Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Saterdagoggend se onvrede by die plaasmark
Annelie Botes

Saterdae is ’n bedrywige dag by onse huis. Dis nie ’n laatslaapoggend nie. Alles wat moet klaar, moet voormiddag klaar. Want Saterdagmiddae het die gryse erbarmingsverlof ter wille van ’n rugbykykery.

Op ’n windstil môre in Augustus is ons vroeg op die stoep met ons oggendkoffie. Die voëls kwetter by die saadbak; ’n vliegtuigstreep hang floiingloos in die blou lug. ’n Mens kan nie dink ons woon in ’n land van storms nie.

Daar en dan besluit ons: Vandag is die dag dat ons die week se kosgoed op die Van Stadens-plaasmark gaan koop.

Tot ons skande was ons nog nooit daar nie, en die gryse reken hy het ’n kans om skaapstertjies, skilpadjies en plaasbrood aldaar raak te loop.

Met vrolike hart en beman met inkopiesakke ry ons St. Albans se kant toe. Voor tienuur ryg die gryse tién skaapstertjies en vier skildpadjies in. Saam met twee groot vetkoeke én ’n koeksister amper so lank soos my voorarm.

Ons ontmoet ou vriende wat Knysna toe verhuis het en wil drie jaar se gesels oor ’n beker moerkoffie inhaal. Die son bak ons gaar, maar ons kry sitplek by een van die tafeltjies onder digte skadubome.

En toe het ons ’n stryd om te gesels. Want ’n entjie verder sit ’n man by ’n stalletjie met drie hondjies aan leibande.

En toe het ons ’n stryd om te gesels. Want ’n entjie verder sit ’n man by ’n stalletjie met drie hondjies aan leibande. Dit kef en blaf onophoudelik; hardloop rond so ver as wat die leibande toelaat.

Kennelik is hy verwant aan die eienaar van die stalletjie, want dit lyk of sy ook doof vir die honde se geraas is.

Gedoriewaar, die man sit met ’n glans van bewondering na sy drie hondekinders en staar. Wend geen poging hoegenaamd aan om hulle stil te maak of in bedwang te bring nie. En die hondegeraas hou eenstryk deur aan.

Eers tóé besef ek waarom die skaduweetafeltjies rondom dié stalletjie so leeg en beskikbaar is. Niemand wíl daar sit nie.

Alles ingereken, mense kom tog plaasmark toe vir ’n oggend van vrede en gemeensaamheid.

Soos teruggryp na die vervloë tyd van Ouma se bakoond. Uitgeswelde rosyne wat op emmers gemmerbier dryf. Koringbrood waarvan die kors botter gesmeer is, toegedraai in brooddoeke. Borriepatats waaraan die grond vassit. Gespikkelde hoendereiers op houtwol uitgepak. Eendvet toegedraai in wakspapier.

Ek wéét dis die man se hondekinders. Maar ek ken niemand wat sal toelaat dat hul kinders so ontwrigtend tekere gaan in ’n openbare plek nie.

Dis immers volslae minagting van markgangers se kaart en transport om ’n buitelugoggend te geniet. Of neem hy sy oorverdowende honde kerk, biblioteek en simfoniekonsert toe ook?

Ons kan toe nie na behore gesels nie. Die gryse koop nog tien skaapstertjies vir huis toe neem. En ons loop. Doer by die motor hoor ons steeds die oorskrapende gekef.

Toe dink ek aan oorlede ouma Anna Grobbelaar van Bedford wat kopskuddend gesê het: “Annelietjie, party mense kan rêrig komieklik wees . . .”

Meer oor:  Annelie Botes  |  Honde  |  Geraas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.