Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Shadrack se lang pad met ’n lyk en ’n baba
Charles Smith

Mohledi. Dit was haar naam.

Só sê Shadrack Letata (32) voordat hy sy baba se graf in die Noord-Vrystaatse grond gaan grawe.

Sy was sy sonskyn. ’n Ligstraal ná ’n donker tyd.

Ai, ntate, sê hy voordat hy sy verhaal vertel doer in Viljoenskroon waar hy ’n tydelike werker by ’n groot boerdery is.

Dis net voordat hy haar gister 12:00 gaan begrawe het in die begraafplaas in Ramulotsi.

Sy storie begin toe hy Siena, sy vrou, ’n maand gelede afgesien het. Sy was swanger en moes dringend by die hospitaal in Kroonstad kom vir die bevalling.

Die volgende dag het die hospitaal gebel. Siena is dood. “Hulle sê sy het baie gebloei met die geboorte, toe is sy weg.”

Hul baba het die bevalling oorleef, maar is vir eers in die hospitaal gehou.

Shadrack het nie die geld gehad om Siena se lyk te gaan haal nie.

Shadrack het nie die geld gehad om Siena se lyk te gaan haal nie. Eers ná drie weke, toe Mohledi volgens die hospitaal gesond genoeg was, kon hy gaan. Maar hy moes geld leen vir die reis.

Ek luister na Shadrack en ek sien hom sit in die taxi op pad na Kroonstad, die voertuig skommelend deur die diep slag-gate, die gestroopte mielielande wat geel in die Vrystaatse son op die horison lê.

Dis wat van die Vrystaat oor is vir die Shadracks. Hul geliefdes sterf in staatshospitale en hulle moet die lyke gaan haal met geleende geld op paaie soos in Zimbabwe, met staats-kapers wat soos ons eie Mugabes in Mercs rondjaag om nog te steel.

Hy is al skommelend terug met Siena se lyk en die baba.

Mohledi, sou hy haar noem.

En Vrydag het hy en helpers Siena se graf self gaan grou en toegegooi. Hy moes nóg geld leen vir doeke en melk vir die baba, maar hy het besef hy kon nie vir haar sorg nie. Hy het haar gaan oorgee vir pleegsorg, dan kon hy haar elke dag sien. Hy en Vincent (9), sy en Siena se seun.

Dis baie seer, al die dinge.

“Dis baie seer, al die dinge,” sê hy. Hy is ’n rukkie stil.

Maandag moes hy hoor Mohledi het siek geword en is die aand dood. Dit klink na geelsug en gastro. Maar hy weet nie. Al wat hy weet, is dat hy ’n tweede graf moes grawe.

Ná Mohledi se begrafnis vertel hy hoe dit was. Hy huil. Die moruti het gepreek en gebid, sê hy.

“Die moruti sê ons moenie worrie nie, want God sien . . .”

Vincent, sê hy, wil net weet wanneer kom sy ma terug.

Hy moes R100 leen vir kos vir hom en Vincent vir ná die begrafnis.

Hy het saam R700 geleen vir twee begrafnisse, die taxi, die lyke se vervoer. Die grou van die grafte was darem verniet.

Shadrack het gegroet. Die bakkie moes hom kom haal vir nagskof. Hy moes deurnag hokke skoonmaak.

“Dis darem ’n job, ntate. Ai, ntate.”

Meer oor:  Charles Smith  |  Tragedie  |  Armoede  |  Lyk. Baba  |  Hartseer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.