Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sensuur stewig Ace-boek net
Gert Coetzee

In die onvergeeflike The Book Thief deur Markus Zusak beskryf hy hoe die horde op die dorpsplein boeke verbrand. Later “steel” Liesel boeke uit die smeulende puin. Haar lees daarvan begelei ontwaking as leser, denker en mens. Die jong Hans betrap haar op ’n keer. “Watter snert lees hierdie meisie, sy moet Mein Kampf lees,” sê hy.

Mein Kampf, ja. Die amateuragtige geskrif waarin Hitler sy kwylende koorsdroom aan die honger Duitse volk verkwansel. Slim strook sy aanbod van meer lebensraum vir die Ariese ras as van die minderwaardige Joodse gelddiewe en andere ontslae geraak is met hul vraag. En wat die Führer geskryf het, was allerwaarheid.

Soos dit in stelsels van verdrukking gaan, is opper-sensuur ingestel om alle teenspraak te smoor. Boeke is verbrand as ’n huldiging aan die eensydige rasse-propaganda wat verkondig is. Soos Joseph Goebbels, Nazi-minister van (wan-)inligting gesê het: “As jy ’n leuen genoeg herhaal, sal mense dit glo en later sal jy dit self ook glo”.

Van boekverbranding was dit ’n klein treetjie na die Jodevolksmoord. Met eiegeregtigheid, regverdiging en ontkenning as deel van die groot leuen.

Van boekverbranding was dit ’n klein treetjie na die Jodevolksmoord.

Dit oordryf dalk, maar Ace-gesindes, ANC-raadslede van Metsimaholo (Ace se Parys-hartland) inkluis, se boekboewery op die bekendstelling van Pieter-Louis Myburgh se Gangster State, Unravelling Ace Magashule’s Web of Capture in Johannesburg waar blaaie uitgeskeur is, herinner kriewelrig hieraan. Die vandalisme is simbolies van totalitêre Stasi-denke waar die staatsmasjinerie van die oppermagtige diktator ten alle koste fopinligting dryf. Waar uiterste sensuur van denke gedy, floreer diskriminasie, verdrukking en korrupsie.

As die vergrypers uitgevang word, skree hulle “Sameswering!”

Dit klink bekend. Die mense mag nie uitvind dat Ace en die binnekring van tenderpreneur-vriende hulle vir jare verkul het en die belofte van “’n beter lewe vir almal” gekaap het nie. Een boekstawing met deeglike bronne in Gangster State, is hoe die Vrystaat-departement van behuising op ’n “inkopie-jaagtog” van nagenoeg ’n miljard rand duisende HOP-huise van kader-kontrakteurs sonder konstruksie-ondervinding maar met ’n slinkse instink vir gunslone bestel het.

Die lydendes is misleide ANC-kiesers wat steeds huisloos is of met onbewoonbare huise sit.

Die lydendes is misleide ANC-kiesers wat steeds huisloos is of met onbewoonbare huise sit.

Dit dokumenteer ook hoe die ANC bewus was van Magashule se verdagte geldrekord sedert sy struggle-jare en hom verbete uit die premierspos probeer hou het. Toe sy LUR-skap nie vermy kon word nie, is hy geplaas waar hulle gedink het hy die minste skade sou aanrig – landbou!

Beatrice Marshoff, is soos Winky Direko, van “buite” as premier voor hom aangestel en het ook taamlik rug styfgemaak, maar ’n mens wonder hoekom het sy nie vroeër amptelike stappe laat doen nie. So ook met Mxolisi Dukwana, eens ’n Ace-man, wat voor die Zondo-kommissie getuig het.

Rafel die leuen uit, raak verdraaiing en beheer al moeiliker. Slagofferskap, retoriese ontkenning en verdagmaking is die uitweg. The Weekly, Ace se ryk plaaslike propagandablad, sê laas week op ’n plakkaat hy is spyt oor niks. Dis braaf. Tiisetso Makhele, Ace-apologeet, wat van obskuriteit premiersegsman geword het, val met ’n ope brief (aan Myburgh) vol warm lug aan.

“Boeke kan nie deur vuur doodgemaak word nie. Mense sterf, maar boeke nie,” het Franklin D. Roosevelt gesê. En “Al daad wat meer boeke laat verkoop as ’n goeie verbod, is ’n goeie verbranding (van boeke)”, het Pansy Schneider-Horst gesê.

Dis stof tot nadenke vir geilkatte op warm sinkplaat.

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Sensuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.