Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sarel van der Walt: Ontwikkel swart talent om SA naam hoog te hou
Sarel van der Walt

Baie mense was woedend toe ­Fikile Mbalula, minister van sport, onlangs aangekondig het dat rugby, krieket, atletiek en netbal tot verdere kennisgewing geen ­nuwe internasionale toernooie mag aanbied nie.

Dit is omdat hulle volgens ­Mbalula nie aan hul eie transformasieteikens voldoen het nie.

Die skerp reaksie op die ­minister se besluit het my opnuut laat besef ons Suid-Afrikaners praat baie keer by mekaar verby.

In dié geval is dit dalk omdat hulle so allergies vir die woord kwota is dat baie Suid-Afrikaners dit as sinoniem met transformasie beskou.

Mbalula moet deel van die blaam dra vir die ongelukkigheid oor sy aankondiging.

Hy móés beter gekommunikeer het.

Dit klink nou of hy die vier sportsoorte wil straf, terwyl hy hulle eerder wil help om sterker te word.

Transformasie in sport gaan oor meer as net kwotas.

Dit gaan onder meer oor die ontwikkeling van gesonde bestuurspraktyke, die ontwikkeling van talent, die beskikbaarstelling van sportgeriewe en die opleiding van beamptes en afrigters.

En ook om meer vroue op alle vlakke in sport betrokke te kry.

Dit is almal gebiede waarin Suid-Afrikaanse sport agtergeraak het.

As ons in die toekoms op sportgebied met die bestes in die wêreld wil saampraat, moet ons aan al hierdie aspekte aandag gee.

Dit is van die allergrootste belang dat Suid-Afrikaanse sport in die toekoms van onder na bo ontwikkel word.

Nie andersom nie.

Maar die sportfederasies alleen kan die taak nie aanpak nie. Al drie die regeringsvlakke moet help met die beskikbaarstelling van geriewe. Die sportfederasies se vernaamste taak is om die talent te ontdek en (bekwame) beamptes en afrigters op te lei.

Ongelukkig is daar in hierdie stadium op al drie regeringsvlakke – en in die meeste federasies – ’n gebrek aan vermoë én kundigheid om behoorlike sportontwikkeling te doen.

Die private sektor sal ook betrek moet word, maar dié sektor sal waarskynlik slegs betrokke raak as hulle vertroue in die betrokke sportfederasie het.

Navorsing het gewys 84% van Suid-Afrikaners jonger as 18 jaar is swart. Dit is ’n poel wat nog grootliks onontgin is en al hoe groter word. In hierdie groep lê waarskynlik hope talent wat met die regte ontwikkeling eendag Suid-Afrika se naam op die sportvelde van die wêreld hoog kan hou.

Hoe suksesvoller dié ontwikkeling is, hoe meer gelyk sal die speelveld vir almal (swart en wit) word – en die kwotastelsel irrelevant.

Meer oor:  Sarel Van Der Walt  |  Talent  |  Swart
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.