Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Schweizer: G’n konteks – en kinders ly

Gewone Suid-Afrikaners hoef nie toe te laat dat mense in magsposisies hulle boelie nie, skryf Dirk Hermann.

elana barkhuizen
Elana Barkhuizen, onderwyseres van Laerskool Schweizer-Reneke wat geskors is. Dirk Herman, bestuurshoof van die vakbond Solidariteit praat op 'n gesamentlike mediakonferensie met Barkhuizen oor die onlangse gebeure by dié dorp se laerskool. Solidariteit kondig regstappe aan om die onregmatige skorsing van Barkhuizen op te hef. Die vakbond kondig ook sekere stappe aan na aanleiding van die optrede van Noordwes se LUR vir onderwys, Sello Lehari. Foto: Deaan Vivier

Elana Barkhuizen is ’n mamma, getroud en het twee klein kindertjies, bly op ’n plattelandse dorpie en is ’n baie goeie juffrou. 

Die ouers het reeds twee dae voor die tyd ingekom om te kom kyk na die klassies en waar hul kindertjies sit. ’n Ouer van een van die swart kindertjies het met Barkhuizen baklei omdat hy nie afslag op sy skoolgeld kon kry nie. 

Tydens die eerste skooldag vir gr. R’e is almal maar bang. 

Kindertjies huil en ouers huil selfs meer. 

Vanjaar, soos die laaste paar jaar, is kindertjies ingeskryf wat nie Afrikaans of Engels kon praat nie. Vanjaar het Elana haar huiswerker gebring om te help tolk. 

Elana hou al 15 jaar skool en die een ding wat sy baie goed weet, is hoe belangrik dit is om kindertjies die eerste dag veilig te laat voel sodat hulle met mekaar kan speel.

Die tweede ding van so ’n eerste dag is dat ouers gemaklik moet voel. Elana het vier foto’s op ’n geslote WhatsApp-groep gestuur om te wys die kinders is rustig.

Op die eerste foto sit ’n groepie swart kinders bymekaar – nie omdat hulle swart is nie, maar omdat hulle Tswana is, met mekaar kan praat en dit prakties vir die tolk is om met hulle te praat. 

Dit was aan die begin van die dag. Kort daarna word ’n tweede foto geneem en die kindertjies speel almal gelukkig saam. 

Toe breek alle hel los. Die een foto vlieg op die sosiale media rond, met geen konteks nie.

Op ’n foto in Elana se eie klas hou een van die swart kinders ’n duim, met ’n groot glimlag, hoog in die lug. 

Net die eerste foto is later wyd op sosiale media versprei. Die volle prentjie vertel egter ’n verhaal van twee juffrouens op die platteland wat in ons komplekse Suid-Afrika, kindertjies, swart en wit, veilig laat voel het en saam laat speel het. 

Hulle verdien ’n prys. Hulle moes die onvermoë hanteer van die staat en spesifiek die onderwysdepartemente om ’n antwoord te kry op die komplekse vraag van diversiteit en moedertaalaanbod. 

Dieselfde ouer wat gegrief was oor hy nie afslag gekry het nie, kla toe aggressief oor die foto. 

Toe breek alle hel los. Die een foto vlieg op die sosiale media rond, met geen konteks nie. 

Die volgende oggend daag die LUR met ’n getrompetter op. ’n Jillende skare trek in die skool saam. Die LUR (Sello Lehari) kondig aan: “My besluit is dat Elana Barkhuizen met onmiddellike effek geskors is.” 

Hy is nie eens haar werkgewer nie; die skool se beheerliggaam is. 

Toe is dit chaos; betogers wil van buite die terrein betree. Die skool moet ontruim word. Elana is nog binne die terrein. Hulle het haar naam. 

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.Foto: Mary-Ann Palmer

Van die betogers klim oor die drade. Haar klas se kindertjies is histeries. 

Van die ouers kom haal hulle, ander word in karre na ’n veilige plek geneem terwyl hulle hartstogtelik huil. Een van die laaste histeriese kindertjies wat sy vashou en veilig laat voel, is die kind van die ouer wat gekla het oor die skoolgeld. 

Al die gelukkige kindertjies van die vorige dag se geluk is weg, maar niemand praat daaroor op sosiale media nie. 

Van toe af is Elana, die goeie juffrou, ’n rassis. 

Elana het besluit om die groot staatsboelie aan te vat. Sy gaan teen haar onregmatige skorsing baklei. 

Die LUR het ’n boendoehof gebruik om haar aan te kla, skuldig te bevind en met vernedering te straf. Hy het totaal buite die reëls en buite sy magte opgetree, want hy is mos die LUR. 

Maar Elana is nie ’n LUR nie; sy is ’n gewone juffrou uit die platteland. Gewone juffrouens uit die platteland, of enige landsburger, hoef nie toe te laat dat ’n persoon in ’n magsposisie hulle boelie nie. Sy het voor flitsende kameras en ’n klomp joernaliste met trane in haar oë gesê: “Ek is Elana Barkhuizen en ek staan op!”

  • Dr. Hermann is bestuurshoof van Solidariteit. 
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.