Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sarel van der Walt: ‘Groot geld na Pta se townships’

Daar was ’n bitterheid onder ANC-lede by die nuwe DA-beheerde Tshwane se eerste stadsraadsvergadering, skryf Sarel van der Walt. 

Sarel van der Walt

Daar wag ’n interessante – én waarskynlik onstuimige – paar jaar op die Tshwane-metroraad in Pretoria.

Dít was Vrydag reeds op die eerste vergadering van die nuwe raad duidelik.

Op dié onstuimige vergadering, die eerste sedert die munisipale verkiesing op 3 Augustus, is die raadslede ingesweer en ’n nuwe burgemeester, speaker en hoofsweep verkies.

Die openbare galery was tot oorlopens toe vol en ’n aangrensende saal waar die publiek op televisieskerms die gebeure kon volg, was gepak.

Selfs die voorportaal van die Sammy Marks-konferensiesaal was vol mense.

Ondersteuners van die DA, die ANC en die EFF, wat die eerste keer in die raad verteenwoordig word, was in groot getalle teenwoordig.

Die DA se Solly Msimanga, Rachel Mathebe en Christo van den Heever is onbestrede verkies tot burgemeester, speaker en hoofsweep.

Dit volg nadat die DA die ANC, wat vroeër regeer het, met 43,1% van die stemme teenoor die 42,9% by die stembus getroef het.

Die DA het nou 93 verteenwoordigers in die raad teenoor die ANC se 89 en die EFF – wat die magsbalans in die raad hou – se 25.

Dit beteken dat die swepe van die DA en die ANC in die volgende vyf jaar sal moet toesien dat al hul lede in die raad is wanneer daar oor belangrike sake gestem word.

Toe Jason Ngobeni, die hoogs besoldigde stadsbestuurder in die land wat die proses gelei het waarmee die speaker aangewys is, kort hierna sy bedanking aangekondig het, was die tafel gedek vir drama.

Die verwagting was aanvanklik dat die DA die EFF se steun sou benodig om die poste van burgemeester, speaker en hoofsweep te vul.

Toe verras die ANC en benoem nie enige kandidate nie. Waarskynlik omdat hulle besef het hul kandidaat sou in die stof byt.

Mmusi Maimane, die DA-leier, het in die openbare galery saam met DA-ondersteuners gesing en gedans toe Msimanga tot burgemeester verklaar is.

Maar die ANC het ander planne gehad.

Toe Msimanga die verhoog betree om die raad die eerste keer as burgemeester toe te spreek, het die ANC – wat die eerste keer in die opposisiebanke sit – met mening tot die aanval oorgegaan.

Mapiti Matsena, ondervoorsitter van die ANC in die Tshwane-streek, het die aanslag teen Msimanga gelei.

Die nuwe burgemeester is gekoggel en by tye stil gesing. As jy jou oë sou toemaak, sou jy kon dink jy hoor die EFF in die parlement.

Die ANC het ’n punt daarvan gemaak om die DA daarop te wys dat hý (die ANC) 69 van die metroraad se 107 wyke gewen het en die DA net danksy die proporsionele kiesstelsel as die sterkste party bo uit gekom het.

Daar was ’n bitterheid in ANC-geledere te bespeur. Ook in EFF-geledere, waar beledigings gereeld na die ANC geslinger is.

Van die EFF-lede in hul rooi oorpakke het verskeie kere saam met die DA hande geklap. Tog het dié party se Benjamin Disoloane die DA gewaarsku die EFF sal dié party met arendsoë dophou om seker te maak hy regeer goed.

Die EFF het dalk net 11% van die stemme in Tshwane gekry, maar hy sal in die volgende paar jaar ’n baie groot rol speel om die magsbalans hier te bepaal.

Die EFF het dit vroeër al baie duidelik gestel hy sal geen begroting steun waaruit die armes nie die grootste voordeel trek nie.

In praktyk beteken dit groot hoeveelhede geld sal in gebiede soos die Winterveld, Mabopane en Hammanskraal bestee moet word.

Nie net om die infrastruktuur en dienslewering aan dié mense te verbeter nie, maar ook om ’n beduidende getal werkgeleenthede te skep.

Die kwessie van grond kan ’n groot tameletjie word.

Die DA sal die EFF by tye moet paai, want die ANC sal nie maklik met Msimanga se party saamwerk nie en waarskynlik om elke hoek en draai probeer benadeel.

In die ideale wêreld sou ons almal wou hê al die partye moet saamwerk tot voordeel van die inwoners.

Maar dit is politiek en daar wag oor drie jaar weer ’n nasionale verkiesing en oor vyf jaar die volgende munisipale verkiesing.

Msimanga het Vrydagmiddag ná sy vuurdoop as burgemeester op ’n mediakonferensie gesê die DA sal met al die partye oor omstrede sake in gesprek tree voordat dit na die raad gebring word. Sy party is nie naïef oor die enorme uitdagings wat voorlê nie.

Die Suid-Afrikaanse politiek is op die oomblik so vloeibaar dat dit my nie sal verbaas as die politieke speelveld in dié termyn weer sal verander nie.

As die ANC sou besluit om pres. Jacob Zuma (die EFF se Vyand Nommer Een) as partyleier te vervang, kan dit die hele prentjie verander.

My gevoel is soos dié van baie ander, dat as Zuma die dag sy kantoor in die Uniegebou ontruim, baie EFF-lede na die ANC, hul tradisionele tuiste, sal terugkeer.

Dit sal waarskynlik tot die ANC se voordeel wees en kan die magsbalans in die metroraad verander.

Wat wel seker is, is dat die Tshwane-metroraad in die volgende vyf jaar elke laaste Donderdag van die maand politieke teater soos min gaan oplewer.

Hopelik hoef ons nie te lank te wag voordat Tshwane City – wat ná baie jare uiteindelik letterlik en figuurlik uit die as van die ou Munitoria-gebou verrys het – uiteindelik in gebruik geneem kan word.

Die geriewe in die Sammy Marks-konferensiesentrum is nie meer geskik om die verhoog van plaaslike politieke drama in die hoofstad te huisves nie.

* Sarel van der Walt is Netwerk24 se politieke joernalis in Pretoria.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.