Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sê ‘nee, dankie’ vir hierdie geluk tot elke prys

Die digter Nathan Trantraal spot “altelêkke” in die rubriek “Sypaadjies” in Rapport met sy vriend Shamiel wat aan “acute anxiety" ly. Die tipe anxiety wat glad nie cute issie”.

Die rubriek het egter ’n ernstige ondertoon. Trantraal stel twee uiteenlopende maniere om jou lewensangs te hanteer teenoor mekaar. Enersyds die “slipstream van ’n niewe narrative”, waarvolgens jy nuwe goed oor jouself moet leer ken en benut. Andersyds die “old school” van pille kry en “gloe wat die dokte sê en faith in die dokte hê”. Sodat jou angs minder word.

Wilhelm Jordaan

Dié teenstelling is wesenlik foutief. Eintlik moet albei moontlikhede altyd oorweeg word, soos met egte depressie as ’n siekte. Dit behels dan om jouself te leer ken deur professionele hulp én die gebruik van voorgeskryfde medikasie wanneer die siekte dit regverdig.

Terselfdertyd is dit ’n treurige werklikheid dat al hoe meer mense verkies om lewensprobleme soos angs, neerslagtigheid, slaaploosheid, verlies aan lewensbetekenis en opgedroogde energie deur farmaseutiese middels te hanteer. Daaroor moet mens krities wees. Sulke middels is dikwels verslawend en kan slegte newe-effekte hê. En in wisselwerking met ander middels word die simptome waaroor gekla word, dikwels erger.

In Gerard Donovan se roman Doctor Salt word ’n toekomsvisie van pilbeheptheid en die verwoestende uitwerking daarvan met wrang satire blootgelê.

Om elke hoek en draai is daar video-advertensies wat ’n rits onaangename simptome noem, met eksotiese name vir die nuwe siektes. Mense word dan genooi om die nuwe produkte eksperimenteel en gratis te gebruik.

Daar is siektes soos “combined internet symptoms” (CIS), “acute envy dysfunction” (AED), “web-reflex disorder” (WRD), “aggravated sensitivity syndrome” (ASS), en “concealed anger re­sponse” (CAR). Die karakters ken elke siekte-afkorting. Hulle praat, kla, stry en spog vryelik daaroor, en besoek geesdriftig mediese webwerwe met name soos drugs@yourfingertips.com.

En dié middels word getoets, bestel en uitge-ruil met die uitsluitlike doel om elke belewenis van ongelukkigheid te besweer.

Die ironie is dat dié fiktiewe “siektes” hedendaagse “internetsiektes” vooruitloop. Soos die “Google-effek” (dat jy al hoe minder probeer onthou, want jy weet die antwoorde is net enkele klikke ver) of “nomofobie” (die angs dat jy sonder jou slimfoon moet klaarkom).

Die verhaal sinspeel daarop dat geluk allereers in jouself lê; in die eenvoud van oënskynlik geringe dinge soos liefde en gemeensaamheid. En dat geluk nie tot elke prys nagejaag hoef te word soos die pilwêreld dit voorhou nie.

Want miskien is ongelukkigheid ’n belangrike sein dat jy in disharmonie is met jouself én met die leefwêreld waarvan jy ’n medeskepper is. Die werklike kragte vir voorkoming en genesing kom nie van “buite” deur pille en medikasie nie, maar lê soos saadjies gereed om te ontkiem binne die gees wat na heelheid verlang en dit soek.

  • Jordaan is ’n buitengewone professor in sielkunde aan die Universiteit van Pretoria.
Meer oor:  Wilhelm Jordaan  |  Nathan Trantraal  |  Menings  |  Rubriek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.