Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Schweizer: Dure les oor persepsies

Die verkiesing is op hande en skoolgemeenskappe is dus onder die vergrootglas, skryf Chris Klopper.

Elana Barkhuizen het op ’n mediakonferensie onderneem om terug te veg. Foto: Deaan Vivier

Die stof oor Schweizer-Reneke het nog lank nie gaan lê nie. Daar is reeds dure lesse hieruit geleer en gemeenskappe, skole en onderwysers sal daarvan kennis moet neem en hul benadering tot skole en onderwys daarvolgens moet rig.

Dit is ’n verkiesingsjaar en onderwys sal deur politieke partye vir eie gewin misbruik word. Ten spyte van breedsprakige uitsprake, sal hul optrede nie noodwendig in die beste belang van onderwys wees nie.

Dit is algemeen bekend dat wysigings aan die Suid-Afrikaanse Skolewet voorsien word wat die drastiese inperking van die beperkte outonomie van beheerliggame ten doel het. Dit is duidelik dat Schweizer-Reneke die katalisator van die versterkte aanslag op skole as openbare skole kan wees.

Die oorspronklike doel van die Skolewet was om weg te beweeg van die pre-1976-model van staatskole tot dié van openbare skole en om gemeenskappe in staat te stel om deur middel van hul beheerliggame skole as verlengstukke van die demokratiese waardes en norme van dié gemeenskap te vestig.

Onderwysbesluitnemers is vergiftig deur die emotiewe media-aanslag en die uitsprake van senior onderwyslui en politieke partye – daarom sal ’n kentering van die beoogde wetswysigings moeilik kan plaasvind.

Skole en onderwysers sal opnuut die bestuur van klaskamers en lesaanbiedings met ’n uiters kritiese oog moet bejeën.

Die benadering van die Laerskool Schweizer-Reneke maak uit ’n pragmatiese perspektief baie sin, maar dit is duidelik dat onderwyskundige argumente nie maklik deur ’n kwaadwillige onderwysdepartement wat deur ’n subjektiewe politieke bril kyk, op meriete aanvaar sal word nie.

Die euwels en misbruik van sosiale media moet ongetwyfeld verreken word.

Skole, ouers en opvoeders sal liefs in die toekoms dubbel en dwars moet seker maak dat enige boodskap of foto in dié hoogs gelaaide politieke omgewing sal oorleef.

In dié geval is ’n dure les geleer van hoe maklik selektiewe boodskappe vir selfsugtige oogmerke misbruik kan word.

Die stereotipering van Afrikaanse gemeenskappe en die weerlê van wanpersepsies is steeds ’n gerieflike stok om gemeenskappe soos Schweizer-Reneke voor stok te kry. Enige poging van ’n minderheidsgemeenskap om ’n skool verteenwoordigend van ’n bepaalde karakter te vestig, sal doelbewus misinterpreteer en verdraai word.

Hoe hierdie wanpersepsies omgekeer kan word, sal die wysheid van Salomo verg.

Dit is egter duidelik dat minderheidsgemeenskappe sonder om net goedsmoeds te kapituleer, werklik diepsinnig sal moet be­sin oor hoe om persepsies te pak.

Chris Klopper

As die ondersoekmetodiek van Noordwes se onderwysdepartement as maatstaf geneem word, is dit eweneens duidelik dat onderwyspersoneel nie hul vertroue in hul werkgewers moet vestig nie. Die populistiese eise van die onbeskofte betogers het veel meer gewig gedra as die belange van opvoeders.

’n Bekwame onderwyseres wat nie eens die kleur van haar leerlinge raaksien nie, is opgeoffer sonder om ’n oog te knip of haar arbeidsregte te verreken. Daar word verneem ’n heksejag teen ander personeellede is voorhande. Dit is daarom duidelik dat vakbonde se rol ter beskerming van onderwyspersoneel teen intimidasie en magsmisbruik eksponensieel in kompleksiteit sal toeneem.

Daar is verwag dat ’n ewewigtige en onderwysgefundeerde departement onmiddellik sou optree toe betogers die skoolterrein onwettig betree en klein leerlinge paniekbevange raak. Daarenteen is die pandemo­nium misbruik om hul politiek gedrewe agenda te bevorder. Verder was dit insiggewend dat hulle beswaar gemaak het teen die aanwesigheid van wagte ter beskerming van die skoolterrein, leerlinge en personeel.

Dié eenogige benadering is waarskynlik die hoofrede waarom die meeste skole in die provinsie so swak vaar. Enige skool wat ondanks groot uitdagings goed presteer, verhoog waarskynlik net die verleentheid om onderwys in den breë reg te ruk.

Die realiteit is dat verkiesings in Mei gaan plaasvind. Dit is baie duidelik dat skoolgemeenskappe onder die vergrootglas is en dat hulle uiters versigtig met huidige praktyke en uitsprake sal moet omgaan. Geen misstap sal oorgesien word nie.

  • Klopper is uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysunie.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.