Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sê jou sê, maar . . .

Wat mag ’n mens in Suid-Afrika sê en wat nie? En is daar spesifieke riglyne vir wit en swart?” was die vraag wat in ’n onlangse Rede-kabel-gesprekkereeks op die Aardklop-kunstefees onder die soeklig gekom het. Bettie Kemp, mede-aanbieder van kykNET Verslag, was die gespreksleier. Ilse Bigalke doen verslag. 

Van links is Bettie Kemp, die gespreksleier, prof. Theo Venter en Gielie Hoffmann.

Talle Suid-Afrikaners het in die onlangse verlede in die spervuur beland omdat hulle nie ’n wag voor hul mond geplaas het nie of op sosiale media uit die heup geskiet het.

Voorbeelde wissel van pres. Cyril Ramaphosa tot premier Helen Zille, Penny Sparrow, Vicki Momberg en Velaphi Khumalo.

Die gespreksgenote het voorvalle soos die onlangse Dros-verkragting, die Griekwastad-moorde en Rama­phosa se omstrede uitlatings in New York as voorbeelde gebruik hoe Suid-Afrikaners nié moet kommunikeer nie.

Gielie Hoffmann, rubriekskrywer, motiveringspreker en hoofklaer in die Menseregtekommissie-saak teen Gretha Wiid weens haar uitlatings oor homoseksualiteit in haar boeke vir tieners, het gesê hy reageer nooit dadelik of voordat hy die hele prentjie het nie.

Almal het onbewustelik aanvaar dat die verkragter swart en die slagoffer wit is. Uiteindelik het die teenoorgestelde geblyk.

“Ná die Dros-verkragting was almal ontstoke en wou dadelik kommentaar lewer. Almal het onbewustelik aanvaar dat die verkragter swart en die slagoffer wit is. Uiteindelik het die teenoorgestelde geblyk.

“As jy elke keer gereageer het soos wat die inligting bekend geword het, het jy jou voet in jou mond gesit.”

Die Griekwastad-moorde het hom geleer om eers die hele storie te hoor voordat hy reageer. “Skole met wie ek gewerk het, het onmiddellik met Don Steenkamp gesimpatiseer. Maar binne ’n week was daar ’n vermoede oor sy betrokkenheid.

“Ons leef in ’n era van onmiddellikheid en impulsiwiteit. As jy jouself baie moeilikheid wil spaar, moet jy die hele prentjie kry.”

Ramaphosa het die gemoedere opgejaag toe hy in New York plaasmoorde en grondgrype ontken het. Prof. Theo Venter, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, het gesê Ramaphosa is goed geskool in onderhandelinge, “en dan is een van die eerste dinge waarop jy let die genuanseerdheid van jou antwoorde. Hy moes besef het hy stel mense soos Dan Kriek van Agri SA en Nick Serfontein, wat onlangs groot risiko’s gewaag het toe hulle oor die grondkwessie met hom in gesprek getree het, in die verleentheid.

“Die beste verduideliking vir sy stellings was die drukkoker waarin hy hom in New York bevind het. Hy het met Bloomberg gepraat en ek kan dink hy sou baie vinnig en vereenvoudigend gepraat het. Maar dit verskoon steeds nie sy stellings nie.”

Hoffmann het gesê ons leef in die era van screen shots en sound bites. “Die oomblik as mense dit versprei, is konteks verby. Ramaphosa is nie (Jacob) Zuma nie en ’n mens het verwag hy sou meer deurdag wees.”

Niehaus vs. Venter

Die sneller vir die gesprek was die bekgeveg op RSG oor die skade wat Zuma Suid-Afrika berokken het tussen Venter en die ANC-veteraan Carl Niehaus.

Venter het tydens dié debat gesê Zuma was in alle waarskynlikheid die swakste staatshoof in ons geskiedenis.

“Die duiwel kom sit toe op my skouer en ek voeg by: sedert 1910. Niehaus het dié ongelooflike gaping gevat en gesê ek vergelyk Zuma dus met (Hendrik) Verwoerd. Maar ons het eintlik oor die ekonomie gepraat.

“Toe raak dit ’n morele kwessie.

“Terugskouend sou ek nie iets anders gesê het nie, maar ek sou dit fyner geformuleer het.

“Die Grondwet is baie buigsaam en dit is nie oortree nie, maar daar is ook ’n dinamika, naamlik hoe hanteer ons die Grondwet op ’n daaglikse grondslag. Waarin ek betrokke was, was ’n meer dinamiese toepassing van die Grondwet.”

Die Grondwet is ’n goeie vertrekpunt, maar ons wil ook ’n klimaat skep waarin ons vorentoe in die land beweeg.

Hoffmann sê sy vertrekpunt is dat hy konstruktief aan Suid-Afrika wil help bou.

“Die Grondwet is ’n goeie vertrekpunt, maar ons wil ook ’n klimaat skep waarin ons vorentoe in die land beweeg.

Volgens Hoffmann moet mense hulself afvra of hulle verdelend of versoenend wil wees en wat hul doelwit is.

“Ek het besluit ek gaan in my eie gemeenskap aggressief wees as mense blatant rassisties is of goed verkeerd sê of impliseer. Ek het dalk nie ’n invloed op politici of in die bruin of swart gemeenskappe nie. Maar ons het elkeen ’n verantwoordelikheid in ons eie gemeenskap om daardie mense aan te spreek sodat daar nie meer oor ons gestereotipeer kan word nie.

“As ons stilbly, skep ons ’n va­kuum vir sulke mense om die gesprek te lei en dis gevaarlik. Ek is dalk ongewild, maar dit dra konstruktief by tot die Suid-Afrika waarin ek wil leef.

