Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Schadenfreude’ oor kamerade in boeie

Onlangs stuur ds. Jurie Schoeman van die Aan die Berg NG gemeente in Johannesburg-Noord ’n positiewe reaksie oor ’n vorige rubriek.

Hopelik loop hy dié een mis, want om schadenfreude te beleef, is eintlik nie mooi nie.

Barnard Beukman

Terwyl ons so in die verwante tale is, is die raakste betekenis van die Duitse woord in Nederlands te vinde: “Leedvermaak, plezier beleven aan de schade (het nadeel, het verlies) van een andere partij, aan de tegenslag die iemand anders heeft.”

Maar Suid-Afrikaners is ook net mense en ek wil pleit dat hulle waarskynlik nie die sondepleging kon verhelp deur so te voel toe die Valke die afgelope week toegeslaan het nie. En hoe.

Waarskynlik ’n sonde waaraan pres. Cyril Ramaphosa ook vandeesweek skuldig was. Nie net was hy die afgelope twee jaar die hoofteiken van die skurke nie, maar ook in die visier van almal wat gereken het dit is sy skuld dat daar nie opgetree word teen die kaping van ’n hele staat nie.

En vandeesweek skop dit toe in. Die begin van die “slegte nuus vir die pessimiste”, soos die ekonoom dr. Roelof Botha die psige van vele van ons volksgenote onlangs raakgevat het.

Ná ’n moeilike wegspring om die nasionale vervolgingsgesag te red uit die kloue van die JZ-agente in die gange, reg toe te rus en standhoudende sake te bou, het die span onder advv. Shamila Batohi en Hermione Cronje hul staal begin wys.

Maar hef aan lê nog voor. Tot nou toe lyk dit na topsakemanne en top- voormalige staatsamptenare wat gegryp word, maar net middelvlak-politici. Suid-Afrikaners wil die baasbreine agter die rooftog van die jong eeu ook in boeie sien. En van hulle sit in die kabinet en ANC-hoofkantoor.

Gaan die klomp bloot sit en wag totdat die Valke kort voor ontbyt toeslaan of gaan hulle proaktief terugslaan? In die ANC voer hulle al maande lank ’n sterk aanslag teen Ramaphosa se leierskap en het hulle dit reggekry om verskeie van sy kernbeleidsinisiatiewe te vertraag.

Hopelik gaan die land se regters ook help dat die nodige momentum in die howe gehandhaaf word.

Aanduidings is dat Ace Maga­shule, die organisasie se hoofverdagte in staatskaping, se fut grootliks uit is. Maar daar is steeds die sluimerende gevaar van benoude katte wat benoude spronge kan doen ten einde te oorleef. Dit is dus moontlik dat ons ’n tydperk ingaan wat nie sonder politieke gevaar is nie.

Dan is daar nog die staatska­pingsmafia se ringkoppe, die Gup­ta-broers, waarvoor uitlewering al by Dubai gevra is. Niemand sal seker in dié stadium ’n enkele rand op die moontlike sukses van die aansoek wil wed nie. Maar dit bly die hoofprys.

Jacob Zuma, hul plaaslike “Awuleth’ um­shini wami”-sanger, het reeds meer as genoeg regsprobleme. Maak nie saak hoe hy teenskop, ontwyk, uitstel en martelaar probeer speel nie. Die laaste dans van sy partytjie is reeds aangekondig.

Hopelik gaan die land se regters ook help dat die nodige momentum in die howe gehandhaaf word. Dit sodat geregtigheid binne redelike tyd kan geskied. Die burgery ervaar nie jare lange uitstel en vertragingstaktiek as geregtigheid nie. Dit het ten regte of onregte deel van ons strafregstelsel se DNS begin word.

Intussen kan Ramaphosa sy deel bly doen deur toe te sien dat die vervolgingsgesag voldoende bronne het. En om nie te swig onder die politieke drukkoker wat gaan opbou in die grootliks misdaadorganisasie wat hy lei nie. Nou, meer as ooit, moet hy Suid-Afrika en ’n “beter lewe vir almal” eerste stel.

  • Beukman is Beeld se redakteur.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.