Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Senekal: Politiek van oproer en empatie

Mag ons onthutsing oor die gebeure in Senekal ons leer om meer empaties met ander se woede jeens die regering om te gaan, en mag ons met medeburgers oor gedeelde kwellinge hande vat, skryf Frederik R van Dyk.

’n Polisievangwa brand buite die landdroshof in Senekal. Foto: Mlungisi Louw

Vandeesweek se gebeure op die klein Vrystaatse dorpie Senekal was onthutsend, oftewel umheimlich in Duits.

Die begrip verwys na ’n ambivalente ongemak; ’n bekendheid wat ook met onbekendheid verweef is.

Hierdie onsekere ongemak of onbepaaldheid het twee bene. Eerstens is protes en oproer reeds voor die demokratiese era niks nuuts nie.

In Suid-Afrika het ras en herkoms, ondanks ’n Grondwet wat nierassigheid nastreef, ’n hardnekkige alomteenwoordigheid: Oproerige protes word dikwels as ’n “swart ding” gestereotipeer, geheel en al onbekend of selfs “onnatuurlik” vir wit mense.

Daar is opvallend geen wapens, ou landsvlae of klinkklare simboliek van 20ste-eeuse Afrikaner-regsheid nie.

Die onlangse #BlackLivesMatter-betogings in die VSA het onder baie Suid-Afrikaanse wit mense die indruk laat verhard dat wettelose vernietiging en oproer ’n universele “swart ding” is.

En toe gebeur Senekal.

Ná die soveelste plaasmoord waarin ’n wit landbouer sterf, trek honderde mense, volgens sommige berigte selfs soveel as ’n paar duisend, op na die landdroshof waar die twee verdagtes in die moord op Brendin Horner sou verskyn. Daar is toesprake en verteenwoordigers van landbou- en Afrikanerbelange-organisasies. Daar is motorfietsryers, plakkate, wit kruise, trane en vasbeslotenheid. Daar is opvallend geen wapens, ou landsvlae of klinkklare simboliek van 20ste-eeuse Afrikaner-regsheid nie.

Daar is sidderende dog stille woede, frustrasie en ’n gedeelde sensitiwiteit vir sistemiese onreg. Volgens talle aanlyn toeskouers se kommentaar, is dit ’n “beskaafde” (lees: wit) protesaksie.

Mat onder baie se vooroordele uitgepluk

Genoeg is genoeg, was die boodskap van mense wat buite die landdroshof in Senekal saamgetrek het om protes teen plaasmoorde aan te teken. Foto: Mlungisi Louw

Later die oggend kom die tyding dat die twee verdagtes se volgende verskyning tot 16 Oktober uitgestel is. Wat daarna presies gebeur het, sal ons miskien nooit weet nie. Dalk het mense nie verstaan dat ’n strafverhoor nie in een dag tjoef-tjaf afgehandel kan word nie. Dalk het die woede en keelvol-faktor net bo alle redelikheid gemanifesteer. Maak dit regtig saak?

Die feit is: Die Senekalse oproer van 6 Oktober 2020 is die eerste keer in talle Suid-Afrikaners se politieke geheue en belewenis dat ’n groep wit mense, spesifiek Afrikaners, só oproerig raak dat geweld en brandstigting gepleeg word.

En hierdie oomblik is ontsettend belangrik vir die pad vorentoe, veral in hierdie era van sosiale media en blitsnuus.

Die onthutsing was tasbaar op sosiale media. Op die Engels-oorheerste sosialemediaplatforms het Suid-Afrikaners, heel ironies, meer simpatiek en onseker op die Senekal-oproer as op Swart Maandag gereageer. Dalk was die afwesigheid van simbole uit die ou bedeling die rede hiervoor.

Die mat is onder baie mense se vooroordele en wêreldbesinnings uitgeruk.

Of miskien het die rou menslike woede iets in ander Suid-Afrikaners geroer. Iets wat oor die jare meer tekenend was van swart mense se pyn, woede en frustrasie met ’n dowe regering?

In die Afrikaanse media het onthutste, gewone lesers nie geweet watter kant toe nie. Die mat is onder baie mense se vooroordele en wêreldbesinnings uitgeruk. Sommige het ongemaklik konsekwent probeer bly en die geweldpleging onverwyld veroordeel.

Ander het ’n morele streep tussen die vreedsame betogers en die geweldenaars getrek. En ’n hele paar ander het die geweld probeer regverdig (“Dis die hoeveelste moord; die mense is gatvol!”) maar in gebreke gebly om te verduidelik waarom swart oproer nie dieselfde regverdiging kry nie.

Kyk na gemeenskapstrauma

’n Toneel tydens ’n betoging van die groep Gatvol Capetonians vroeër vanjaar. Foto: Jaco Marais

Ek het teruggesit van my skerm en ’n vreemde begripsoeke in my voel opwel. Wat is dit wat ek voel? Is dit empatie met jare se oproerige woede onder swart medeburgers? Het dit gewelddadige mense uit my eie kultuurgemeenskap geneem om my empatie te leer? Is empatie met oproeriges “behoorlik en geskik” vir ’n regsgeleerde?

