Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Selfs Sokrates gooi soms die handdoek in
Prof. Hennie van Coller van Bloemfontein Foto: Verskaf

My goeie vriend is getroud met ’n regte Xanthippe, die legendariese bose vrou van die wyse Sokrates. Ná ’n huwelik van byna 40 jaar begryp hy steeds nie die oorsprong van haar onverwagte buie nie. Maar, nou ja, as Sokrates ook die handdoek moes ingooi, hoe kan ’n hedendaagse (aspirerende) filosoof slaag?

Dis my vriend wel. Ná net één stewige whiskey – of twee wyne – soek die wysgeer in hom uitkomkans. Dan tuur hy in die verte en praat ietwat omslagtig oor een van sy baie passies: Van die oerknal tot by die vrye wil. Een van die durendste is vrouens.

Verlede week deel hy my formeel mee dat hy besig is met ’n gids oor vrouens. As lank getroude pa van drie dogters (én baas van twee Staffie-tefies) het hy volgens hom die nodige ervaring. Met die gids in hande kan jong mans baie slaggate en skermutselings vermy.

Die gids gaan glo bestaan uit ’n reeks hoofstukke wat telkens ’n vraagstelling gaan wees: Hoe hanteer ek haar buie – veral op sekere tye? Hoe laat ek taktvol blyk dat sy besig is om te stoel en binnekort nie meer in haar (duur) klere gaan pas nie? Hoe tree ek op as sy my duur BMW wéér stamp?

Moet ek altyd openhartig wees en die waarheid vertel? Soos dat haar leerrompie haar vet laat lyk?

Moet ek altyd openhartig wees en die waarheid vertel? Soos dat haar leerrompie haar vet laat lyk? Of dat my sekretaresse my verras het met David Beckham-naskeermiddel? Of dat ek die lewerkoekies waarmee sy my dikwels verras, eintlik verpes? Of dat ek heimlik dink dat haar ryk broer, wat sy verafgod, eintlik maar ’n pierewaaier én blaaskaak is?

My vriend, die aspirant-filosoof, is min onder die indruk van my kritiek dat vrae maklik is, maar antwoorde veel moeiliker. Nee, sê hy, wat tel is die bewusmaking van probleemgebiede. Elke man moet dan maar sy eie optrede beplan, want elke oorlogsterrein het sy eie strategiese uitdagings.

As ervare eggenoot en vader sal hy dan moontlike optredes as antwoorde uitstippel. Soos dat jy al die oorskietkos wat vroulief altyd in margarien-houers pak, merk of herpak in Tupperware-bakkies.

En dat jy sê jy het die naskeermiddel self gekoop om lekker vir haar te ruik óf by ’n gholfdag gewen het.

Vrouens, sê ek vir hom, kla altyd aan die begin van die huwelik omdat mans hulle nie net wil vashou nie. Later in die huwelik kla hulle weer omdat jy hulle nét wil vashou. Wat is die groot wysgeer se raad hieroor, wil ek weet. Maklik, is sy antwoord. Jy aanvaar maar die feit dat alle vrae nie antwoorde het nie. ’n Mens buig nederig voor dié geheimenisse.

Toe verskyn die Xanthippe en vra stroopsoet: “Wat braai ons vanaand, liefie?”

En ek besef meteens dat hy reg was: Voor die Groot geheimenisse swyg ’n mens maar net.

Prof. Van Coller is vanjaar die medewenner van die Jan H. Maraisprys vir uitstaande bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal.

Meer oor:  Vroue  |  Huwelik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.