Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wat’s jou storie?
SAUK het nog ’n rol, maar . . .
Wynand HarmseFoto:

Daar was die nuusdekking oor die Tweede Wêreldoorlog, Britse koninklike besoek in 1948, Amerika en Rusland se ruimtevlugte, moord op pres. John F. Kennedy, die Berlynse muur, republiekwording, desimale stelsel, wêreldtitel-boks, onstuimige 1980’s, demokratiese verkiesing, Nelson Mandela se vrylating (’n eie storie agter die storie) en vele meer . . .

Asook befaamde omroepers en aanbieders soos Gerhard Viviers (“Siddie, Siddie, Siddie!”), Esmé Euvrard (“Só maak mens!” saam met Jan), Fanus Rautenbach (president van Flinkveria), Verna Vels (van Liewe Heksie), Dana Niehaus, John Berks (op Radio 5), Karl Kikillus, Alex Jay en Mervyn Johns (op Springbok-radio).

En “uitstekende uitsaaiers” wat ook puik bestuurders was, soos Gideon Roos, Douglas Fuchs, Jan Schutte, Steve de Villiers en Pieter de Bruyn.

Weg van regstreekse programme het dr. Piet Meyer, voorsitter van die SAUK-raad vir twee dekades en Broederbond-leier, ’n stempel op die uitsaaiwese afgedruk. Jan Swanepoel, direkteur-generaal, Doug Mills, hoof-ingenieur, en Theuns van Heerden, danksy sy vestiging van radio- en televisie-dienste in swart tale, was sinomiem met die SAUK.

Moenie die “magic” van advertensies vergeet nie.

Moenie die “magic” van advertensies vergeet nie. Met luisteraars wat tot vandag toe nog klingels onthou, soos “Wie moet ons bedank?”, “Niemand maak beter tee as jy en . . .”, “Die grootste helpende hand in die land”, “Die tongtippie-toets”, “Vingerleklekker”, “Alles loop reg, altyd reg . . .”

Oor dié mense, dinge en baie ander, skryf Harmse in SAUK 1936 – 1995. Ook oor die toekomspad van die organisasie wat hy haarfyn ken. Die subtitel heet Steeds sleutelspeler . . . of bedreigde spesie?

Harmse is uitgeknip om oor die Suid-Afrikaanse radiowese en die SAUK en sy geskiedenis te skryf. Ná binnegevegte het hy in 1988 vir sewe jaar direkteur-generaal (later “groep uitvoerende hoof”) van die organisasie met sy toegang tot die ore, oë en harte van Suid-Afrika se mense geword.

In die voorwoord sê Ton Vosloo: “. . . hy het omtrent die beker met gif gekry: Die oorgang van ’n wit politieke bestel ná die beheer-oorname deur die ANC. Die wagwoord was: transformasie.”

Die SAUK se mense was kwaad vir die regering en die raad oor die wyse waarop Harmse se voorganger, Riaan Eksteen, weg is.
Wynand HarmseFoto:

Die SAUK se mense was kwaad vir die regering en die raad oor die wyse waarop Harmse se voorganger, Riaan Eksteen, weg is en het regeringsmag oor die SAUK met passie verwerp, skryf Harmse. Al was sy aanstelling eers waarnemend, het dit bygedra tot kalmte en het die personeel hom as “volbloed-SAUKaner” beskou wat die organisasie as “kaptein van die skip” bestuur het.

Harmse (Hoërskool Riebeeck, Randfontein; Potchefstroomse Universiteit) het in April 1963 op 23 by die SAUK ingeval ná ’n oproep van Barend du Plessis (studenteraadsvoorsitter en vriend), wat daar gewerk het. Op sy eerste dag het hy in “die binnekring van die leierskorps” ingeval: as administratiewe assistent in die finansiële afdeling.

Op 29 was hy hoof: finansies en op 40 direkteur van finansies en administrasie en lid van die topbestuur.

Oor DG-skap skryf hy: “Die aanloop tot die nuwe politieke bestel, met die ongelooflike druk uit alle poitieke oorde wat daarmee gepaardgegaan het, asook die vryheidsverkiesing van 1994, was ’n intense, moeilike ervaring wat ek vir niks sal wil verruil nie. Inligting hieroor is sekerlik waardevolle geskiedenis.”

Oor die relevansie van die boek nóú sê hy: “In die veranderende tegnologiese wêreld het mededingende uitsaaiers en alternatiewe elektroniese bronne van kennis, inligting en vermaak ontstaan. Toenemende ministeriële gesag oor die SAUK druis in met die voorwaarde van onafhanklikheid.

“En die storie van die SAUK, wat ’n groot rol in die lewens van Suid-Afrikaners gespeel het, verdien om vertel te word. ‘Gister’ en ‘vandag’ hou albei lesse in.” In die boek van meer as 400 bladsye skryf hy oor die geboorte van die openbare uitsaaiwese in Suid-Afrika, stigting van die SAUK en hoe die organisasie hom by die veranderende landskap moes aanpas.

Draadloos was die wonderkind en is steeds “ ’n stuk magic”.

Harmse gaan haal die storie by die tegnologiese ontstaan van die radio uit onsigbare elektromagnetiese golwe. Draadloos was die wonderkind en is steeds “ ’n stuk magic”.

In ’n kantstorie skryf hy hoekom die Titanic danksy radio eintlik gered moes gewees het.

In die eerste kwarteeu – 1936 tot 1960 – is die “note vir die toekoms gelê”. Die koms van Springbokradio en dienste in swart tale was merkstene.