Empatie het die laaste paar jaar in debatte oor maatskaplike geregtigheid opnuut aandag gekry. Daar word oor die algemeen geredeneer dat die Weste weens die kulturele premie op individualistiese materiële drif versuim het om empatie te internaliseer.

Die gevolg is ontwortelde en ongelyke gemeenskappe, gekenmerk deur ’n verbruikerskultuur. In die omgangstaal het “empatie” nie juis ’n politieke betekenis nie.

Ons ken empatie as “meegevoel”: Die vermoë om ’n ander se pyn te verstaan op grond van gedeelde trauma.

Die politieke betekenis van empatie is die omsigtige hantering van gemeenskapstrauma en die uiting daarvan. Net soos jy ’n ander persoon se traumatiese ervaring nie uit die staanspoor afskryf nie deurdat jy eers soek na gronde vir begrip, so moet ons ook na gemeenskapstrauma begin kyk.

Vir die eerste keer kyk ek opreg anders na diensleweringsbetogings, wat dikwels met geweld en vernietiging gepaardgaan.

Ek dink Senekal het my hierdie dieper begrip van empatie deur ervaring laat verstaan. Vir die eerste keer kyk ek opreg anders na diensleweringsbetogings, wat dikwels met geweld en vernietiging gepaardgaan.

Selfs oor #FeesMustFall en hul frustrasie met die hoëropleidingstelsel voel ek anders. Ek verskil in ’n mate met van hierdie bewegings se beweegredes, maar wanneer sistemiese onreg op ’n spits gedryf word, moet ons dalk drasties anders na woede begin kyk.

Vir die eerste keer verstaan ek ook Eusebius McKaiser se redenasie dat woede nie dadelik as ’n politieke daad afgeskryf moet word nie. Wanneer die verstandhouding tussen die regering en die burgery deur korrupte misbruik besmet word, kan woede ’n belangrike politieke oortuigingsmiddel wees.

Beteken dit ons kan wettelose vernietiging bloot verskoon omdat ons “begrip” vir ander se woede het?

Dit is ’n gevaarlike proposisie, want ’n staat wat ’n kultuur van geweld laat posvat, gaan baie sukkel om die orde vir ander gemeenskaplike redes te laat geskied. ’n Staat wat nie ’n veilige mate van monopolie oor geweld het nie, kan so erg desentraliseer dat inklusiewe en grondwetlike instellings vernietig word.

Hanteer woede anders

’n Toneel tydens ’n betoging van die groep Gatvol Capetonians vroeër vanjaar. Foto: Jaco Marais

Ons moet woede teen die regering heel anders hanteer. Daar behoort allereers ’n behoorlike diagnose deur ’n bevoegde gesagsliggaam uitgevoer te word oor wat die oorsake van woede is, omdat woede dikwels op die laat stadiums van die regering se ongeërgdheid en verwaarlosing dui.

Dit geld woede oor plaasterreur en diensleweringstekorte. Of so ’n geweegde, empatiese proses in wetgewing of beleid neergelê moet word, is ’n saak vir ’n ander dag.

Die volgende is seker:

• Senekal het vir ewig weggedoen met die stereotipe dat woedende oproer net ’n “swart ding” is. Afrikaners het ook die vermoë om gewelddadig te wees. Ons politieke geheue hieroor is dalk ’n bietjie kort.

• Die polisie en regering gaan sukkel om die geweldpleging in Senekal geloofwaardig te hanteer. As hulle die oproeriges vervolg, gaan hulle inkonsekwent optree hoewel tegnies regmatig. Bheki Cele, minister van polisie, het klaar in hierdie sponsdoring getrap.

• As hulle dit nie doen nie, wys die regering dat hy nie die vermoë het om orde onder enige groep te handhaaf nie. Dis egter ’n Catch-22-situasie wat die regering deur eie toedoen en jare se verwaarlosing veroorsaak het. Die regering sal self ’n billike plan moet maak, en gou ook.

Die politiek van oproer, woede en empatie is in hierdie geknelde land dalk die groot gelykmaker.

Mag ons onthutsing oor die gebeure in Senekal ons leer om meer empaties met ander se woede jeens die regering om te gaan, en mag ons met medeburgers oor gedeelde kwellinge hande vat.

En bowenal, mag ons leer dat woede en oproer ’n kragtige politieke middel teen ’n afwesige regering is, solank dit met morele leierskap en groot grondwetlike verantwoordelikheid gepaardgaan.

* Van Dyk is ’n LLM-kandidaat en direksielid van StudentePlein NWO, ’n organisasie wat Afrikaanse akademiese ondersteuning aan Matie-studente bied. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Black Lives Matter  |  Bheki Cele  |  Senekal  |  Plaasmoorde  |  Afrikaners
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.