Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Selfs prinse se lewe gaan verby
Pieter Verster

Prins Philip sterf op 99. Na alle getuienis het hy en koningin Elizabeth ’n mooi huwelik gehad en mekaar ondersteun. In weelde het hy geleef, maar hy was ook ’n weldoener.

Maar op 99, kort voor sy 100ste verjaardag, sterf hy. Sy begrafnis Saterdag was sonder die gebruiklike groot ophef weens die huidige Covid-19-omstandighede en die spanning in die koningshuis. Sy dood bevestig net weer die waarheid dat alle mense die weg van die dood moet gaan. Die dood is seker. Niemand kan dit ontkom nie.

Hoe dink óns oor die dood?

In Genesis 5 is daar ’n geslagsregister. Die refrein wat voorkom, is dat almal van Adam af gesterwe het. Van Henog lees ons egter dat hy naby God geleef het en dat God hom weggeneem het. God verbreek die doodsrefrein.

Hy kán dit doen.

In die Ou Testament is daar egter nie ’n baie duidelik uitgewerkte beeld van die lewe ná die dood nie. Daar is wel gedeeltes in die Psalms en latere gedeeltes in Daniël wat dui op die verwagting dat daar lewe ná die dood is.

Die wêreld is ons woning nie. Dit gaan vir almal verby. Vir prinse en knegte.

Die Nuwe Testament laat geen twyfel oor die lewe ná die dood nie. Die lewe eindig nie by die graf nie. Dit is ’n onteenseglike groot waarheid al word daar nie presies aangedui wat ná die dood wag nie. Wat vasstaan, is dat die lewe nie by die dood eindig nie.

Jesus vertel die gelykenis van die ryk man en Lasarus. Lasarus vind ná die dood rus by Abraham. Die onbarmhartige ryk man beleef groot smart. Hy wil sy broers gaan waarsku, maar hulle sal nie luister nie. Dit sou so wees selfs al sou iemand uit die dood na hulle kom, want hulle het Moses en die profete se getuienis.

Die wonderbare getuienis van Paulus oor die lewe ná die dood kom voor in 1 Korintiërs 15: Jesus het opgestaan uit die dood. Daarom is daar ook die ongelooflike sekerheid dat hulle wat in Hom glo ook in heerlikheid sal opstaan. Dit sal verheerlikte liggame wees soos ’n koringkorrel wat sterf, maar heerlik uitgroei. Jesus se opstanding en belofte van lewe met Hom bied groot rus.

Paulus skryf oor die verwagting van die lewe ná die dood ook onteenseglik in 2 Korintiërs 5:1-10. Daar is by hom die verlange om oorklee te word wanneer sy aardse tentwoning afgebreek is en met ’n hemelse woning vervang word.

En is dit nie Jesus self wat in die Johannes-evangelie belowe dat in die huis van sy Vader daar baie woonplek is nie?

Die dood het nie die laaste woord nie. Jesus het opgestaan. Daar is hoop, want Hy verseker van die ewige lewe met en by Hom. Die Bybel waarsku ook ernstig. God se oordeel is regverdig. Almal sal voor Hom verantwoording doen. Daar is lewe ná die dood in heerlikheid en daar is lewe ná die dood in oordeel. Die liefde van Jesus, die Een wat opgestaan het, wil ons verseker van lewe by God in heerlikheid.

Daar is dus meer as hierdie lewe.

Die wêreld is ons woning nie. Dit gaan vir almal verby. Vir prinse en knegte. Daarom is dit so belangrik om skatte in die hemel bymekaar te maak deur liefde tot God en die naaste te bewys. Jesus sê dat waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.

Beteken dit dat hierdie lewe onbelangrik is? Natuurlik nie.

Juis hier op aarde maak ons skatte vir die hemel bymekaar. Juis hier leef ons uit God se genade in alles wat ons doen. Maar wat ’n wonder om te getuig dat daar oneindig meer is as ons bestaan op aarde, juis ná Paasfees waar ons Jesus se opstanding gedenk, kan ons dit getuig.

  • Prof. Verster is ’n emeritus-hoogleraar in sendingwetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat se fakulteit teologie en religie en waarnemende hoof van die departement religiekunde.
Meer oor:  Pieter Verster  |  Dood  |  Sterf  |  Prinse  |  Afsterwe  |  Lewe  |  Geloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.