Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Senekal: ’n Drama

Die gebeure in Senekal was eintlik niks minder nie as die afspeel van ’n drama in ’n veilige openbare ruimte in ’n drumpeltyd wat voorspel wat eintlik moontlik is, skryf Cas Wepener.

Foto: istock

Op sosiale media word daar enkele­ kere na die gebeure verlede week as “Die Slag van Senekal” verwys.

Inderdaad, maar ’n mens moet net as onderskrif byvoeg: “ ’n drama”. En, meer korrek, ’n drama as deel van ’n groter maatskaplike drama. Dis ’n drama wat in die publieke domein ten aanskoue van die nasie afspeel. En, net soos rituele, skep drama ’n stuk liminaliteit, plaas dit met ander woorde mense, plekke en gebeure vir ’n kort tydjie op ’n drumpel. Daardie drumpel is ’n verhoog soos in ’n teater waarop alledaagse lewens en verhoudings uitgebeeld word.

Verlede week is ’n doodgewone Vrystaatse dorp, soos ons universiteitskampusse enkele jare gelede, in ’n teater omskep. In ’n dorp waar daar nie normaalweg mense met kruise rondloop (en vuurwapens en knopkieries); Christelike liedere op straat gesing word (en “Awuleth’ umshini wami”); bykans almal óf rooi óf kakie dra (en baniere met slagspreuke); bakkies en vragmotors normaalweg vee vervoer en nie preekstoele is nie; en mense nie op sypaadjies op hul knieë gaan nie, verander alles in ’n oogwink.

Dieper simboliek

Senekal is met handelinge en voorwerpe tydelik omskep tot verhoog met dekor, akteurs, mededingende regisseurs en vele rekwisiete. Natuurlik was alles baie ernstig en eg, maar dit het vir seker ook ’n simboliese kant gehad.

Die Slag van Senekal as drama kan gelees word deur die lens van die antropoloog Victor Turner se latere werk.

Dis veral Turner wat met sy vroeë werk die begrip liminaliteit bekend gemaak het. Dis daardie kreatiewe en vrugbare tussenin-tyd of drumpeltyd in sekere rituele. Daar word ’n spesifieke ruimte vir ’n tydjie afgesonder en “geheilig” en leer dié wat dit betree, baie oor hulself; moet hulle bewustelik nadink oor hul rolle en verhoudings (byvoorbeeld amaKweta, Xhosa- seuns in die bos wat nie seuns of mans is nie, maar besig is om ’n nuwe­ identiteit te verkry).

Dit is in sulke rituele ’n baie private drumpeltyd en slegs ingewydes mag dit betree.

Hele nasie uitgenooi

Later het Turner meer begin belang stel in openbare drumpeltye en kyk hy ook al hoe meer na drama en toneel as voorbeelde daarvan. Ook feeste en rituele wat op die dorpsplein uitgevoer word.

Die soort opvoerings wat ons in Senekal gesien het en na hierdie opvoerings is die hele nasie uitgenooi. Die drama wat in Senekal afgespeel het, pas ook in ’n groter maatskaplike drama, nog een van Turner se konsepte. Daar was met ander woorde reeds ’n lang aanloop voor Senekal in ag genome sekere probleme.

Wanneer die opvoerings plaasvind, dikwels in kombinasie met juridiese prosesse, soos die verrigtinge in Senekal se hof, is ons in die fase­ wat probeer om dinge te herstel. Hierdie pogings kan ’n goeie of ’n slegte uiteinde hê.

Spieël vir die samelewing

Turner is van mening dat hierdie openbare ruimtes wat tydelik in drumpelruimtes omskep word, ’n samelewing help om na homself te kyk.

Só byvoorbeeld word die mense van die land se verhoudings in Die Slag van Senekal gedramatiseer. Maar dit word soos reeds genoem in Senekal op ’n drumpel uitgebeeld en daarom mag ons alledaagse verhoudings op daardie verhoog tydelik op sy kop gekeer word. Wat andersins taboe is, is tydelik wel moontlik.

Iemand wat gewoonlik ’n werker is, dra nou ’n uniform, wat hom solank as wat hy op daardie verhoog is op ’n gelyke voet met sy werkgewer plaas wat nou ook maar net ’n akteur op dieselfde verhoog is.

Of, mense wat glad nie eens werk het nie, kry vir ’n kort tydjie ’n stem en mag nes ’n direksievoorsitter ook ’n mening in die drama huldig. Of diegene wat gewoonlik hiet en gebied en bulder, se stemme­ word nie eens op ag geslaan nie, hulle word ge-upstage. Of kleiner breuklyne, byvoorbeeld die spanning tussen sekere rasse, soos wat enkele Suid-Afrikaners dit graag wil sien, word buite proporsie opgeblaas in openlike konfrontasies.

