Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Seer ken nie tyd en kleur’

Al hoe meer verhale word klaarblyklik vertel en gedeel oor ander 16 Junies . . . waarskynlik om te wys dat slagofferskap en seer nie kleur en tyd ken nie, skryf Leslie van Rooi.

Stellenbossers vertrek op 16 Junie op ’n staptog uit die dorp na Pniël. Foto: Anton Jordaan

Hoe onthou ons die verlede? Dit is so dat ons nasionale dae ons herinner aan die geskiedenis van ons land. Dit sê iets van waar ons vandaan kom asook iets van die identiteit en wese van ons land. En so is dit ook dat elke nasionale dag anders beleef word en ander ervaringe oproep.

Op ’n persoonlike vlak ervaar ek jaarliks die terugkyk na wat was en die vorentoe wonder veral op 16 Junie. Ek vermoed dat hierdie gevoel op Jeugdag verband hou met my eie verhaal en storie as ’n Afrikaanssprekende en dalk ook weens die feit dat ek by ’n universiteit werk waar die kwessies van die jeug hoog op die agenda is.

As teoloog kon ek nie help om te vra wat hulle van oom Bey weet nie.

Maar hoe onthou ons die verlede?

Ek het onlangs in die eetsaal van die Simonsberg-koshuis op die kampus van die Universiteit Stellenbosch (US) gestap waar studente besig was om te studeer – die eksamen is immers op hande. Twee van die studente met wie ek vinnig kon gesels, was besig om van Beyers Naudé te leer. As teoloog kon ek nie help om te vra wat hulle van oom Bey weet nie. In lyn met hul voorbereiding vir die eksamen kon hul ’n paar dinge oor Oom Bey sê: Hy het aan die US studeer, soos hulle was hy in ’n koshuis en het hy studenteleierskapsposisies opgeneem. Verder kon hulle iets sê oor sy rol in die stryd teen apartheid – en, noemenswaardig, kon hul iets vertel van die bekende Pro Veritate-publikasie waarin die verhale, sieninge en verstane van hierdie groot figuur saamgevat word.

Wyle dr. Beyers en mev. Ilse Naudé. Foto: Nicolene Olckers

Maar vir hulle, jong studente met ’n blink toekoms, was dit hul eerste “ervaring” van Beyers Naudé en moet hulle, as deel van hul studies, probeer sin maak van wat in hul klasnotas staan oor ’n persoon wat in ’n totaal ander era geleef het.

Hulle leer van ’n persoon wie se uitdagings en leefwêreld nie heeltemal dieselfde as hul s’n is nie. En hulle leer van ’n persoon wat in klasaantekeninge opgeteken staan – ’n historiese figuur met ’n storie waarvan hulle probeer sin maak.

En vandag?

Wat skryf jongmense vandag oor dié dag?

En dit het my laat dink aan die rubrieke oor Jeugdag wat onlangs verskyn het. Onder hierdie rubrieke was ’n refleksie op die aardskuddende gebeure van Junie 1976; die rol en plek van Afrikaans en die uitdagings van die jeug vandag. In sommige gevalle was hierdie elemente verweef. Dit blyk dus, dat alhoewel ons reeds 45 jaar ná die gebeure van daardie oggend en wat daarna gevolg het leef, ons steeds ’n mate van verstrengeldheid met die historiese gebeure ervaar. Dalk is dit juis omdat jongmense vandag erge uitdagings beleef wat hulle op nuwe maniere onderdruk en hulle van hul toekomsmoontlikhede ontneem.

Stellenbossers kom by die Pniël Congregational Church aan. Foto: Verskaf

Is daar ook ander stories oor 16 Junie?

En dan is daar natuurlik ook ander gebeure wat met 16 Junie saamval. En dit blyk dat daar al hoe meer ander verhale oor ander 16 Junies vertel en gedeel word. Soms juis om ’n ander storie daar te stel, en ander kere waarskynlik om te wys dat slagofferskap en seer nie kleur en tyd ken nie. Dalk is dit selfs om die gebeure in Soweto en elders op die dag en daarna af te maak en in te perk.

Nader aan 16 Junie?

Hoe nou gemaak met 16 Junie in die jare wat kom?

Soos wat die tyd aanstap, sal ons 16 Junie 1976 al hoe meer in ons eie konteks inlees. En dalk, soos die verhaal van oom Bey, sal studente ná ons hierdie historiese gebeurtenis bestudeer en oplees sonder om iets van ’n soortgelyke geleefde realiteit te hê. Of dalk, soos tans, sal hul nader aan hierdie ervaringe wees as wat ons graag sou wou hê.

Op 16 Junie 2021 kon ek en 50 ander Stellenbossers, verteenwoordigend van verskillende agtergronde, lewenservaringe, verhale, ouderdomme en lewensbeskouings, saam stap vanaf die Rynse kerk (VGK) op Die Braak via verskeie bakens tot by die Pniël Congregational Church. Die stap het ons gehelp om mekaar, met ons verskillende agtergronde, te hoor en saam iets van ’n veranderende Suid-Afrika te beleef. Ons kon mekaar ontmoet waar ons is, ons kon ons stories met mekaar deel. Ons kon mekaar help en aanmoedig. En ons kon, as dorpsgenote en vriende van elders, ook deur verskillende woongebiede van Stellenbosch – elk met sy eie storie en geskiedenis – stap.

Nuwe beelde

Die stap van hoop, gereël deur Visit Stellenbosch, die Stellenbosse toerismeliggaam, het ons gehelp om diep te reflekteer oor die dag en ons nuwe pad saam met mekaar. Die jongmense in die groep kon op ’n ander manier gehoor word, die ouer mense kon anders reflekteer oor hul stap tot nou.

Dr. Leslie van Rooi

En só het 16 Junie ook nuwe beelde ontlok. Beelde wat nie die historiese realiteit van die dag wil wegwens nie, maar eerder beelde wat vertel waar ons vandaan kom en die pad bevestig wat ons reeds gestap het. En só help die stap my toe om, saam met dorpsgenote, anders na die dag te kyk. Die historiese realiteit gee toe nuwe rigting en bring toe hoop dat ons tog saam ’n ander pad sal stap.

Dr. Van Rooi is senior direkteur: sosiale impak en transformasie aan die US. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Leslie Van Rooi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.