Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Seën Afrika se kinders; droog hul trane af

Ivor Price

Hoewel ek in die afgelope sewe jaar al minstens vier keer van sy dienste gebruik gemaak het, het ek eers Sondag met my laaste besoek die fotokopie van ’n Afrika-gebed teen die winkelvenster gesien.

Om by Funsani Ahmed se kleremakerswinkel in Lilian Ngoyistraat, Johannesburg, uit te kom, moet jy jou storie ken. Hierdie deel van die stad het in die afgelope 20 jaar ’n taamlike kleinhandelverskynsel geword – ’n mekka vir alles van goedkoop klere tot huisgoeters. As jy ’n inkommer is, kan die ervaring nogal oorrompelend wees, maar as jy deurdruk, ontdek jy ’n paradys met handelaars en smouse van elke uithoek in Afrika.

Ahmed se naam het ek ook eers onlangs leer ken. Oor die jare heen het hy my bloot sy “brother” genoem – die hoogste vorm van respek vir ’n vreemdeling met wie hy nie veel gemeen het nie, buiten miskien dat ons ’n passie vir die vasteland en sy mense deel.

Ons gesprekke was altyd kort en kragtig. Noudat ek daaraan dink, weet ek eintlik min van hom, want ons het maar meestal oor my gesin se liefde vir Addis Abeba, die plek van sy naelstring in Ethiopië, gepraat.

Ek’t hom vertel van ons mooie herinneringe aan die Anwar-moskee waar die oproep tot gebed ons met ootmoed gevul het.

Alles was dig toegesluit, maar ek het my verbeel dat sy wasem nog soos spookasem teen die ruite gehang het.

En hoe hartseer ons was toe die demoon van terreur sy vredeliewende nasie verwond het.

Gister, te midde van die nuus oor die jongste vlaag aanvalle op buitelanders, het ek Ahmed by sy winkel gaan soek. Alles was dig toegesluit, maar ek het my verbeel dat sy wasem nog soos spookasem teen die ruite gehang het. Ek het gewonder of hy hom dalk uit vrees vir vergelding in die winkel toegesluit het, want ek het al gehoor dat baie van die buitelanders ook woon in die winkels waar hulle werk.

Dit is toe dat ek die gebed raakgelees het; ’n gebed wat heel moontlik reeds jare lank teen die einste winkelvenster hang, maar wat in hierdie dae van geweld teen ons medemens soveel meer betekenis het. Dit lees: “Seën die vlaktes, riviere, bome en al die Afrikalande. Vernuwe die land en vernuwe die gees van almal wat op enige manier gewond is. Seën, o God, ook u kinders in Afrika. Droog hul trane af.”

Toe ek huis toe ry, besef ek hoe ironies dit eintlik is dat die aanvalle grootliks in die hart van Johannesburg afspeel. In die strate wat na vryheidsvegters gennoem is, soos Lilian Ngoyi wat in die apartheidsdae vir 16 jaar onder huisarres was, en Rahima Moosastraat wat na ’n ontslape gemeenskapsheld hernoem is.

Het ons dan so gou ná apartheid weer vergeet wat dit aan mens doen wanneer jou enigste sonde jou andersheid is?

Maar ek hoop dat Ahmed in sy uur van nood sal onthou dat ons nie almal so is nie.

Ek hoop hy sal onthou dat ons broers is.

Meer oor:  Ivor Price  |  Rassehaat  |  Rassisme  |  Geweld  |  Xenofobie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.