Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
#ScienceMustFall nie so belaglik soos dit mag klink

As ons universiteite ’n meer omvattende geskiedenis van die wetenskappe sou doseer, sou die bydrae uit wêrelddele soos Indië, Afrika en China tot die moderne wetenskap duidelik blyk, skryf Liezel de Lange.

Liezel de Lange

Die boodskap wat sommige studente nou met #ScienceMustFall probeer oordra, is nie so belaglik soos dit met die eerste oogopslag lyk nie.

Die onbeholpe manier waarop die stomme student dit in ’n onlangse gesprek by die Universiteit van Kaapstad (UK) probeer oordra het, het egter die debat oor universiteite se kurrikula geen guns bewys nie.

“Wetenskap as ’n geheel is ’n produk van Westerse moderniteit en die hele ding moet geskrap word. Veral in Afrika,” het sy gesê terwyl haar gehoor uitbars van die lag.

Op die YouTube-video, wat wyd op sosiale media versprei is, gaan sy verder deur te sê dat die wetenskap nie kan verklaar hoe iemand in KwaZulu-Natal weerlig “kan stuur” om iemand anders te tref nie. Sjoe, net daar het sy gesorg vir die sosiale-media-grappie-van-die-dag.

’n Bietjie later, nadat die gehoor hul lag so ’n bietjie gesluk het, maak sy die punt dat Westerse kennis allesoorheersend is – byvoorbeeld die idee dat Newton die enigste mens op die aardbol is wat swaartekrag verklaar het. Vandaar haar argument dat “Westerse kennis geskrap moet word” en dat ons hier in Afrika “oor moet begin”.

“Dis ironies, maar haar denkfout bewys juis haar punt,” skryf Joel Modiri, ’n regsdosent aan die Universiteit van Pretoria in Daily Maverick.

Hy voer aan dat sou ons universiteite ’n meer omvattende geskiedenis van die wetenskappe doseer, die bydrae uit wêrelddele soos Indië, Afrika en China tot die moderne wetenskap duidelik sou blyk.

“Die manier waarop ons universiteite kennis aanbied, as hoofsaaklik ’n produk van die Weste, sonder om erkenning te gee aan die bydrae tot van die belangrikste dissiplines (medisyne, fisika, astronomie en wiskunde) uit Afrika, China en Indië, is presies wat tot die ernstige gebrek aan kennis onder studente aanleiding gee,” skryf Modiri.

Die meer as 300 000 antieke geskrifte wat in biblioteke in Timboektoe in Mali bewaar word, is bewys van die eeue oue akademiese tradisie in Afrika, wat ook ’n groot bydrae tot die wêreld se wetenskaplike kennis gelewer het.

Nie nodig om Westerse kennis te skrap

Ek is seker die geleerdes wat aan die derduisende akademiese geskrifte in Timboektoe, Mali, gewerk het, sou met hom saamstem.

Al van die laat 1400’s af het Timboektoe ontwikkel in een die oudste en omvattendste universiteite in die wêreld.

Boekhandel hier het gefloreer en akademici van oor die wêreld het van en na Timboektoe gereis.

Dis nie nodig om “Westerse kennis te skrap” om bydraes van elders te ontwikkel nie – daardie bydraes is reeds en word steeds gelewer.

Ook in die veld van die geesteswetenskappe word nie aldag genoeg waarde aan die bydrae uit Afrika geheg nie.

Ek het in die vroeë 90’s politiek aan die Universiteit van Pretoria gestudeer – net mooi tydens die land se oorgang na demokrasie en toe die Grondwet geskryf is.

Ons het onder meer die Handves van Menseregte en die politieke oorgang deurtrap. Maar ons het ook ’n hele semester gewy net aan die ontstaan van die Europese Unie (EU) en aansienlik minder tyd aan gebeure op ons vasteland afgestaan.

Heelwat studietyd is ook gebruik om die Bretton Woods-instellings – die Wêreldbank en die Internasionale Monetêre Fonds – uit ’n neoliberale perspektief op te hemel.

’n Nuwe wêreld

Sowat ’n dekade later beland ek by die destydse Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit vir nagraadse politieke studie en ’n enorme nuwe wêreld gaan vir my oop. Hier het ons omvattend gekyk na die koloniale geskiedenis van Afrika en die impak daarvan op moderne Afrika.

My voorgeskrewe leeswerk het van akademici van die vasteland gekom en ek is blootgestel aan ideologieë wat krities is oor die neoliberale wêreldperspektief.

Hoe dié kurrikulum aan my alma maters nou lyk, weet ek nie, maar die wyer perspektiewe waaraan ek blootgestel is, het ’n enorme impak op my wêreldbeskouing gehad.

Drie jaar lank was bykans al ons voorgeskrewe werke uit Brittanje (en Ierland) sowel as die VSA afkomstig.

Die sterk Westerse aanslag was ook destyds opmerklik in die Engelse departement. Drie jaar lank was bykans al ons voorgeskrewe werke uit Brittanje (en Ierland) sowel as die VSA afkomstig. Ek moet darem my destydse dosente krediet gee dat Wole Soyinka, Chinua Achebe en Ngugi wa Thiong’o wel onder die voorgeskrewe werke was.

Ironies genoeg het die Keniaanse Ngugi in 1977 besluit om in sy moedertaal, Kikoejoe, te begin skryf uit protes teen die hegemonie van Engels, en om inheemse Afrika-tale en hul ontwikkeling te bevorder. Dis die soort argumente wat ook in ons eie taaldebatte woed.

Die debat oor tersiêre onderrig in Suid-Afrika word nou deur die gewelddadige en erg ontwrigtende betogings op ons kampusse oorheers.

Die vrees vir die verreikende gevolge wat dit inhou, veroorsaak dat sinvolle gesprekke oor kwessies soos die kurrikula nie suurstof kry nie.

Is die doel van tersiêre onderrig nie juis om kritiese denkers te kweek wat verskillende perspektiewe en ideologieë kan opweeg om nuwe denkrigtings en oplossings te ontwikkel nie?

Om die magdom kennis wat oor die wêreld heen versamel is op te weeg, die belaglike uit te gooi en die sinvolle verder te ontwikkel.

* Liezel de Lange is Rapport se besturende redakteur.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.