Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Selfondersoek sal partye baat
Henry Jeffreys

Die reperkussies van die 2019-verkiesing gaan nog lánk oor die politieke landskap weerklink.

Nie ’n enkele politieke party kan bekostig om nie deur ’n proses van diepliggende selfondersoek te gaan nie.

Die verkiesing het wenners en verloorders opgelewer, met wenners wat uiteindelik ook verloor het, en verloorders wat ook gewen het. Dit is veral die drie groot partye – die ANC, DA en EFF – wat baie het om oor te dink.

Pres. Cyril Ramaphosa was in sy persoonlike hoedanigheid ’n wenner, maar sy party het gewen én verloor. Rama­phosa was sommer vroeg uit die blokke deur hom enkele dae ná stemdag daartoe te verbind om die ANC “skoon te maak” (van korrupsie).

Daar kan min twyfel wees dat kiesers die ANC gestraf het vir die verlore en korrupte jare onder oudpres. Jacob Zuma. Asook vir ondeurdagte en riskante beleidsposisies, soos byvoorbeeld die omstrede onteiening van grond sonder vergoeding.

Daar kan ook geen twyfel wees nie dat Ramaphosa die vertroue van kiesers oor partypolitieke grense heen gewen het. Wat dít betref, was die DA eintlik ’n verloorder.

Baie DA-ondersteuners het hul lot by die VF Plus ingegooi vanweë vermoedens dat die DA sy X-faktor oor kwessies soos die onteiening van grond sonder vergoeding verloor het.

Daarteenoor was die VF Plus ondubbelsinnig in sy veroordeling van die ANC en EFF se omstrede grondplanne. Kiesers glo duidelik dat die VF Plus hul belange in hierdie verband beter sal verteenwoordig en beskerm as die DA.

Laat ons nou maar eerlik wees: Mmusi Maimane, DA-leier, is g’n Tony Leon of Helen Zille nie – en dit het niks met ras of kleur te doen nie.

Laat ons nou maar eerlik wees: Mmusi Maimane, DA-leier, is g’n Tony Leon of Helen Zille nie – en dit het niks met ras of kleur te doen nie.

Kiesers wat in die vroeë tot middel jare 2000 na die DA gestroom het, is deur die party se twee voormalige leiers gelok, en dit het alles te doen gehad met die twee se aggressiewe aanslag eerder as hul herkoms.

Die DA sal baie mooi moet besin of Maimane as leier deel is van die party se toekoms. Dit sal versigtig gedoen moet word, want hy kan nie nog ’n Patricia de Lille-debakel bekostig nie.

Intussen word wyd bespiegel oor Ramaphosa se posisie as ANC-leier. Ná afloop van die verkiesing blyk hy egter redelik veilig te wees, grotendeels weens sy persoonlike gewildheid.

Intussen word wyd bespiegel oor Ramaphosa se posisie as ANC-leier.

Die ANC het meer as 10% van sy steun vergeleke met 2014 verloor. Ramaphosa se kritici in die party kan die swakker prestasie aan hom probeer toedig. Dit sal egter strydig wees met die party se gebruik om “kollektiewe verantwoordelikheid” te aanvaar vir die party se wel en wee.

Dít is die standpunt wat Ace Maga­shule, sekretaris-generaal en vermeende kritikus van Ramaphosa, ingeneem het toe hy gepols is oor die president se aandeel in die prestasie van die ANC – goed of sleg. Hy het die vraag netjies (of so het hy dalk gedink) probeer ontwyk deur te hou by die mantra van “kollektiewe verantwoordelikheid”.

Die kritici sal egter ook maar alte bewus wees van Ramaphosa se gewildheid, nie net in die ANC nie, maar ook in die land. Dit is dus baie moontlik dat enige optrede teen Ramaphosa nasionale weersin en woede kan ontlok, iets wat die ANC kwalik kan bekostig.

Die ANC en die DA het die meeste werk om te doen om ontevrede ondersteuners te oortuig om in die toekoms weer vir hulle te stem. En die toekoms is nie doer ver nie. Dit is om die draai – in 2021, wanneer die volgende munisipale verkiesings gehou moet word.

As ’n mens mooi dink oor die afgelope nasionale verkiesing, het dit eintlik meer oor interne eerder as nasionale kwessies gegaan.

Soos die Engelse spreekwoord lui: “There’s no rest for the wicked.”

Meer oor:  Henry Jeffreys  |  Politieke Partye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.