Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Selfs weeskinders kan leer van liefde

Ek het nugterverdriet.

Ek lê al vir ’n paar weke in ’n bad van selfbejammering en elke keer as dit koud raak, draai ek die warm water aan, sodat ek nog ’n rukkie daarin kan sit.

Ek is eintlik wees. Ek was jare terug in ’n kinderhuis, maar ek was nie ’n weeskind nie.

Ek het tot dié besef gekom toe een van my “beste vriende” op ’n partytjie in sy besope toestand my gekoggel het omdat ek in die kinderhuis was.

Ek het nog altyd grappe oor my verlede gemaak en dit het my nog nooit gepla nie.

Ek het ’n fees in die kinderhuis gehad en vertel graag staaltjies – ek het nog nooit minderwaardig gevoel nie.

Die aand toe hy aanhoudend grappe gemaak het om ander te vermaak, het ek vir die eerste keer minderwaardig gevoel.

Een van sy “gehoorlede” wat hy so hard probeer vermaak het, het hom gevra of hý in ’n kinderhuis was, hy het dit verwoed ontken en gesê: my ouers was lief vir my.

Daai woorde het my soos breinvries getref. Dit eggo steeds.

Die woord “lief” het my die meeste gepla.

Ek het oor en oor daarna vir die Here gevra wat liefde is, of wat ek dink liefde is werklik liefde is.

Verwar ek dalk liefde met vriendelikheid? Het ek al liefde ervaar?

Weet ek hoe om werklik lief te hê? Waar leer ’n mens om lief te hê?

Terwyl ek in die kinderhuis was, het ons in al die jare elf verskillende huisouers gehad.

Ons is maniere geleer en oor die Bybel ensovoorts, maar liefde?

Ek ken my regte ma en kommunikeer met haar, maar ons het slegs ’n finansiële verhouding wanneer ek en my broer vir haar geld vat.

Ons gesprekke is oppervlakkig en bevat nie belangrike inhoud nie.

Bloed is al wat ons in gemeen het en dit maak ons lojaal. Sy is ’n goeie mens, maar ook ’n vreemdeling.

Is sy lief vir ons? Liefde kan sekerlik nie so voel nie?

Byna tien jaar nadat ek in die kinderhuis was, sou mens dink dat ek iewers die betekenis van die woord sou teëkom.

In my nugterverdriet het ek tot die gevolgtrekking gekom dat in die woorde van my “goeie vriend”, as ons ouers nie “lief” genoeg vir ons was om ons te hou nie, dan het die lewe ons ook verwerp.

Ek is werklik wees met ’n
ouer.

Ek is die vullis van die lewe, want iemand moet die gemors wees. Niemand raak aan vullis nie. Ek is wees.

“My vriend” se woorde het so diep gesny dat ek nie dronk hoef te gewees het om verdriet te ervaar nie.

Toe sien ek vandeesweek op Facebook dat twee van die meisies wat saam my in die kinderhuis was hul troufoto’s opgelaai het.

Hulle het uitgevind wat liefde is en wat dit beteken.

So al was ons ouers nie so “lief” vir ons soos joune vir jou nie, my “goeie vriend”, ervaar weeskinders van die lewe tog liefde . . .

Meer oor:  Piet Matipa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.