Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sal vlagverbod die nasie bou?
Heindrich Wyngaard.

Miskien moet hierdie rubriekskrywer met sy teenstrydige politieke verlede laaste praat, maar die Gelykheidshof se uitspraak oor die ou landsvlag pla.

Die groot vraag wat dit laat, is of dit Madiba se goedkeuring sou wegdra dat die aansoek juis deur die Nelson Mandela-stigting gebring is.

En die groot ongemak wat dit meebring, het te make met ’n selfs groter vraag: Ná die vlag, wát volgende?

Die hof het die stigting en die Menseregtekommissie (MRK) gelyk gegee dat die verheerliking (“gratuitous display”) van die vlag op haatspraak neerkom. Die uitstalling daarvan sou duidelik bedoel wees om seer te maak en haat teenoor swart mense aan te blaas.

Ongetwyfeld is daar hierdie soort bedoeling by sekere mense wat die vlag vertoon – sê maar in ’n kroeg waar slegs wit mense verwelkom word – en dán moet hierdie agterlikheid ontbloot en gestraf word.

Maar wanneer die vlag byvoorbeeld geswaai word by ’n Springbok-wedstryd – nie meer ’n ras-eksklusiewe span nie, maar ietwat meer verteenwoordigend van ons land se mense – behoort ons gewoon dié lawwigheid van vasskoppers teen verandering af te lag.

Nou wankel Madiba se saambindende benadering van ou simbole met rus laat en nuwe simbole bou.

Die hof beperk die “geldige” vertoon van die ou vlag nou tot “joernalistieke, akademiese en artistieke uitdrukking” en slegs as dit “in belang van die publiek” is. Word hier rekening gehou daarmee dat regsgesindes tog ook by wyse van “joernalistieke, akademiese en artistieke uitdrukking” en “in belang van [’n sekere deel] van die publiek” die vlag sou kon verheerlik?

Om die slaggate te beklemtoon moet jy net luister na die aandrang uit EFF- en ander oorde dat die gedeelte van “Die Stem” uit die volkslied gedoof word. Dit is nie nuut nie, en dit is boonop een wat wyd gehuldig word.

In lewe het Madiba egter daarop aangedring dat die volledige lied – met “Die Stem” én “Nkosi Sikelel’ iAfrikadaarin – deur álmal gesing word. En toe die ou vlag by 1995 se Rugbywêreldbeker-eindstryd in die stadion geswaai is, het hy dié stiksienige optrede met ’n sterk versoenende gebaar teëgewerk deur die Bok-trui oor sy kop te trek.

Nou wankel sy saambindende benadering van ou simbole met rus laat en nuwe simbole bou. En die stigting wat sy naam moet eer, sing voor in die koor. Maar hoe gereeld hoor jy die stigting uitpraat oor hedendaagse vergrype teen arm swart landsburgers, hulle wat steeds die gevolge van apartheid die ergste aan die maag voel?

Dit sal die onheilige drie-enigheid van vlag, Van Riebeeck en Verwoerd voltooi, maar sal dit lewens verbeter en die nasie bou?

Die vertoon van die ou vlag kan tog nie jou menswaardigheid meer skend as armoede, swak dienslewering, sterftes in noodgevalle-afdelings in staatshospitale, en om die grootste deel van jou maandelikse inkomste aan vervoer na jou werksplek te bestee nie.

Of is die ou vlag slegs maar die eerste steen? Sal die stigting en MRK nou ook toeslaan op elke straat, buurt of baken wat nog die name Van Riebeeck en Verwoerd verheerlik? Dit sal die onheilige drie-enigheid van vlag, Van Riebeeck en Verwoerd voltooi, maar sal dit lewens verbeter en die nasie bou? Praat van politieke teenstrydigheid.

Stil jy, sal sommige sê, gedagtig daaraan dat sommige van ons in apartheid onder die Federasie-vaandel aan die kant van dr. Danie Craven se “wit establishment” ons klubrugby gespeel het.

En dat terwyl ons ook vir die vrylating van Madiba betoog het, ons uiteindelik weens ons afkeur aan ’n voortgesette eenparty-oorheersing vir FW de Klerk in die 1994-verkiesing gestem het.

Die Mandela-stigting kan gerus ophou karring aan ou simbole en eerder fokus op vergoeding vir vroeëre vergrype, soos die uitwis van ons inheemse groepe en die sonde van slawerny.

  • Wyngaard is ’n kommentator oor aktuele sake en ’n televisieaanbieder.
Meer oor:  Heindrich Wyngaard  |  Apartheid  |  Nasie Bou  |  Die Stem  |  Vlagverbod
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.