Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Selfdood: Hoe lyk SA se plan?
Ancel George
Ancel George

Daar word selde gepraat oor die gevoelens van vriende en familie van diegene wat hul lewe beëindig. Dis hulle wat agterna sit met die skok en ontnugtering.

Diegene wat hul eie lewe neem, redeneer dat daar “geen sin meer is om voort te gaan nie” of dat daar regtig niks meer is wat hulle kan help nie.

Internasionaal het die klem in die voorkoming van selfdood oor die jare verskuif. Aanvanklik is volwassenes en bejaardes beskou as hoërisikogroepe omdat hulle spanning ervaar wat met hul ouderdom gepaardgaan. Dit sluit in werkverlies, skuld, egskeiding, siekte en eensaamheid.

Maar dié pendulum het geswaai en deesdae word mense tussen die ouderdom van 15 en 29 jaar beskou as die groep wat die grootste risiko vir selfdood loop.

Die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag) is veral bekommerd oor Suid-Afrika se jeug.

Die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag) is veral bekommerd oor Suid-Afrika se jeug. Navorsing dui daarop dat tot 17,6% van tieners al oorweeg het om hul lewe te beëindig. Meer as 20% van 18-jariges in die land het een of meer keer probeer om hulself om die lewe te bring. Dié statistieke vereis dringende aandag van die gemeenskap, professionele mense en die regering.

Die oorgangsjare na volwassenheid verg aanpassing en is spanningsvol. Indien dié spanning nie reg hanteer word nie, kan dit ’n negatiewe uitwerking hê op jong mense se psigiese gesondheid. Bykomend tot dié druk word Suid-Afrika boonop gesien as een van die gewelddadigste lande ter wêreld. Hoë werkloosheidsvlakke, armoede en politieke onsekerheid plaas verdere druk op gesinstrukture.

Jong mense is impulsiewer en minder vaardig in probleemoplossing en is daarom kwesbaarder wanneer hulle volgehoue spanning moet hanteer.

Professionele hulp is hiervoor beskikbaar en kan ’n groot verskil maak. Huisdokters kan pasiënte na sielkundiges of psigiaters verwys, afhangend van wat die behoefte is. Hierna kan ’n plan saamgestel word om te fokus op behandeling en ondersteuning.

Maar wat van die uitwerking van Covid-19? Die pandemie plaas wêreldwyd groot druk op gesondheidstelsels en te meer so op ontwikkelende lande.

Maar wat van die uitwerking van Covid-19? Die pandemie plaas wêreldwyd groot druk op gesondheidstelsels en te meer so op ontwikkelende lande.

Daar is navorsing wat suggereer dat selfdood afgeneem het in die tyd onmiddellik nadat die pandemie uitgebreek het. Dit word toegeskryf aan die “saamstaan-effek” – die ontstaan van ’n omgewing waar kommer openlik uitgespreek word oor ’n krisis en gemeenskappe saamgesnoer word deur maat­skaplike en emosionele ondersteuning. Dit is dié soort optrede wat as ’n buffer teen selfdood kan dien.

Namate die pandemie draagliker geword het, het die “saamstaan-effek” verswak en dié vangnet vir selfdood vervaag en was daar weer ’n bestendige toename in depressie en selfdood, veral onder vroue.

Selfdood is al vir eeue lank ’n uitdaging vir openbare gesondheidstelsels. Ons het al baie geleer oor die dinamika wat daarmee gepaardgaan.

Die doeltreffende hantering daarvan vereis samewerking van die gemeenskap.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is die doeltreffendste manier vir lande om hierdie probleem te hanteer, die inwerkingstelling van ’n omvattende en multidissiplinêre strategie.

Wat ons in Suid-Afrika dringend nodig het, is ’n nasionale strategiese beleid om selfdood te voorkom. Die nasionale beleidsraamwerk vir psigiese gesondheid en die strategieplan het te min detail en is nie spesifiek saamgestel om selfdood te voorkom nie.

  • Dr. George is ’n kliniese sielkundige en dosent aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) se fakulteit gesondheidswetenskappe.
Meer oor:  Ancel George  |  Dood  |  Selfmoord  |  Jeug  |  Selfdood  |  Depressie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.