Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Saterdagoggend by ou Lizzie se begrafnisdiens

Lizzie wat by hulle gewerk het, is mos dood, sê Flip. Haar hart of iets. Sy het vir 11 jaar twee keer ’n week ingekom.

Ons sit in Café Grace, ek en hy. Elkeen met ’n cappuccino. Ons word oud.

Saterdagoggend toe is dit die begrafnis, sê Flip. En Elsa sê ons gaan. Is dit regtig nodig? vra ek. Maar jy ken daardie vrou van my.

Flip vat ’n pakkie suiker uit die bakkie tussen ons, maar skeur dit nie oop nie.

Saterdagoggend toe ry hulle soontoe, sê hy. Dis ver buite die stad, in een van daardie townships wat net groter word.

Hulle ry soontoe, en terwyl hulle ry, kan hy nie help nie om te dink dis die pad wat ou Lizzie moes gery het om by die werk te kom in een van hierdie taxi’s wat so jaag.

o ver ons stap, staan mense op en bied hul stoele vir ons aan. Maar die moruti sê nee, julle sit by ons onder die gazebo. Julle is ons spesiale gaste.

Primrose, Lizzie se dogter, het nogal vir Elsa ’n location na haar foon gestuur, sê Flip. Maar hulle verdwaal, location en al. Gelukkig het hy sy pistool saamgevat.

Later toe kry hulle darem die huis. Dis mense in kerkklere net waar jy kyk. Hy is die enigste een in ’n T-shirt. Hy haal die bos blomme wat Elsa gekoop het uit die kattebak en hulle stap nader. Voor die huis staan ’n lang, blink lykswa, met die kis agterin. ’n Spoggerige kis, man. Donker hout, silwer handvatsels. Jy sou nie sê ou Lizzie in haar pienk uniform en skeefgetrapte skoene lê daarbinne nie.

Flip kyk stip na my. Jirlikheid, my vriend, sê hy. Ek sê vir Elsa kom ons gee net die blomme en ry weer. Maar ’n man in ’n toga kom na ons toe gestap. ’n Moruti. Welkom hier, sê hy. In Afrikaans nogal.

Hulle het van daardie wit plastiekstoele gehuur en in rye gepak. Voor is ’n gazebo opgeslaan waaronder die familie en nog mans in togas sit. So ver ons stap, staan mense op en bied hul stoele vir ons aan. Maar die moruti sê nee, julle sit by ons onder die gazebo. Julle is ons spesiale gaste.

Hulle bring die kis en sit dit op die staander voor die gazebo neer. Toe begin daardie moruti’s preek. Ander kom praat oor Lizzie. In hulle taal. Kort-kort sê iemand amen!

En hy sit daar, sê Flip, en al wat vir hom bekend is, is die tuinstel wat langs die huisie staan, ’n opgebruikte draadstel uit die jare sewentig, wat hulle nog vir Lizzie gegee het.

Toe kyk een van die moruti’s na hom en Elsa, en vra of hulle nie ook iets oor Lizzie wil sê nie. En Elsa stamp aan hom. Hy staan toe maar op, sê Flip. En voor hom sit hierdie mense. Lizzie se mense. Die mans in baadjies, al is daardie baadjie hoe oud. Die vroue met hulle pruike.

In die stof, tussen almal, lê ’n maer hond, so ’n gele. Elke keer wanneer iemand hard roep amen! waai die hond sy stert.

Flip kyk na die voosgevatte pakkie suiker in sy hand.

Hy wens net, sê hy, hy wens net hy het nie so emosioneel daar voor almal geraak nie. Dit was onnodig. Heeltemal onnodig.

Meer oor:  Dana Snyman  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.