SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Menings
Self, belowe jy ewige trou aan hierdie ekheid?
Blouwillem

Vreemd, vreemder, vreemdste.

Dis nou die storie van die 63-jarige vrou van die Vuildriehoek wat so ’n week of wat gelede in ’n klein seremonie met haarself getrou het.

Soos in: “Self, belowe jy om deur dun en dik by jouself te bly?”

Ja, jy belowe ewige trou aan jouself, kyk elke oggend in die spieël na jou jouself en sê: “My skat, ek hoop jy het soos ekself lekker geslaap.” Ja, vreemd inderdaad, maar soos hulle sê, so het elke diertjie mos sy eie plesiertjie.

Dik Daan skud net sy kop en verklaar plegtig: “Nee wat, ek sal dit nie eens oorweeg om met so ’n knorrige ou man soos ekself te trou nie. My ouers waarsku my in elk geval gereeld om nie iets so roekeloos aan te vang nie.”

“Jou ouers?!” vra ek ongelowig.

“Ja, Vader Tyd en Moeder Natuur,” antwoord hy.

“Kan jy jou indink hoe vervelig ’n ‘honeymoon’ met jouself sal wees? Nee, man, net ‘moon’ en geen heuning!

Kan jy jou indink hoe vervelig ’n ‘honeymoon’ met jouself sal wees? Nee, man, net ‘moon’ en geen heuning!

“Die min voordele is dat as jy met jouself trou, jy die hele bed vir jou en jouself het, jy jou eie van kan hou, jy nie ’n skoonma bykry nie, daar nie oorlog is as jy jou troudag vergeet nie en jy net een getuie pleks van twee met die huweliksbevestiging nodig het.

“Dit was in elk geval nog altyd vir my ’n misterie dat jy aan moord skuldig bevind kan word met één enkele getuie, maar dat jy twee getuies nodig het om ’n huwelik wettig te kan voltrek. Wys nou net hoe ’n gevaarlike besigheid dit is!”

Ek wil nou nie die bobbejaan agter die bult gaan haal of krap waar dit nie jeuk nie, maar amper net so ’n vreemde situasie is dié van ons lagbare twee ministers wat glad nie vir húl ouers luister nie en in ’n beweerde liefdesdriehoek (of dalk eerder tierhoek) met ’n 26-jarige student betrokke is.

Daar’s altyd ’n slang in die gras as jy die kat in die donker knyp.

’n Mens wonder nou heel tereg of dié ou storietjie nou saam met al die ander zondes onder die mat van vergetelheid ingevee gaan word.

Die tierlemma waarmee die lagbare minister van minerale-en-te-veel-energiesake, Gwede Manhaftig, te kampe het, is of hy sy tier-innie-kooi-toekenning moet aanvaar of ontken.

En as jy dan ontken, ontken jy die stoutigheid en verloor só jou tierstatus, of erken jy en vat die trofee huis toe om vir me-eerstevrou te gaan wys?

Sjoe, dis moeilike keuses, so kom ons swyg die ou situasietjie maar net morsdood, doder, doodste.

En ja, my Kroon, pasop maar vir die diere. Daar’s altyd ’n slang in die gras as jy die kat in die donker knyp en die vroue is maar altyd lief vir die jakkalspelsie om die nek, die Jaguar in die motorhuis en die tier (of maanhaarleeu) in die bed.

Maar onthou, my Kroon, hulle soek altyd ’n ou bok om vir dit alles te betaal!

Meer oor:  Blouwillem  |  Liefdesdriehoek  |  Huwelik  |  Kat In Donker Knyp  |  Trou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.