur die vakbond Solidariteit aangevra en kan dalk uiteindelik ’n oplossing bied, veral in die lig van die verskeidenheid van kostesentrums wat by die SAL aanwesig is.

Sakeredding bied die geleentheid vir kompromieë tussen die regering en die SAL se ander belanghebbendes.

Sakeredding bied die geleentheid vir kompromieë tussen die regering en die SAL se ander belanghebbendes, aangesien agt verskillende bedryfseenhede afsonderlik beoordeel kan word. Hulle is: internasionale, plaaslike en streeksroetes (vir passasiers), vragvervoer, tegniese dienste, laekostevlugte (Mango), voedsel en verversings (Air Chefs) en die lojaliteitsprogram (Voyager).

As sakeredding sou plaasvind, sal praktisyns aangestel moet word wat bedrewe is in al die aspekte van handelslugvaart, veral op die gebied van finansiële bestuur en handelsreg, aangesien voorwaardes in die huurkontrakte van nuwe vliegtuie bestaan wat tot die onmiddellike terugbetaling van alle skuld kan lei – na raming meer as R60 miljard.

Daarom is die opsie om die SAL se bedrywighede in hul geheel te staak, ook een wat die regering sal oorweeg.

Indien ’n reddingsplan egter met die nodige omsigtigheid benader word, kan dit bes moontlik ’n kombinasie van privatisering, vennootskappe met die private sektor en die behoud van staatsbesit van die SAL-handelsmerk insluit.

Dit sal die stempel dra van pres. Cyril Ramaphosa se geduldige benadering jeens die volgehoue herstel van sakevertroue en ook ’n bydrae lewer tot die tesourie se reuse-taak om die land se staatsfinansies te stabiliseer.

Standpunt

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.