“Die keersy daarvan is dat ons gegewe ons onlangse geskiedenis dikwels dadelik iets wil doen aan enigiets wat ons nie mee saamstem nie of wat ons ongemaklik laat voel. Ons moet nog ’n toleransie ontwikkel en besef iets is nie noodwendig haat­spraak of gemeen nie, dis net anders. Dit laat ons dalk ongemaklik voel, maar dis nie noodwendig verkeerd nie.”

Volgens Venter is die suksesvolste soort argument om die rassekaart te speel en hy hoop Suid-Afrika kan dit ontgroei.

“Die steun wat ek ná die storm in die Niehaus-teekoppie van mense soos Ralph Mathekga (politieke ontleder) en prof. Jonathan Jansen (voormalige rektor van die Universiteit van die Vrystaat) ontvang het, wys daar is Suid-Afrikaners wat die vlak van volwassenheid bereik het om deur die ‘rassifisering’ van ’n probleem te kyk.

“Ook Ramaphosa het op die onlangse werkskeppingsberaad staatskaping (eerder as apartheid) as die sondaar uitgewys. Dit het aangedui hy het in sy kop aanbeweeg.

“Daarteenoor het apartheid Zuma se toesprake geanker, wat die weg gebaan het vir mense om die rassekaart te speel.

Die stille middel

Wat van die middelgroep wat geïntimideer voel omdat hulle nie weens hul uitsprake hul werk wil verloor of, soos Venter, op koerante se voorblaaie wil beland nie?

“Is dit gesond en is daar riglyne vir hulle?” wou Kemp weet.

Die toetrede tot die diskoers van twee sterk, luidrugtige pole soos die EFF en AfriForum het die middelgrond stilgemaak, sê Hoffmann.

“Hulle is in ’n sekere sin ontwrigters.

Van generasie X tot by die millenniërs wil nie op enige manier met dié pole geassosieer word nie, so hulle bly maar stil.

“Van generasie X tot by die millenniërs wil nie op enige manier met dié pole geassosieer word nie, so hulle bly maar stil.

“#FeesMustFall was ’n ongelooflike oomblik in dié generasie, maar die oomblik het weens swak leierskap en kaping deur ander bewegings verlore gegaan. Ek het vir die eerste keer gedink die jong, wit Afrikaner-generasie kyk binnetoe en vra hulself af oor bevoorregting en goed waaroor hulle nooit hoef te gedink het nie.

“As ek met hulle werk, sê ek kom ons luister, toon begrip, verstaan ons onlangse geskiedenis – maar sit assebliéf aan die tafel en neem aan die gesprek deel.

“Maar die boodskap het uit die verlinkse omgewing gekom dat jy wit is en dus nie mag deelneem nie. Dis baie gevaarlik, want dit skep ’n presedent vir die volgende tien jaar. Van die mense wat wou deelneem, het seergekry en ’n plek gevind waar hulle wel kan praat – nader aan pole.

“Ek word ontmoedig as ek weet 25- tot 30-jariges wil nie praat oor enigiets nie, maar wil eerder hul lewens so vinnig as moontlik in estates privatiseer met private mediese fondse, ’n Vodacom-kontrak en OUTsurance-versekering, en op geen manier deel van openbare Suid-Afrika wees nie.”

‘Hulle’ en ‘ons’

Die paneellede het gemaan teen stereotipering en die skep van ’n “hulle-en-ons-kultuur”.

Volgens Hoffman is dit baie belangrik om bewus te wees van wie jy op sosiale media volg. “Daar is iets soos ’n eggokamer. Dis soos ’n grot, waar almal wat jy volg, dieselfde klink en dink. Jy gaan dink dis die norm en nie eens besef daar is ander nuanses nie. Dis gevaarlik.

“Ons het verskillende invloede nodig: Lees Rapport, maar ook City Press. Luister RSG, maar ook 702. As jy heeltyd dieselfde goed hoor, gaan dit jou oortuig van jou saak en die taal wat jy gebruik, beïnvloed.”

Venter het opgemerk dat Afrikaners vra dat mense hulle beter moet verstaan en genuanseerd moet benader. “Nie alle Afrikaner-mans dra two-tone-hemde en woon op Ventersdorp nie. As ons van ‘hulle’ praat, doen ons presies dieselfde.

“Stereotipering veroorsaak dat jy jou vermoë vereng om ’n klomp mense op ’n genuanseerde manier aan te spreek. Kom ons probeer ’n bietjie meer genuanseerd wees.”

In die regte rigting

Venter en Hoffmann was dit eens dat vordering tog gemaak word.

“Ek voel ek kan myself binne die wet regverdig en my standpunte staaf en op dieselfde manier met almal gesels. Ons begin in daardie rigting beweeg,” het Hoffmann gesê.

Volgens Venter sien hy meer bevryding by veral die jonger generasie. “Hulle voel hulle is op gelyke voet, beleef veel meer bevryding en kan hul sê sê.”

Dis baie belangrik dat mense nie in donker hoekies gaan sit nie, meen Hoffmann.

“Ons leef in ’n dinamiese omgewing wat heeltemal verskil van 1994 en wat oor tien jaar ook heeltemal anders daar sal uitsien. Maar dan moet ons nou al begin bou aan ’n samelewing waarin diverse menings oukei is.”

  • Die gesprekkereeks is aangebied in oorleg met Beeld, kykNET Verslag, Prontuit en KLOP!
  • Bigalke is Beeld se meningsredakteur.
Meer oor:  Sosiale Media  |  Haatspraak  |  Rassehaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.