Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Selfs Trump se regters laat hulle nie boelie
Die Amerikaanse hooggeregshof se uitspraak oor die verkiesingsuitslag in die deelstaat Pennsilvanië was 'n mokerslag vir pres. Donald Trump. Foto: Reuters

Dit was dalk die verwoestendste uitspraak in die 21ste-eeuse Amerikaanse geskiedenis, dié enkele sin waarmee die hooggeregshof pres. Donald Trump se toenemend wanhopige poging gekelder het om sy verkiesingsnederlaag in ’n oorwinning te omskep.

’n Trump-bondgenoot het die hooggeregshof genader met die versoek om die verkiesingsuitslag in die deelstaat Pennsilvanië, wat Trump verloor het, ongeldig te verklaar. Dis gemotiveer met die stelling dat die staat se kieswet ongrondwetlik is.

Die beslissing is sonder meer ’n mokerslag vir Trump. Wat dit des te pynliker maak, is dat die uitspraak eenparig was – al nege regters het daarmee ingestem. Dit geld ook die regters wat Trump self aangestel het: Neil Gorsuch, Brett Kavanaugh en Amy Coney Barrett.

Trump het in die verkiesingsveldtog herhaaldelik gespog dat sý regters hom in enige saak oor die verkiesingsuitslag sou steun. Selfs twee uur voor die uitspraak nog het hy in ’n rede openlik druk op hulle uitgeoefen: Nou sal blyk of die regters die moed het om te doen wat “almal” weet korrek is.

Dis Trump se soveelste foutiewe aanname.

Dié drie regters, en hul ses kollegas, is professionele juriste wat nie toelaat dat hul politieke oortuigings hul juridiese beslissings bepaal nie, en wat nog minder toelaat dat ’n president hulle boelie.

Daarmee volg hulle die voorbeeld van regters in meer as 30 verskillende sake wat almal Trump-hulle se pogings verwerp het. In geen enkele daarvan kon die Trump-regspanne enige bewyse voorlê dat die Demokrate die oorwinning van Joe Biden bekook het nie.

Ondanks alle wanhoopspogings om dit te voorkom, gaan Biden op 20 Januarie as president ingehuldig word.

Nog is het einde niet. Ná dié uitspraak het die deelstaat Texas en 17 ander state waar die Republikeinse Party regeer, ’n saak by die hooggeregshof aanhangig gemaak om die stemme van kieskollegelede in vier swaaistate ongeldig te verklaar omdat die verkiesings daar bekook is. Trump het getwiet: “Dís die groot een!” Hy het gevra om as party tot die saak toegelaat te word.

Teen die agtergrond van vandeesweek se uitspraak van een sin, meen regsgeleerdes, het Texas se saak geen kans om te slaag nie. Selfs ’n besonder regse nuusblad, The National Review, het dit “ligsinnig” genoem.

Tot dusver was die Amerikaanse demokratiese stelsel dus sterk genoeg om Trump se aanslae, wat op ’n soort staatsgreep-poging neerkom, te weerstaan. Daar kan geen twyfel wees nie: Ondanks alle wanhoopspogings om dit te voorkom, gaan Biden op 20 Januarie as president ingehuldig word.

Die krag van die regstaat blyk ook uit iets anders. ’n Moreel muwwe reuk hang naamlik oor Biden se seun Hunter, wat van allerlei onwelriekende sakepraktyke verdink word. Federale aanklaers ondersoek Hunter se sakepraktyke nou vir beweerde korrupsie en belastingontduiking. Die reg in ’n demokrasie is blind.

Maak nie saak wie se seun jy is nie.

  • Dr. Scholtz is ’n onafhanklike kommentator wat in Nederland bly.
Meer oor:  Wêreldburger  |  Menings  |  Donald Trump  |  Vsa  |  Hooggeregshof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.