Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sampie wat so lekker kon lag laaste bult oor
Annemarie van der Walt

Die lang, regop man met die breë skouers wat bo die meeste ander mense uittroon, het ek nie geken nie. Wel die man wat met ’n kreeftegang op twee krukke oor die weg moes kom en vir wie elke tree en trap ’n uitdaging was.

Dit was dieselfde man, en hy kon soms oor die vreemdste goed lag, so ’n ietwat sardoniese hugge-hugge. Hy was die man oor wie Chris Barnard geskryf het in onder meer die kortverhale “Lag jy, Sampie?”, “Broers” en “My broer se kraai”. Die broer “groot van gebeente en tenger van gemoed. Ons twee val uit dieselfde appelboom . . .”

Chris het hom Sampie genoem, die meeste ander mense Sam, en soms het iemand selfs met Samuel gepraat. “Oom Samuel, lúíster nou en doen wat ek sê,” het die jong fisioterapeut hom nog Desember laas jaar aangepraat, maar hy was in ’n knorrige bui en nie baie lus vir die gefoeter met sy onwillige bene nie.

So dun soos my voorarm was sy bene onderkant die knieë; jare lank reeds heeltemal te tingerig om sy rysige gestalte te dra.

Einste knokkelknieë is kleintyd nerf-af gespeel op die Laeveldse granietkoppe toe die plaas Boschrand nog ver in Nelspruit se buitewyke was.

Hy was nou die dag weer op daardie kop, wys Sampie op ’n dag lank gelede van die restaurant se stoep tot daar waar die koppie net-net uitsteek agter Makro en so skrams langs die hoofweg waarop die vragmotors brullend verbysnor.

“En, hoe lyk dit nou?” was Chris se vraag, maar dit het nie gelyk asof hy regtig wil weet nie. Want dit sou ánders wees, en iemand wat so gereeld sy sentimentele onderrok vasgetrap het soos Chris, wou dit nie aldag weet nie.

“So wragties,” antwoord Sampie, “is van daardie paadjies wat ons gebou het nog daar. En die papajaboom en die hibiskus en . . .”

‘Wat is dit?’ vra ek. ‘Nee,’ sê hy, ‘sommer maar.

Ek het nie regtig meer geluister na wat presies alles die broers onthou nie, want as ’n mens self aan ’n nostalgie ly vir dinge wat selfs voor jou eie aardskap bestaan het, is dit soms te erg.

Pleks daarvan het ek maar so na die twee broers gekyk, maar ook nie eintlik hul hande met die oumens-lewervlekke of die stadige manier waarop hulle die koffie omroer of die bosserige wenkbroue wat weliger saam met die ouderdom word, gesien nie.

Want tussen die twee was daardie ding van broers wat mos net ís, soos Chris self geskryf het: “Eers toe ons deur die spruit is en die laaste lang bult vat, grinnik Sampie skielik.

“ ‘Wat is dit?’ vra ek. ‘Nee,’ sê hy, ‘sommer maar.’

“En ek kry sommer lus en vererg my weer. ‘Sommer wat?’

“ ‘Jy kan nie stry nie, Krisjan,’ sê hy, ‘ons het darem wragtie vanmiddag lékker baklei!’

“Toe lag ek. En so lag-lag is ons die bult uit.”

Sampie is eergister die laaste lang bult in die lewe oor. Ek wed Chris het hom ingewag, só gekyk toe hy sonder sy ewige krukke daar aankom, en gevra: “Lag jy, Sampie?”

Meer oor:  Annemarie Van Der Walt  |  Chris Barnard  |  Sampie  |  Sielsgoed  |  Menings  |  Lag  |  Herinneringe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.