Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Senekal-gedrag is nie uitweg nie
Gert Coetzee

Brendin Horner (21) is op die plaas by Paul Roux met voorbedagte rade oorval, doodgemaak en erg geskend aan ’n paal vasgemaak.

Soos alle plaasmoorde is dit onmenslik, wreedaardig, lafhartig en met voorbedagte rade.

Dit moes nooit gebeur het nie.

By die verskyning van sy vermeende moordenaars in Senekal bars boere ná aanhitsery die hof binne en rig skade aan. Buite word ’n polisievoertuig omgegooi. ’n Redaksielid sien hoe een uit die groep boere blitsig ’n vloeistof op die buiteband gooi en verdwyn.

Toe skarrel hy weer nader, steek sy hand uit en steek dit aan die brand.

Soos alle vandalisme, ook in die skuiling van die opgesweepte kudde, is dit laakbaar en onverskoonbaar.

Dit moes ook nie gebeur het nie.

’n Bestekopname oor eergister se chaos en skade – veel meer as net aan stoflike goed – op Senekal sou in die emosionele kon verval.

Rasioneel beskou, is die blote feit eenvoudig: Die land sit op ’n kruitvat.

Wat is emosioneler as naastes wat koelbloedig afgemaai word?

Rasioneel beskou, is die blote feit eenvoudig: Die land sit op ’n kruitvat.

Een met ’n kort lont wat brand.

Dit hou niks goed in vir die volgende hofverskyning op 16 Oktober nie. (Niks is gesê dat dit nie weer Senekal is nie.)

Daag die EFF ook op, soos hy dreig, en die aanhitsers en opswepers neem teenoor mekaar stelling in en ras-skel-woorde begin vlieg, wag ’n bloedbad.

Dit verg net een skoot.

Al klein genade eergister was juis dat die polisie nie skerp ammunisie gehad het nie. Waarskuwingskote en skokgranate kan ek nogal verstaan, al verskil baie natuurlik. Nie ligtelik só nie, maar die fiasko roep beelde van die Slag van Bophuthatswana (in 1994) of die Marikana-slagting op. Of in 1976 toe die polisie by die Soweto-opstande op oproeriges losgebrand het.

Wat dan sou die woedendes by die hof gedoen het as hulle die verdagtes in die hande kon kry? Hulle doodgeslaan het?

Die skorriemorrie bied skietgoed vir hulle wat boere as die probleem wil uitmaak.

En wat sou daarop gevolg het?

Watter verskil sou dit aan die groot probleem – die kru fenomeen van plaasmoorde – maak? Beteken dit die bloeddorstiges gaan nou by elke hofverskyning van verdagte plaasmoordenaars toeslaan, ongeag die gevolge? Waarheen eskaleer dit dan?

Sou daar enige wenners wees?

Op die tydstip lyk dit uitsigloos; met nóg en nóg boere en hul mense wat vermoor gaan word.

Soos met probleemstellings (in die geval is dit ’n treurspel) eers oorsake van plaasmoorde – wat nie so klinies rigied soos hier is nie: roof (plaashuise word as “kitsbanke” beskou, volgens ’n studie); misdaad vir die boosaardigheid daarvan; agterstande en ongelykhede; politieke faktore, soos onwil en oor-korrektheid (plek-plek is dit glad taboe om van “plaasmoorde” te praat); veiligheidsfaktore en menslike faktore. Deel van Suid-Afrika se tragiek is dat laasgenoemde ras en rassisme insluit.

’n Cowboy met ’n duur hoed help nie.

En natuurlik denkwyse. Alle Suid-Afrikaners (boosdoeners uitgesluit) moet plaasmoorde veroordeel. Maar talle van hulle, beslis nie almal nie, vergoeilik ook die skurkagtige geweld op Senekal asof dit regverdigbaar is.

Die Senekal-optrede is nié die oplossing nie – soos Wouter Wessels, VF Plus-LP uitgewys het. Die skorriemorrie bied skietgoed vir hulle wat boere as die probleem wil uitmaak.

Van regeringskant gaan erkenning van en aandag aan plaasmoorde, ook as ’n prioriteitsmisdaad, nodig wees.

’n Cowboy met ’n duur hoed help nie.

Van boere, landbou-organisasies, kerke en almal vra dit wyse leierskap. Agri SA se gesprek met genl. Khehla Sitole, kommissaris van polisie, was ’n stap in daardie rigting. ’n Oplossing gaan nie ’n moment wees nie, maar ’n onvoltooide proses. Ja, nog gaan sterf.

Maar nog ’n Senekal help niks nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.