Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Schweizer wys weer krag van foto’s

Die herrie wat in Schweizer-Reneke losgebars het rondom ’n foto, het Willem Fransman jr. laat dink aan ander foto's wat opslae gemaak het.

Wyle Sam Nzima met sy bekende foto van die opstande in Soweto in 1976. Foto: Argief

Ek kry Elana Barkhuizen van Schweizer-Reneke jammer, bitter jammer.

Wat besig is om met dié onderwyseres van die Laerskool Schweizer-Reneke te gebeur, het sy nie in haar wildste drome sien kom nie.

’n Foto wat sy geneem het van skoolkinders wat in aparte rassegroepe sit, het veroorsaak dat sy op sosiale media verguis is en dat sy en haar gesin selfs ter wille van hul eie veiligheid uit die dorp moes padgee.

Die foto wat tot die herrie in Schweizer-Reneke gelei het. Foto: Argief

Skielik word ’n doodgewone gemeenskap omskep in een waar geweld dreig, waar swart teen wit en wit teen swart en selfs swart teen swart standpunt inneem oor skynbaar sluimerende rassisme in ’n rustige dorpie.

Almal skel op almal en tussen die grootmense se bakleiery wil die kinders (ongeag kleur) net skoolgaan en met mekaar speel. Dit is egter verblydend dat sommige swart ouers onwrikbaar agter Barkhuizen staan.

Dit sal interessant wees om die verloop van dié storie te volg. Ongeag wat gebeur, is die ou spreekwoord weer ter sprake: “A picture paints a thousand words.”

Foto’s wat ons bybly

Wie kan byvoorbeeld die epogmakende foto in Junie 1972 van Nick Ut Huynh (oftewel Huynh Cong Ut) tydens die Viëtnam-oorlog kan vergeet?

Dit het ’n naakte, huilende Kim Phuc (tóé 9 jaar oud) uitgebeeld waar sy met uitgestrekte arms voor soldate op ’n pad naby Trang Bang in Viëtnam hardloop nadat sy brandwonde in ’n napalm-aanval opgedoen het.

Dié foto het op 9 Junie 1972 op die voorblad van die New York Times verskyn en is in 1973 as persfoto van die jaar bekroon. Vir baie versinnebeeld dit steeds die oorlog in Viëtnam.

Kim Phuc op ’n foto saam met haar seun, Thomas, in 1997 in Kanada. Soos duidelik op haar linkerarm gesien kan word, het die brandwonde ondanks veloorplantings letsels gelaat. Foto: Argief

Op 13 September 1966 het daar op die voorblad van The Economist ’n foto verskyn van adv. B.J. Vorster, die pas-ingehuldigde premier van die Republiek van Suid-Afrika, met lede van sy kabinet weerskante van hom op die trappe van die parlementsgebou.

Bokant die stroewe gesigte, wat reguit na die kamera kyk, lees ’n opskrif: “Do you want to mess with these men?”

Wie sal Kevin Carter se foto in 1994 kan vergeet van die uitgeteerde Soedanese kind en ’n aasvoël wat net ’n entjie van haar weg sit en wag dat sy sterf?

Nelson Mandela
Die vrylating van oudpres. Nelson Mandela; 'n oomblik wat nog deur baie Suid-Afrikaners onthou word. Foto: Argief

Kort nadat die Watergate-meeluisterskandaal in Richard Nixon, destydse president van die VSA, se gesig ontplof het en hy gedwing is om te bedank, het ’n fotograaf ’n foto van hom van agter in die Withuis geneem.

Nixon het voor ’n venster gestaan met die lig wat van buite op hom geval het. ’n Mens kon net Nixon se geboë profiel sien. Die onderskrif was ewe treffend. Dit het hom bestempel as die eensaamste man ter wêreld.

Soms kan ’n foto mense met trots vervul. Die foto van die toekomstige Suid-Afrikaanse president Nelson Mandela wat in 1990 met ’n gebalde vuis in die lug as ’n vry man by die Victor Verster-gevangenis in die Paarl uitstap, is ’n voorbeeld.

Dit vergestalt ook die vryheidsdrang van miljoene Suid-Afrikaners en verdruktes regoor die wêreld.

Willem Fransman
Willem Fransman jnr.

Praat ’n mens van vryheid, kan jy nie anders nie as om aan die ikoniese foto van Sam Nzima te dink wat tydens die skoolkinders se opstand teen apartheid in 1976 in Soweto geneem is.

Die foto van ’n gewonde Hector Peterson gedra deur sy vriend Mbuyisa Makhubo met sy huilende suster, Antoinette Sithole, ’n tree agter hulle, het tot in ’n groot mate dié beeld van die struggle geword.

Nzima moes die foto uit die land smokkel en ongelukkig jare lank sukkel om kopiereg en selfs erkenning vir sy foto te kry.

Maar die mooi lesse wat ons uit voorbeelde soos dié kan leer, is dat die fotograaf se kameralens dikwels oomblikke in ons geskiedenis kernagtig kan saamvat. Hulle is ons gewone sterflinge se oë op plekke waar ons nie altyd kan wees nie.

* Willem Fransman is ’n skrywer en vryskut-joernalis. Die menings van rubriekskrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Sam Nzima  |  Nelson Mandela  |  Elana Barkhuizen  |  Schweizer-Reneke  |  Foto's
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.