Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Senekal: dis die rede vir optrede
Alida Kok
Alida Kok

Na afloop van die protesaksie wat verlede week by die verhoor van Brendin Horner se vermeende moordenaars plaasgevind het, en ’n vergadering tussen die ministers van polisie en staatsveiligheid en die landbougemeenskap, word drie verskillende narratiewe aan boere se protesaksie in Senekal gekoppel.

Georganiseerde landbou beklemtoon die narratief dat woede in die landbougemeenskap bestaan weens die wanfunksionele strafregstelsel en dat dit vir boere nie ’n “ras-ding” is nie. Hierdie woede het breekpunt bereik met die geweld by die hof in Senekal. Die departement van justisie – onder meer verantwoordelik vir die nasionale vervolgingsgesag (NVG), die regbank, howe en tronke – is op die rand van algehele ineenstorting. Misdaad in die algemeen en plaasmoorde, wat nou ook as plaasterreur beskryf word, kan nie deur ’n wanfunksionele strafregstelsel hokgeslaan word nie. Boere is uiters kwesbaar, veral ook weens die buitengewone wreedheid van die aanvalle.

Die president en die regering voer ’n meta-narratief aan, waarin hulle beweer dat die Senekal-protes ’n simptoom van rassehaat is. Die president lig in sy weeklikse skrywe uit dat ’n “gewelddadige moord op ’n jong wit boer, na bewering deur swart mans, gevolg deur ’n spektakel van wit boere wat die polisiekantoor bestorm het om by ’n swart verdagte uit te kom, wonde oopgemaak het wat generasies teruggaan ... wat in Senekal gebeur het, wys net hoe maklik die kruitvat van rassehaat aan die brand gesteek kan word”.

Die aanvanklike klag van terrorisme – om ’n voorbeeld van André Pienaar te maak – dui daarop dat die ANC-staat die gebeure as ’n opstand teen die staat sien.

Dié meta-narratief oor rassehaat verbloem die krisis waarin die strafregstelsel is en ’n bykomende betekenis van boere se protesaksie by die hof in Senekal wat verband hou met selfbestuur.

Die regering se reaksie op die Senekal-protes en spesifiek die aanvanklike klag van terrorisme – om ’n voorbeeld van André Pienaar te maak – dui daarop dat die ANC-staat die gebeure as ’n opstand teen die staat sien. ’n Staat moet sy territoriale jurisdiksie en soewereine mag behou en die feit dat ’n klein groep mans by Senekal weggebreek het en kantore in die hofgebou omgekeer het, is simbolies van ’n opstand teen die oppergesag van die reg en die soewereiniteit van die staat.

Dit word so gesien omdat burgerlikes met geweld teen die departement van justisie en die regsprekende gesag opgetree het, kompleet soos ons eie Bastille-dag.

Daar is ongelukkigheid dat EFF-lede, wat verantwoordelik is vir soortgelyke aksies, nog nooit van terrorisme aangekla is nie. Dit is omdat die EFF se optrede merendeels gemik is op die kriminalisering van ’n wit minderheid. Openbare geweldpleging en aanhitsing tot geweld deur die EFF word nie as ’n opstand teen die staat gesien nie. Daarom is hul aksies ook minder dreigend vir die ANC-staat en hoef dit nie soortgelyk vervolg te word nie.

’n Bykomende rede waarom opstandigheid teen die staat by die protesaksie in Senekal ingelees word, is die konteks van ’n groeiende gees van selfbestuur wat veral onder Afrikaners in veral die noorde van die land begin posvat het. Die gees van selfbestuur het toegeneem tydens die staat van inperking. Die ANC is bekommerd dat selfbestuur die oorsentralisering van politieke mag in die nasionale regering kan belemmer. Die tema word selfs by vergaderings van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) bespreek.

Dit is dus noodsaaklik vir gemeenskappe se selfbestuurpogings dat protesoptrede more in Senekal vreedsaam geskied. As geweld weer deel is van protesaksie sal dit die spanning tussen die ANC-staat en gemeenskappe wat hulself wil bestuur onnodig verskerp.

  • Kok is ’n dosent in politiek aan Akademia.
Meer oor:  Alida Kok  |  Terrorisme  |  Senekal-Protes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.