Dit is alles uiteraard gevaarlik en potensieel bedreigend, want baie mense wat nooit eens van so ’n ommekeer van rolle sou gedroom het nie, sien dit voor hul oë gebeur. En as dit in Die Slag van Senekal moontlik is, hierdie alternatiewe rolle, wel, dan is dit dalk mos net in die alledaagse lewe ook ’n opsie.

Bedreiging

Dit is waarom sulke openbare dramas en drumpeltye vir diegene wat regeer, of wat die een of ander mag of beheer het, uiteraard ’n bedreiging­ inhou.

Turner stel dit so: Die drumpeltyd weeg die niedrumpeltyd.

Met ander woorde, dit wat ons vir een Woensdag of Vrydag in Senekal sien en beleef, weeg die Suid-Afrika en haar verhoudings op al die ander dae wanneer die drama nie uitgevoer word nie.

Dit wat in hierdie drama gebeur, kan dit wat is, roer. Ons het met #RhodesMustFall en #FeesMustFall gesien openbare drumpeltye en die gepaardgaande openbare opvoerings kan diep en indringend werk en die status quo gas gee.

Dié openbare dramas is ’n belangrike onderdeel van ’n groter proses, die vermelde maatskaplike drama, en gaan hand aan hand met geregtelike en politieke prosesse om doelwitte soos versoening na te streef.

Geleentheid vir kritiek

Turner skryf dat wat mense op daardie verhoog sien, hulle aan die dink sit oor wie hulle is binne ’n samelewing. En dit is ’n soort denke wat kan ondermyn.

Dis juis ook wat hofnarre in toneelstukke en spotprente in koerante so gevaarlik maak, ook sommige kuns: Dit sit mense aan die dink en beeld selfs scenario’s uit wat gewoonlik nie op die tafel is nie.

Só kan die openbare dramas die bestaande wyse waarop ’n samelewing funksioneer, uitdaag en selfs help verander, soms ten goede.

Volgens Turner is iets soos “Die Slag van Senekal”, die drama, juis ’n kritisering van die samelewing waarbinne dit ontstaan het.

Kritiseer kom van die Griekse krinein, naamlik om te dissekteer of die lig deur iets te laat skyn sodat dit noukeuriger beskou en beoordeel kan word. Iets soos Die Slag van Senekal is as drama in die openbaar en volgens Turner ’n spieëlsaal­ waar almal hulself en ander kan sien. Daar het die lig verlede week geskyn deur ons alledaagse verhoudings – en ken ons onsself nou? Het ons die spieël gesien?

Almal is geraak

Dramas soos hierdie, wat handelinge is, is net soos woorde, agente van verandering. Deur daaraan deel te neem, word verandering uitgebeeld en bewerkstellig.

Niemand wat daaraan deelgeneem het, bly onaangeraak nie, ook nie die samelewing waarbinne dit opgevoer is nie. Niemand wat die dramas wat op die kampusse van byvoorbeeld Wits of Ikeys of Maties meegemaak het, kan ooit daarna weer dieselfde dink en wees nie.

En in samewerking met juridiese en politieke prosesse het dit die landskap van tersiêre onderwys gewysig.

Niemand wat deelgeneem het aan Die Slag van Senekal (en as ek TV gekyk, koerant gelees of Facebook gevolg het, sluit dit my in), is onaangeraak daardeur nie, want dit laat ons (nuut) dink.

Natuurlik is daar legio teoretiese lense wat op die gebeure in Senekal geplaas kan word. Turner se teorie sit onder meer die voor die hand liggende op die verhoog, paradeer en parodieer dit in die strate van ’n dorp: Ongelykheid en magswanbalanse moet aangespreek word voordat verhoudings gaan verbeter.

Mense wat dit in gewone tye nie sal waag om hul stemme dik te maak nie, het dit verlede week luidkeels in hul uitrustings op die verhoog in Senekal gedoen, want ’n drumpel skep ’n veilige ruimte.

Dit beteken hulle het ’n diep behoefte om dit ook in die onveilige ruimtes van ons land te doen en besef algaande, net soos duisende mense in die struggletyd dit ook algaande besef het, hulle kan.

Openbare drumpels gee vryheid en soos Janis Joplin tereg sing: “Freedom’s just another word for nothing left to lose.”

Wepener is ’n professor in teologie aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Cas Wepener  |  Gemeenskap  |  Politiek  |  Drama  |  Geweld  |  Senekal-Protes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.