Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Seksistiese taal, vloekwoorde verneder vroue

Hoe kan ’n mens praat van respek vir vroue as die taal wat ons gebruik dikwels inherent disrespekvol is teenoor die vrouegeslag? vra Erla-Mari Diedericks.

Erla-Mari Diedericks

Sekerlik een van die gewildste vloekwoorde ooit in ons land wat al eintlik ’n nasionale skat en historiese monument op sy eie geword het, is eintlik ’n uiters vrouehatende term.

Jy vloek iemand anders se ma. En jy vloek haar private dele.

Toe ek op Facebook vra wat die Afrikaans is vir vrouehater of ’n “misogynist”, het my goedbedoelende vriende vorendag gekom met woorde wat steeds terme vir vroulike geslagsorgane gebruik om iemand mee te beledig.

Hoe kan ’n mens praat van respek vir vroue as die taal wat ons gebruik dikwels inherent disrespekvol is teenoor die vrouegeslag?

Selfs as daar nie gevloek word nie, is die taal soms seksisties.

Kyk maar na alledaagse gebruikstaal en gesegdes – in Afrikaans, maar ook in Engels. Daar is dikwels ’n subtiele verskil in woorde wat die man goed laat lyk en die vrou sleg.

’n Man is ’n “ladies man” of ’n rokjagter. ’n Vrou is ’n slet.

’n Man is sterk, ’n vrou is voor op die wa.

’n Man is die baas, ’n vrou speel baas.

’n Man stel grense, maar ’n vrou is plein aggressief.

’n Man is die baas, ’n vrou speel baas.

’n Mens sal altyd ’n man prys vir sy slim strategieë, maar waag ’n vrou dit om ’n strateeg van formaat te wees, dan manipuleer sy.

Bewaar ook die vrou wat leierskap toon. ’n Man is ’n leier, maar ’n vrou? Nee wat, sy probeer net als oorneem.

’n Man wat liefde soek, is sag en gaaf en die vangs van die jaar. Soek ’n vrou liefde, is sy desperaat.

’n Man met twee katte is ’n diereliefhebber. Maar ’n vrou? Sy is ’n mal heks of ’n “crazy cat lady”.

’n Man raak mal verlief, ’n vrou is net mal.

’n Man is toegewyd tot iets of iemand, maar ’n vrou is obsessief.

’n Man raak mal verlief, ’n vrou is net mal.

’n Man is ’n bittereinder, ’n vrou is ’n bitter “bitch”.

En waar ’n man sy man staan, is die vrou net plein hardegat.

Dan ook prys almal ’n man wat ’n perfeksionis is, maar die vrou is niks anders as vol fiemies nie.

’n Man kla, ’n vrou kerm.

’n Man is sjarmant, ’n vrou koketterig.

’n Man is beskermend, ’n vrou besitlik.

’n Man is sjarmant, ’n vrou koketterig.

Daarby is dit ook net vroue wat katterig kan raak, so vet soos ’n koei kan wees of tekere kan gaan soos ’n teef.

Die ironie is dat taal ’n vrou is. Sy word tog ons moedertaal of “mother tongue” genoem. Maar die skole, kerke en regerings, universiteite en inrigtings – waar die taal amptelik gevorm is, was inherent manlik dominant. Taal het dus dikwels ’n meer manlike as vroulike kleur.

Die Taalkommissie gee ook erkenning aan die feit dat daar wel so iets soos taalseksisme bestaan. In ’n Facebook-inskrywing verwys die kommissie na ’n leksikografiese studie wat in 1991 gepubliseer is. Daarvolgens het navorsers aan die UV bevind dat Afrikaanse woordeboeke hulle in baie gevalle aan stereotipering (en seksisme) skuldig gemaak het.

Meer manlike beroepsname is opgeneem as vroulike beroepsname en daar was ook meer manlike as vroulike selfstandige naamwoorde en voornaamwoorde.

Vroue is 'linguisties onsigbaar' gemaak.

Waar die vroulike selfstandige naamwoorde en voornaamwoorde wel gebruik is, was dit in ’n negatiewe of liggaamlike konteks; byvoorbeeld: Sy het ’n dun middeltjie. Of: Sy is nie op haar mondjie geval nie.

Die UV-navorsers maak ’n interessante stelling. Volgens hulle is vroue “linguisties onsigbaar” gemaak.

Maar woordeboeke weerspieël soms ’n ouer geslag en dit word wel hernu en aangepas. Veel interessanter is iets soos Google, wat ’n moderne soekenjin en vandag se weergawe van ’n woordeboek en ensiklopedie is.

’n Paar jaar terug is Google beskuldig van seksisme omdat uiters seksistiese voorstelle volgens die algoritmes ingestel was en na vore gekom het sou jy sekere begrippe intik.

Dis nie meer so erg nie, maar seksistiese begrippe verskyn nog steeds as jy sinne intik soos: “Women should not.” Google stel voor: “Women should not vote. Women should not propose to their men. Boards should not include women. Twelve great reasons why women do not deserve to vote.”

Grappe waarin jy jou teenstander se ma afkraak, is al so algemeen dat niemand eens meer besef dat dit afbrekend teenoor vroue is nie.

Google het dalk wel sy algoritmes verstel om meer nie-seksistiese voorstelle in te sluit, maar nogtans dui die soekterme wat opkom, op die gedagtegang van ’n gemeenskap.

Maar terug by die vloekwoord waarmee ons begin het.

Om regverdig te wees, dié term het sy oorsprong in die gebruik waar ’n man se moeder met respek behandel moes word. Wou jy dus ’n man beledig, het jy sy ma beledig. Maar deesdae – net soos die “mother-dissing”-grappe – het dit al amper so algemeen geraak dat niemand eens meer besef dat dit afbrekend teenoor vroue is nie.

En vir diegene wat nie weet wat “mother-dissing”-grappe is nie. Dis waar jy grappe maak waarin jy jou teenstander se ma afkraak: Jou ma is so lelik, die spieël kraak as sy verbystap, jou ma is so vet hulle moes haar in die oseaan doop.

As dit nie seksisties is nie, waarom is daar dan nie pa-grappe nie?

* Erla-Mari Diedericks is ’n redaksielid van Netwerk24.

Meer oor:  Erla-Mari Diedericks  |  Grappe  |  Seksisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.