Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
SEB die rede waarom SA op sy knieë is
Erik Holm
Erik Holm

Suid-Afrika is een van min lande waar die meerderheid deur wette diskrimineer teen ’n klein minderheid. Dit is natuurlik ingevolge die internasionale reg onwettig.

Goed, breë swart ekonomiese bemagtiging (SEB) word geregverdig as omgekeerde rassisme om die vorige onreg van apartheid reg te stel. Maar word ’n onreg ooit deur ’n omgekeerde onreg reggestel? Die kere waar diskriminasie en onreg reggestel is, is waar ’n land dit letterlik ontgroei het.

Toe die Engelse ná 1902 erg teen die Afrikaners gediskrimineer het, het dié hulself geëmansipeer deur hul eie kultuur te bou sonder hulp van buite. Dit het geëindig in ’n wêreldklas-staat onder Afrikaner-beheer.

Hoe het dit gebeur? Nie deur met die Engelse te baklei oor die bestaande magskoek nie, maar deur die koek geweldig te vergroot sodat die Engelse se magsbasis onbenullig geword het.

Politici speel uit die aard van hul “beroep” ’n zero-som-spel. Hulle ding mee om beperkte setels in ’n beperkte tydperk tot die volgende verkiesing. Dat jy ’n diskriminasie- en verdelingsonreg pynloos kan ontgroei deur die koek te vergroot, kom nie eens by hulle op nie.

Maar jy kan enige grond se winsgewendheid teoreties onbeperk met kundigheid en tegnologie vergroot.

’n Goeie voorbeeld is landbougrond, wat lyk na ’n beperkte koek. Maar jy kan enige grond se winsgewendheid teoreties onbeperk met kundigheid en tegnologie vergroot. Ek het met my eie oë gesien hoe ’n hektaar tamaties se opbrengs vervierdubbel is en ’n hektaar bosbou se opbrengs onder avokado’s vertiendubbel het.

Eskom het die beste SEB-telkaart, met die SAL, Prasa en andere kort op sy hakke.

Maar wat van ’n vinnige regstelling om die speelveld eers gelyk te maak? Breë SEB gaan nou al ’n generasie aan en slaag blykbaar nie. Die rede is eenvoudig. Van 100 punte wat jy op die telkaart kan verdien, tel 40 net vir swart eienaarskap en topbestuur! Vir elke werkgeleentheid wat jy skep, kry jy net een punt, vir die instandhouding van dié geleentheid in die volgende jare nul. As jy vir ’n swart buitelander werk skep, kry jy in elk geval nul. Die hele skema is net vir “fat cats” ontwerp en werk teen volhoubare werkskepping in.

Die gevolg? Eskom het die beste SEB-telkaart, met die SAL, Prasa en andere kort op sy hakke. Hoef ’n mens meer te sê? Almal is onder die indruk dat die Guptas, die Shaiks, Bosasa en die res van die Zuma-kabaal se rowery die land geruïneer het. Daardie paar miljard is kleingeld. Wat die land op sy knieë gedwing het, is breë SEB en die magspolitieke zero-som-denke daaragter.

Daar is groot geleenthede vir groei in Suid-Afrika, asook nog baie goeie wil vir geleenthede skep vir swart mense en vennootskaplikheid, soos ’n mens by die boere kan sien. Op grondvlak is wit en swart meestal welmenende realiste. Ons kan weer ’n gesiene land word deur die evolusie van alles en almal wat ons het, maar nie deur revolusie en magsug van politieke tirannie nie.

Geen ander land in Afrika het “postkoloniaal” omgekeerde rassisme ingestel nie. Nie eens Namibië nie, wat tog ’n volwaardige apartheidsregering gehad het. Los die nonsens en begin werk aan werklike vooruitgang vir almal.

Meer oor:  Erik Holm  |  Eskom  |  Ekonomie  |  Seb  |  Sal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.