Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
SEB-beheptes moet in die bek geruk word

Die Mededingingskommissie toon ’n algehele gebrek aan begrip vir Suid-Afrika se huidige ekonomiese problematiek, wat werkskepping voorop moet stel.

Roelof Botha

Die besluit van die kommissie om die verkoop van Burger King aan ’n internasionale maatskappy af te keur berus suiwer op ideologiese oorwegings, aangesien daar niks met aspekte rakende mededinging fout gevind kon word nie. Volgens die kommissie sou die verkoop van Burger King die aandeelhouding deur bemagtigingsgroepe skerp laat daal het, iets wat kwansuis nie in die openbare belang is nie.

Hieruit is dit duidelik dat swart ekonomiese bemagtiging (SEB) deur middel van eiendomsbesit veel swaarder vir die kommissie weeg as enige wesenlike en tasbare ekonomiese voordele wat uit die transaksie kan voortspruit.

Pres. Cyril Ramaphosa en Tito Mboweni is ongetwyfeld die harnas in, aangesien omvangryke ekonomiese skade reeds deur die kommissie se betreurenswaardige besluit aangerig is, met nog slegte nuus wat voorlê.

Dit is ook duidelik dat die kommissie geen benul het van die noodsaaklikheid daarvan om ’n ekonomiese impakstudie te doen ten einde objektiewe besluite oor direkte investering deur ’n internasionale maatskappy te neem nie.

Die skade van die fiasko oor Burger King het begin met die uitwissing van die waarde van huidige aandeelhouers se belange van nagenoeg R150 miljoen (tien dae ná die besluit). Die meeste van die houermaatskappy, Grand Parade Investments, se aandeelhouers is uit voorheen benadeelde gemeenskappe. Ongelukkig eindig dit nie daar nie en vuur die kommissie nog ’n klompie skote op die wankelrige voete van die Suid-Afrikaanse ekonomie.

Emerging Capital Partners, beoogde koper van Burger King, was van plan om sowat R600 miljoen in nuwe takke en toerusting te belê – op ’n tydstip wat daar geen ander kopers in sig is nie en nuwe waagkapitaal op die JSE byna opgedroog­ het.

Ramaphosa en sy nuwe span, wat die ekonomie probeer regruk deur middel van groter samewerking met die private sektor, beloof al sedert 2018 om onnodige regulasies te verwyder, maar dwarstrekkery vind nog plaas.

Wanneer daar dieper gegrawe­ word, kan die sinlose besluit van die kommissie ook as roekeloos beskou­ word, aangesien duisende potensiële nuwe werkgeleenthede nou daarmee heen is. Meer as 10 miljoen mense in Suid-Afrika soek werk, maar kan dit nie vind nie. Die kapitaal wat in Burger King belê sou word, kon direk en indirek vir meer as 4 000 nuwe werkgeleenthede gesorg het, wat sowat R220 miljoen belasting per jaar vir die staat kon verdien het.

Verder kon die kapitaalbesteding aan nuwe takke vir ’n bykomende R350 miljoen se belasting gesorg het. Die grootste potensiële nadeel is die boodskap wat aan voornemende buitelandse beleggers gestuur word, naamlik dat Suid-Afrika se rasbeheptheid en oormatige regulering van die ekonomie ’n wesenlike struikelblok is. Dit kan die ekonomie van miljarde rande se ekonomiese kapitaal beroof.

Ramaphosa en sy nuwe span, wat die ekonomie probeer regruk deur middel van groter samewerking met die private sektor, beloof al sedert 2018 om onnodige regulasies te verwyder, maar dwarstrekkery vind nog plaas. Die aanmatigende en arrogante houding van die hoof van die Mededingingskommissie verlede week druis lynreg teen die nuwe gesindheid van die regering in.

Daar bestaan geen doeltreffender manier om armoede te verlig as om vir ’n werklose persoon werk te verskaf nie – dit sit kos op die tafel vir ’n hele huishouding. Indien staatsinstellings wat ideologies behep is met SEB, nie vinnig in die bek geruk word nie, kan werkloosheid, armoede en die uittog van hooggeskoolde Suid-Afrikaners na groener weivelde die land se ekonomie in ’n doodloopstraat laat beland.

  • Botha is ekonomiese raadgewer van die Optimum-beleggingsgroep.
Meer oor:  Roelof Botha  |  Armmoede  |  Ekonomie  |  Kommissie  |  Politiek  |  Seb
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.