Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sandy van Hartswater en die Porsche Type 64
Heinz Mödler

Toe jy Sandra dekades later vir ete kry, kan jy nie glo sy is jou skoolmaatjie van ouds wat pouses saam met jou tou gespring het nie.

Die bure se dogter op Hartswater kan nie meer Afrikaans praat nie. En toe sy om jou onthalwe probeer, is dit met so ’n swaar Engelse aksent dat jy beswaarlik ’n woord kan verstaan.

Terwyl jou mond van verbasing oophang, vra sy jou om haar “San-dy” te noem, en wink die kelner nader vir die vegetariese spyskaart. Sy eet mos nie meer vleis nie.

Mense wat skielik met ’n vreemde aksent begin praat, ly dalk aan vreemde-aksent-sindroom (VAS).

Anders as Sandy se doelbewuste wegbeweeg van haar heimat, kan mense wat aan VAS ly, nie verhelp om so te praat nie.

’n Persoon met VAS raak op ’n oggend bloot wakker en begin sy of haar moedertaal met byvoorbeeld ’n swaar Chinese aksent te praat. Die familie staan verstom en die hond is onrustig.

Mense wat skielik met ’n vreemde aksent begin praat, ly dalk aan vreemde-aksent-sindroom (VAS).

Dokters wat bewus is van hierdie sindroom, stuur die pasiënt vir ’n breinskandering en die diagnose word bevestig wanneer die ondersoek ’n beroerte of selfs ’n breintumor toon.

Sou dit vir chirurge moontlik wees om die breintumor te verwyder, verdwyn die vreemde aksent daarmee saam.

Die algemeenste rede vir VAS is ’n beroerte. Gelukkig verbeter die meeste pasiënte ’n paar maande ná die insident namate die swelling in die brein minder en minder raak.

Maar nie almal se toestand verbeter nie, en daar is VAS-lyers wat vir die res van hul lewe met hierdie aksent moet vrede maak. Soos Sandy. Behalwe natuurlik wanneer sy refleksief skrik, en haar Engelse woorde vergeet.

’n Vreemde aksent kan baie probleme veroorsaak. ’n Week of wat gelede is die enigste oorblywende Porsche Type 64 ter wêreld deur die afslaers Sotheby’s in Monterey, Amerika, opgeveil. Hierdie unieke motor wat deur Erwin Komenda ontwerp is en glo die persoonlike ryding van Ferdinand Porsche was, word allerweë beskou as die voertuig wat in 1939 die glorieryke era vir Porsche as ren- en sportmotor ingelui het.

Dit het nie lank geneem voor die veiling in ’n chaos ontaard het nie.

Versamelaars van oral het begin kwyl om hierdie aankoop in hul motorhuis te parkeer. Die bieëry is op ’n konserwatiewe $13 miljoen afgeskop, en met inkremente van $1 miljoen opgestoot namate die kopers hul beursies begin oopmaak het. ’n Prys van $20 miljoen het gewink.

Sotheby’s se Nederlandse afslaer het ’n vreemde – en swaar – aksent, wat beteken het sy “13” klink baie soos ’n “30” en elke $1 miljoen-verhoging van die bod, klink soos ’n $10 miljoen-verhoging.

Dit het nie lank geneem voor die veiling in ’n chaos ontaard het nie.

Terwyl die afslaer van mening was dat die $17 miljoen-kerf bereik is, het die skerm agter hom gewys die laaste bod was vir $70 miljoen. Want dit is hoe dit vir almal klink.

Die grootkoppe van Sotheby’s het summier die handdoek ingegooi en die veiling gekanselleer om die dag (en hul aansien) te red.

Dalk moet hulle met die volgende veiling vir Sandy van Hartswater kry om die bieëry te behartig. Sy is mos eintlik Engels.

  • Dr. Mödler is ’n medikus, skrywer en kunstenaar van Kaapstad.
Meer oor:  Sotheby's  |  Porsche  |  Gedrag  |  Medies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.