SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Menings
Sê nou die yslike asteroïde tref ons aarde?
Blou Willem

Ek moes eers mooi groot word om vrede te kon maak daarmee dat daar sekere dinge is wat ek op die aarde en selfs in die heelal niks aan kan doen nie.

Of my oortrokke bankrekening nie genoeg is om my in die voorure te laat wakker lê nie, moet ek my nou nog oor ’n monster van ’n asteroïde ook staan en verknies.

Ja, ons hoor mos dat ’n skelm hemelliggaam genaamd LF6 van amper ’n kilometer in deursnee elke 151 dae hier by ons ou aardetjie verbysnel en ons enige oomblik kan tref.

Met die uitwissing van die dinosourusse 66 miljoen jaar gelede en die fatale Ching-yang-slag van 1490 (albei ’n raps voor my tyd) nog vars in die geheue, moet ek seker hieroor lê en tob, maar wat gaan dit help, my ou broer?

Dik Daan, wat nou al vandat die asteroïde laas hier verby is saam met die ander swaeltjies by Die Eiland uitspan, sê dié ding het ’n lewendige bespreking daar by hulle ontketen.

Maar wat kan die swaeltjies doen om dié ding te stop? Net mooi boggerôl!

Maar wat kan die swaeltjies doen om dié ding te stop? Net mooi boggerôl!

So, toe bespreek hulle maar wat elkeen van hulle sal doen as hulle sou hoor dat uitwissing net ’n week in die verskiet is.

Dik Daan sê hy sal sy oortrokke gerief by die bank gaan verdubbel en heelweek net tripels gooi.

Maar aan die ander kant, sê hy, moet jy jouself nou ook nie so oorbedien dat jy die groot oomblik as jy jou dinosourus sien, heeltemal mis nie.

Sy balrolmaat, ou Danny, sê hy sal onmiddellik sy testament verander en als vir die kerk los, terwyl ou Frikkie sê as hy net al die staats­kapers vir ’n week in oranje oorpakke kan sien, sal hy met ’n glimlag gaan.

Dik Daan wys ou Frikkie toe daarop dat die volgende mees gevaarlike asteroïde wat die aarde kan tref, blykbaar RF12 is, wat geskeduleer is vir 5 September 2095, teen welke tyd die Sonde-kommissie hopelik sy werksaamhede sou voltooi het.

Nou ja, dan wag ons maar.

Ek en neef Bartel het Saterdag besluit waar ons ou landjie se heil lê.

Ons twee is onder ernstige druk met Engeltjie en Oulyfie sirkus toe en net daar sien ons hoe die reënboogdroom herlewe.

Ja, die ware Jakob-sirkus waarmee ons grootgeword het (nie die een waar die rooi oorpakke teen die withemde stoei nie).

Ons kindertjies sit in die reënboogtent waar hulle springmielies en spookasem deel met mede-landgenootjies, die narre uit Winterveld kom, die akrobate van Lagos is, die poedels van Sandton en die pragtige wit leeus van Timbavati.

Die enigste haakplek dié vredevolle middag was dat die antie wat voor my gesit het, so groot was dat ek eers ná die tyd gehoor het dat daar ’n yslike maanhaar ook in die vertoning was.

Maar nou ja, asteroïdes en dinosourusse het ek nog nie gesien nie, maar maanhare al baie en toe bly ek maar net doodstil vir volk en vrede.

Meer oor:  Blou Willem  |  Aarde  |  Rampe  |  Oos-Kaap Naweek  |  Natuurramp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.