Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Selfbeskikking het baie vorme
Willie Spies

Vandag 50 jaar gelede het die Apollo 11-ruimtetuig van Neil Armstrong en sy span die gravitasieveld van die aarde verlaat.

Twee dae later, op 20 Julie 1969, het die maantuig bekend as The Eagle op die maan geland en enkele ure later, in die vroeë oggendure van 21 Julie 1969, het Armstrong die eerste mens geword wat sy voet op die maan plaas.

Sedertdien het die Sowjetunie, China, Japan, Indië en Israel gevolg met sendings na die maan en elders in die ruimte.

In die tientalle sendings na die maan was daar veel meer onsuksesvolle sendings as suksesvolles.

Armstrong se landing 50 jaar gelede is ’n verhaal van die onmoontlike wat moontlik geword het, maar dit net ter inleiding.

In ’n artikel oor selfbeskikking in Beeld (16.07) het prof. Pieter Labuschagne, emeritus-professor in politieke wetenskappe, geskryf die kans dat ’n wetsontwerp oor selfbeskikking steun in die parlement sal kry, is uiters skraal.

Labuschagne noem ’n hele aantal faktore, wat insluit die beperkte groei in die getal mense wat Orania toe trek, die konsentrasie van Afrikaners in gemaksones om Pretoria en die Kaapse Skiereiland en die ANC en EFF se renons in enigiets wat na ’n terugkeer na apartheid kan lyk, as verstaanbare gronde waarom groter vorme van selfbeskikking vir minderhede in Suid-Afrika onwaarskynlik is.

Dit is jammer dat hy die konsep van selfbeskikking sonder meer met een verfhaal as doodgebore toeverf.

Dit is jammer dat hy die konsep van selfbeskikking sonder meer met een verfhaal as doodgebore toeverf, sonder om na die vele verskyningsvorme daarvan as politieke model te kyk.

Nog ’n politieke wetenskaplike, prof. Deon Geldenhuys, het die selfbeskikkingskonsep vroeër vandeesweek in ’n radiodebat as ’n huis met baie kamers beskryf. Inderdaad is daar baie voorbeelde en verskyningsvorme van wat vandag as selfbeskikking bekend staan.

Een vorm daarvan wat reeds erkenning kry, hoewel dit tans onder sterk druk verkeer, is die beperkte selfbeskikking van beheerliggame van openbare skole.

Die Grondwet en die Nasionale Skolewet verleen aan beheerliggame die reg om sekere beleide te formuleer en uit te voer, asook om sekere aanstellings te doen. Dit is ’n baie beperkte maar belangrike voorbeeld van selfbeskikking wat reeds bestaan.

Nog ’n vorm van beperkte selfbeskikking is te vind in ’n veelheid van eiendomsontwikkelings, waar huiseienaarsverenigings en beheerliggame bestuursbevoegdhede het oor veiligheid, water- en elektrisiteitsvoorsiening, toegangsbeheer en ander gedeelde dienste.

In nog ’n voorbeeld van baie beperkte maar werklike selfbeskikking is ’n dorp soos Orania met sy nagenoeg 2 000 inwoners besig om gaandeweg al die funksies uit te oefen waaroor ’n munisipaliteit beheer het. In Orania gaan die funksies selfs verder, met unieke vakansiedae op die dorp, selfstandige skole en ’n unieke betaalstelsel wat die hersirkulering van geld en gevolglike groei in die dorp bevorder.

Laastens het daar in die burgerlike samelewing ’n besef posgevat dat talle funksies wat tradisioneel by die staat tuisgehoort het, gaandeweg deur burgerlike instellings vervul word. Daarvan getuig die Solidariteit Beweging se gemeenskapsuniversiteit Akademia en die opleidingskollege Soltech, asook AfriForum se gemeenskapsaksies en buurtwagte.

Soos met die vele maansendings was daar al baie mislukkings en die faktore is miskien meer negatief as positief, maar waar ’n wil en toewyding bestaan, raak die onmoontlike altyd moontlik.

Dit leer ons uit die verhaal van Neil Armstrong en sy span, 50 jaar gelede.

Meer oor:  Willie Spies  |  Selfbeskikking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.