Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sal optimisme donker verdryf?

Seker nog selde tevore kon ’n skrywer so oortuig gewees het dat die tydsberekening van die publikasie van sy boek so týdig is soos wat Jan-Jan Joubert, skrywer van Gaan Suid-Afrika oukei wees?, die afgelope week moes wees.

Heindrich Wyngaard

Die een oomblik sit en lees ek nog dié skerp politieke brein se jongste aanbod met die elektriese lig aan, en letterlik die volgende oomblik sit en skryf ek by kerslig aan dié rubriek.

Dit is omdat beurtkrag ons begin vandeesweek behoorlik oordonder het. Waar ons voorheen net aan fase 2 en 4 van beurtkrag gewoond was, het Eskom verbruikers Maandag met ’n allemintige fase 6 die stuipe laat kry.

Wat die beproewing boonop vererger het, was dat dit geskied het te midde van die voortslepende droogte in groot dele van die land én onverwagse oorstromings wat Gauteng getref het.

Jy kan daarby die konstante voeg: ongoddelike hoë werkloosheid; gedurige voorvalle van geweldsmisdaad; groeiende ongelykheid; deurlopende verslae van swak dienslewering, bepaald op plekke waar die armstes veronderstel is om verligting van hul armoede te moet geniet; en dan boonop ’n staatshoof wat lyk asof hy die wêreld se tyd het om probleme op te los.

Terneergedruktheid is ’n onderbeklemtoning van ons huidige nasionale gemoedstoestand. En daarom die relevantheid van die vraag op almal se lippe, na oudkollega Joubert se boektitel: “Gaan Suid-Afrika oukei wees?”

Teen hierdie tyd bestaan daar sekerlik die indruk by groot getalle landsburgers dat ons nié tans “oukei” is nie. Die verdere vraag is dan of die stand van ons land vorentoe gaan verbeter.

Nou deel die politieke weervoorspellers ons mee dat ons dae net donkerder gaan raak, selfs met ’n nuwe Eskom-uitvoerende hoof...

In pres. Cyril Ramaphosa se dringende intervensie eergister nadat hy sy besoek aan Egipte kortgeknip het, het hy ’n vlam van hoop laat ontsteek deur Eskom so ver te kry om te belowe dat geen beurtkrag vanaf 17 Desember tot ná die feestyd ons te beurt sal val nie. ’n Pleister op die bloeiende wond.

Maar dit het nie noodwendig Rama­phosa se gewildheid laat styg nie – en dit is te begrype. Hoe anders as hy op die dag van die berugte fase 6 nog liries getwiet het oor ’n besoek wat hy aan die Medupi-mislukking gebring het?

Wat weet hy werklik van die stand van ons elektrisiteitsituasie as hy steeds landuit is, terwyl Eskom rééds beurtkrag ingestel het?

Ramaphosa is weliswaar deur sommige, soos die ouddiplomaat Dawie Jacobs, vir goeie leierskap geprys omdat hy wel teruggekeer het huis toe. Dié kompliment kom hom toe – juis ook omdat hy die nasie vir die krisis om verskoning gevra het.

Hier aangekom, het hy egter ongelukkig weer – in ons streektaal – “sy mond verby gepraat” deur die gebruik van twee “s”-woorde: 1) dit was vir hom ’n “skok” dat fase 6 ons getref het, en 2) “sabotasie” was deels daarvoor verantwoordelik.

Wie is die president se raadgewers, word gereeld gevra. ’n Mens sou daarby kon voeg: Of word hy doelbewus ondermyn deur die oorblyfsels van die Nkandla-ninjas?

Nou deel die politieke weervoorspellers ons mee dat ons dae net donkerder gaan raak, selfs met ’n nuwe Eskom-uitvoerende hoof, André de Ruyter, wat in Januarie diens aanvaar.

Maar ek verkies optimisme en om soos Joubert te glo dat ons wél “oukei” gaan wees, dat “alles sal regkom as elkeen sy plig doen” – individue sowel as die owerheid.

Soos dr. Theuns Eloff ons ook in sý boek Wat nou, Suid-Afrika? (Tafelberg, 2016) herinner, is ons immers almal “saam in die boot”. Ons kan dus nie die een die ander verwyt as die boot aan die ánder kant lek nie.

  • Wyngaard is ’n sosio-politieke kommentator.
Meer oor:  Heindrich Wyngaard  |  Eskom  |  President  |  Meningsberig  |  Kragkrisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.