Nee, dis onwaar dat Radio Bantu op versoek van dr. Hendrik Verwoerd ingestel is primêr om apartheid te steun, skryf hy.

Die 1960’s was die “goue jare van radio”. In dié tyd kry die SAUK ook die etiket van Broederbond-beheer weens die Meyer-voorsitterskap. Hy gooi sy “neutrale politieke baadjie oorboord en begin om sy eie vertolking van gebeure op politieke, sosiale en ekonomiese terreine te gee”.

Op ’n vraag bevestig Harmse hy was ’n Broederbonder.

Op ’n vraag bevestig Harmse hy was ’n Broederbonder.

Die 1970’s is deur die koms van televisie gekenmerk. Dat dit meer as 30 jaar ná Westerse lande was, was nie net die skuld van dr. Albert Hertzog, destydse minister van pos- en telegraafwese, nie. Al het Hertzog gemeen “die klein swart boksie” voorspel onheil en morele verval.

Die draad van politieke inligtingsbeheer vleg deur die boek. “Die grootste vyande van ’n instelling wat in 1936 met die beste bedoelinge gestig is, was politici.”

Wynand Harmse vandeesweek in die Drakensberg met Cathkin Peak op die agtergrond. In SAUK 1936 – 1995 skryf hy hoe die SAUK se Brixtontoring (170 m, voltooi in 1962) hom aan sy Drakensberg-stappery herinner het. Hy en kollegas het op ’n keer van die onthaaldek op een van die uitkykplatforms teen die staalmas bo die uitkykplatform uitgeklim. “Nog 70 m bo die uitkykkorf was daar niks om jou nie!” skryf hy. Inlas: Voorblad van SAUK 1936 – 1995. Foto: André le Roux

Harmse skryf as amptelike regeringsbeleid was apartheid ’n gegewe. “Die beskouing van die SAUK se naelstring-verbintenis met die regering en as ’n apartheidspilaar het bygedra tot ’n vyandige media, binnelands en internasionaal.”

Op die vraag hoe die SAUK se plig as onafhanklike, neutrale uitsaaier bemoeilik is deurdat hy ook die spreekbuis van apartheid was, antwoord Harmse metafories.

“As mens na die SAUK se apartheidspolisie van destyds moet gaan soek, gaan jy dit nie in die toeskouer-pawiljoene vind nie, maar tog wel op die speelveld. Een van die doelskieters of die doelwagter?”

Hy kyk ook na “wat apartheid aan die SAUK en sy luisteraars gedoen het”. Een intense klaer het ’n bruin seuntjie in Orkney Snork Nie as “die dun ent van die wig” beskryf. Eerwaarde Allan Hendrickse se uitdagende swem op die “blanke hoofstrand” in Port Elizabeth het ’n dilemma vir verslaggewing geskep.

“Die hoofberig hieroor – ingevolge nuuswaarde – het tot ’n woede-uitbarsting deur die NP-regeringsleier (PW Botha) gelei en hy dank vir Koedoe Eksteen telefonies af. Sjoe! ’n Hoogvat en boonop ’n ‘rooi kaart!’ ”

Max du Preez het spottend na my as die Tuynhuys-muis verwys.
Oud-nuusleser Johan Pretorius

Harmse haal Johan Pretorius, ’n destydse nuushoof, aan wat meen “redelike gebalanseerde nuusdekking” het geskied. Pretorius (as politieke beriggewer) het gekla: “Max du Preez het spottend na my as die Tuynhuys-muis verwys.”

Daar was oproepe van Pik Botha, as minister van buitelandse sake, aan die SAUK en ’n aanval van oudpres. FW de Klerk op die SAUK – oor politieke bevooroordeeldheid – in 1994 (voor die verkiesing).

Harmse meen die SAUK was “volkome deel van die aanloop tot transformasie”.

Hy het Zwelakhi Sisulu as sy “spesiale assistent” gewerf, maar met die oog daarop om by hom oor te neem. “Die politieke kragte en magte het verskuif; dit was ’n werklikheid. Ek wou ’n ordelike oorgang na die nuwe bestel bewerkstellig.”

Oor die “sirkusjare” van Hlaudi Motsoeneng volstaan hy daarmee dat dit ’n onoordeelkundige aanstelling was en soos ’n Griekse tragi-komedie verloop het.

Harmse sluit die boek af met ’n perspektief oor die openbare uitsaaier vandag.

Oor die “sirkusjare” van Hlaudi Motsoeneng volstaan hy daarmee dat dit ’n onoordeelkundige aanstelling was en soos ’n Griekse tragi-komedie verloop het met groot skade aan die SAUK se beeld. ’n Groot verskil van die SAUK tóé en nóú is dat die struktuur van sake-eenhede wat prestasie aanmoedig en swak skakels uitwys, laat vaar is.

Op ’n vraag oor RSG sê hy die enigste Afrikaanse nasionale radiostasie verdien ’n pluimpie vir sy moed om landskwessies op die debatsagenda te hou. Dit bly ’n anker van die Afrikaanse taal, maar die eksklusiwiteit het verdwyn. Dit is nou ’n radiostasie vir alle Afrikaanssprekendes.

Of die SAUK steeds ’n rol het? “Ongetwyfeld ja, maar die organisasie en die konsep van openbare uitsaai sal eerbiedig moet word. Politici dink die SAUK is soos ’n staatsinstelling en behoort aan die regerende party, terwyl dit eintlik in diens van die land bedryf moet word.”

Die artikel is geskoei op ’n boekgesprek wat Coetzee met Harmse op die Vrystaat Kunstefees gevoer het, asook op vrae agterna. SAUK 1936 – 1996 word deur Naledi uitgegee.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.