Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Selfoonfoto’s en woorde bly oor van Karel

Vandag, vier jaar gelede, kom die nuus oor my bakkie se radio: Karel Schoeman sterf. 77 jaar oud. 1 Mei 2017.

Dana Snyman
Dana Snyman

Ek het hom nie geken of ooit ontmoet nie, maar soos baie ander is ek meegesleur deur van sy boeke.

Hy het sy dood goed beplan en het selfs ’n brief agtergelaat vir sy prokureur om aan die media uit te reik. “Ek het genoeg van ouderdom en veroudering meegemaak om seker te wees dat ek self nie oud wil word nie,” skryf hy daarin, “en enige jare gelede het ek besluit om my lewe betyds te beëindig of in elk geval te probeer beëindig”.

Hy sê ook: “Indien ek in my huidige poging slaag, is alle betrokkenes wat my betref vry om met die buitewêreld daaroor te praat.”

Ek is op pad noorde toe, maar by Bloemfontein swaai ek van die N1. Bel intussen rond en kom uit by Marie Rheeder, wat Schoeman geken het.

“Oom Karel,” noem Marie hom, wat vreemd klink, want oor Schoeman se afsydigheid is vele stories vertel: hoe hy altyd alleen gewoon en hoe hy hom kon onttrek wanneer ’n verhouding te intiem geraak het.

Oor Schoeman se afsydigheid is vele stories vertel: hoe hy altyd alleen gewoon en hoe hy hom kon onttrek wanneer ’n verhouding te intiem geraak het.

Marie ontmoet my by die Noorderbloem-aftreeoord waar Schoeman sedert 2008 in ’n klein woonstel gewoon het. Hy het nooit ’n motor besit of leer bestuur nie. Marie het hom geneem waar hy wil wees, teen betaling. Onlangs het hy vir haar ’n nuwe motor gekoop.

“Oom Karel was ’n nederige mens,” vertel Marie terwyl ons na Schoeman se woonstel stap, met herfsblare wat onder ons voete kraak. “Ek’t hom biblioteek toe gevat, en Woolies toe, en kwekery toe.

“Hy was lief vir tulpe, dan sê hy: ‘Marie, ek het myself weer met ’n bossie tulpe bederf’. Hy het net moeg geword. Laas week nog toe sê hy: ‘Marie, ek kan voel hoe raak ek al meer verward’. En sy linkerbeen was nie lekker nie. Hy’t met ’n karretjie geloop. Dit was vir oom Karel te veel om so afhanklik van mense te word.”

“Daar’s sy nartjieboom.” Marie wys na die boom by die woonstel se agterdeur. “Jemina het altyd die oes gekry.”

Jemina Meko is die vrou wat twee keer ’n week Schoeman se woonstel kom skoonmaak het. Sy woon in JB Mafora, een van Bloemfontein se townships. Ek ry soontoe.

JB Mafora is ’n ander land. Jemina se huis is ruimer en mooier as die rondom haar. Schoeman het dit vir haar laat bou. Jemina wys ’n albumpie met foto’s wat sy met haar selfoon van Schoeman geneem het. Hy alleen. Hy saam haar en haar suster, Mamohau Lekula. Een van die verbete ou buitestander saam met hul hele familie, met een van die kleinkinders in sy arms.

Hy het dikwels in JB Mafora kom kuier en het vir Jemina en Mamohau gesê hy gaan weg. “Toe sê ons: ‘Nee, Ntate man. Waarnatoe gaan jy?’ Hy sê: ‘In die hemel. Ek wil nie hê julle moet met my sukkel nie’. Ons sê: ‘Moenie so praat nie. Jy maak ons hartseer’. Dinsdag stuur ek vir hom SMS. Ek sê vir hom: Ntate Schoeman, ek verlang vir jou. Toe antwoord hy nie.”

Vandag, vier jaar gelede.

Meer oor:  Dana Snyman  |  Karel Schoeman  |  Herinneringe  |  Selfdood  |  Skrywer  |  Dood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.