Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Selfs lig voor in die tonnel moet afgeskakel word
Blouwillem

Daar staan ons minister van finansies, die agbare Malusi Geegabba, in die parlement met sy ontwerpersbrilletjie en snyerspakkie, kompleet soos ’n haas in ’n skietlig, en verduidelik vir ons wat ons al lank se tye weet, naamlik dat ons die hele wêreld en sy maat geld skuld, dat hy wat Geegabba is ongelukkig nie geld het vir Nommer Een en sý gabba, Waardemoer Poetin, se kernspeletjies nie en dat die lig voor in die tonnel tot verdere kennisgewing afgeskakel sal word om krag te spaar (waarvan ons terloops skielik heeltemal te veel het! My Kroon, hoedemoer het dit gebeur?)

Terselfdertyd lig die minister van misdaad, Moerhulle Mbalula, ons in dat daadmis erger is as ooit tevore, maar skryf die toestand daaraan toe dat ons nou meer piepols as ooit het en dat daar dus meer piepols is om te vermoor, verkrag, besteel en beroof.

En net om ons ou wekie finaal op te foeter, dreig die tsaar van onderwys in Gauteng ons dat ons ou kindertjies en kleinkindertjies

maar dom sal moet bly omdat hy ver-

geet het om skole te bou.

Amper soos die talle ministers van droogte wat een ná die ander vergeet het om damme in die Kaap te bou. Ja, my Kroon, daai goed met die walle en die sluise wat moet keer dat al die vars water see toe loop waar dit in die sout beland en wat julle dan weer met moeite en verdriet moet probeer ontsout.

Halloooou! Soos Dik Daan altyd sê as hy foto’s van gevaarlike, gesoekte misdadigers by polisiekantore sien: “Hoekom nie sommer net die ouens daar hou toe hulle die foto’s geneem het nie?”

Ek sien die onderwystsaar dreig om onderwysers minder te maak om begrotingsredes.

Klink na ’n goeie idee as ons slimmer kinders wil hê en baie soos die tyd toe die slimjanne lane op die N1 wou toemaak om die verkeer beter te laat vloei.

Maar gelukkig het ons nie die monopolie op slim politici nie. Vat nou maar vir Skotland, wat ’n miljoen bottels whisky minder vervaardig het nadat die Britse minister van finansies belasting op drank erg verhoog het.

Ek sien die onderwystsaar dreig om onderwysers minder te maak om begrotingsredes.

Met dié dat die Skotte toe ’n miljoen bottels minder whisky verkoop het, is te min belasting gevorder en gaan hy die belasting nou weer hersien.

Klink soos óns ouens, nè?

En wat van die Aussies wat ’n hengse belasting op sigarette gehef het om daarmee ’n veldtog teen rook van stapel te kan stuur.

Die veldtog was egter so suksesvol dat almal ophou rook het, daar te min belasting uit sigaretverkope verdien is en die veldtog teen rook dus gesneuwel het en almal nou weer rook.

Klink ook soos hier.

Daar is darem min dinge so lekker soos sjampanje uit die Curriebeker, maar dit klink my daar was ’n spul onsensitiewe WP-ondersteuners wat hul Saterdagaand te buite gegaan het en wragtig water van alle dinge by hul whisky gegooi het!

Meer oor:  Blouwillem
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.