Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sekere dinge is onmoontlik om te verstaan

Met Australië in vlamme (dalk moet nou twee keer gedink word voor jy vir Perth begin pak) en Amerika en Iran op die rand van oorlog, is dit seker onbenullig, maar hoekom is party mense so lief om ’n bottel stukkend te sien?

Hulle kan die versoeking net nie weerstaan om dit in ’n straat of op ’n sypaadjie flenters te gooi nie. Wat dryf hulle om dit te doen? ’n Heel bottel is tog beter as ’n stukkende een – dit kan weer gebruik of selfs verkoop word.

Of dink party mense hulle doen die herwinnaars van glas ’n guns om die bottel vir hulle te breek? Wat hulle natuurlik vergeet, is dat iemand teen betaling die glasstukke moet optel.

Soos die afgelope vakansietyd toe strandplekke weer met massas gemors, waaronder duisende bottelstukke, besaai is. Toe ek die vraag stel aan ’n vriend, ’n boer, het hy ’n rukkie nagedink en toe effens gelate gesug: “Ek weet nie”.

En toe vra hy my vas met ’n teenvraag: “Kan jy my sê hoekom party mense ’n heel glasruit met ’n klip stukkend gooi en dan die gat in die vensterraam met ’n stuk karton of ’n platgeslane konfytblik toemaak?” Ek kon, soos hy, maar net gelate sug: “Ek weet nie”.

Wel, nie heeltemal nie. Dis mos wat jy doen as jy werkloos is en dus nie geld het om die ruit te vervang nie. Maar ek het ’n teorie. Kan dit wees dat mense – soos onder andere meer as 700 000 matrieks wat ’n heenkome moet vind – met ’n uitsiglose toekoms in ’n oorbevolkte, wanbestuurde land met enorme probleme, ’n bottel stukkend gooi om iets te ervaar van die glinstering van glasskerwe wanneer die son in ’n donker wêreld vir ’n oomblik daarop skyn? En dit soos ’n prisma selfs van kleur verander?

Of is dit blote vernielsug deur ongedissiplineerde mense wat nie omgee nie?

Of is dit blote vernielsug deur ongedissiplineerde mense wat nie omgee nie? Hoekom sal jy vir ’n leë bottel omgee – gooi hom stukkend! Daar is mos nog baie volles in die bottelstoor.

Jy sien dit oral in Suid-Afrika, stukkende bottels. Buite woongebiede van plattelandse dorpe lê genoeg glasskerwe in die veld en langs paaie om ’n glinsterende weg na die pêrelpoort te plavei.

Op ’n treinreis van Kaapstad na Johannesburg was daar op vervalle, gestroopte stasies nie ’n enkele heel glasruit nie.

Hoe buitelandse toeriste, wat ten duurste met die Bloutrein deur die land ry, dit versoen met die skynbeeld van ’n wonderskone, unieke, vooruitstrewende land wat aan hulle voorgehou word, is verstommend onverstaanbaar. Maar dan is baie dinge onverstaanbaar.

Hoe verstommend is Carl Sagan se voorwoord in Stephen Hawking se boek A Brief History of Time nie: “We go about our daily lives understanding almost nothing of our world”. En dan weet ek nie eens hoekom mense so graag ’n bottel stukkend gooi nie.

Four Jacks and a Jill sing mos: “It’s a strange, strange world we live in, Master Jack . . .”

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Brande  |  Vullis  |  Gemeenskap  |  Omgewingsbewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.