Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Shap’ sê die wyse man

Uit Hopefield se kant het hulle gekom, nie met goud, wierook of mirre nie. Hulle het net hulself gebring, skryf Dana Snyman.

Die hoofitem van die aand is ’n Kersspel.

Lettie kom staan by my waar ek in my werkkamer voor die rekenaar sit. “Jy sit heeldag net hier en tik, Ouboet,” sê sy. “Koos-hulle maak vanaand ’n konsert by die skool. Jy moet saamkom. Jy moet asem kry.”

Laatmiddag, voor ek gaan stort en skoon aantrek, loer ek by die agterdeur uit. In die binneplaas sit Johannes op ’n omgekeerde koeldrankkrat en maak sy swart Hush Puppy-skoene blink. “Waar’s Koos?” vra ek.

“Koos lê, Ouboet. Lyk my daai pitsweer is kwaai.”

Johannes, Lettie en Koos, hul seun, woon al byna vyf jaar by my op Jacobsbaai. Koos is al 15, maar hy teken nog prentjies van rooi skape en pienk dolfyne. Hy praat maar min, Koos, en wanneer hy praat, klink dit of hy die woorde in sy maag gaan haal. Maar Koos het ’n selfoon waaroor hy knaend na Lucky Dube luister, en hy is in Karitas, ’n skool op Vredenburg vir kinders soos hy.

Toe ons vroegaand moet ry, lê hy steeds op die bank in Johannes-hulle se kamer. Die pitsweer is onder sy arm, donker opgehewe. Lettie bring ’n glas water en twee Panado’s. Koos sluk die Panado’s onwillig, dan ry ons Vredenburg toe, deur die ­skemer en die wind.

Karitas is in Louwville, Vredenburg se township. ’n Paar lae geboue, roomkleurig geverf, agter ’n veiligheidsheining.

Ek is die enigste een met ’n T-hemp, ’n denim en tekkies aan. Die ander is blink uitgevat.

Koos sê iets in Tswana vir Lettie toe ons by Karitas se hek in ry. Hulle praat oor en weer: Koos met min woorde; sy met baie. “Koos sê hy wil in die kar bly, Ouboet.” Sy kyk na my. “Hy wil nie gaan konsert maak nie.”

“ ’n Pitsweer is ’n lelike ding, Lettie,” sê ek. “Gaan sê vir sy onderwyser hy is siek, dan gaan ons huis toe. Toe.”

“Jy moet saamkom, Ouboet.”

Die onderwyser, ’n seningrige man in ’n ligblou pak, staan tussen die ander mense voor die saal. “Nee wat, mevrou.” Hy sit sy hand op Lettie se skouer. “ ’n Pitsweer is sommer ’n ou kleinigheidjie.” Hy beduie na waar ons motor tussen die ander staan. “Los die kind vir my.”

“Maar hy het heeldag gelê, meneer,” hoor ek myself sê.

Hy kyk na my of hy my jammer kry. “Wie sê vir jou hy is nie dalk net bang nie?”

Ek is die enigste een met ’n T-hemp, ’n denim en tekkies aan. Die ander is blink uitgevat. By die saal se deur deel ’n kind programme uit. Eers dan verstaan ek ­beter: Die hoofitem van die aand is ’n Kersspel.

Ons skuif by een van die agterste rye in, Johannes, Lettie en ek. Die man langs my dra nie gereeld ’n das nie, kan jy sien aan die losserige, lomp manier waarop sy das, ’n bloedrooie, om sy nek geknoop is. By hom is ’n seuntjie, ’n Karitas-kind, met ineengetrekte hande, soos ’n voël se kloue.

Oorkant die paadjie sit ’n meisie in ’n rolstoel, haar kop skuins na bo getrek.

Die hoof, in ’n swart pak, gaan staan voor die toegetrekte gordyn op die verhoog. Hy heet ons welkom, lees uit die Bybel, bid, en ek is lus en gaan kyk of Koos nog in die motor is. Toesprake volg. Diplomas en ruikers word oorhandig.

“En nou . . .” Die hoof beduie na die ­agterkant van die saal. “Sit vir ons af die ligte daar.”

’n Seun draf mankerig nader en trek die gordyn oop. Regs op die verhoog staan ’n kamptafeltjie met ’n vierkantige houtbak op. Die krip. Bokant dit hang die Bethlehem-ster aan ’n toutjie. Ek kyk op my selfoon se horlosie. Dit word laat.

’n Panfluit-weergawe van “Stille Nag” begin sag speel, en daar kom Josef en ­Maria, al die pad van Nasaret af. Josef is kaalvoet en op Maria se voorkop rus ’n China-shop-donkerbril; en Die Kind is reeds gebore, daar lê hy in Maria se arms, toegedraai in doeke. ’n Seun met ’n vreemde laphoed op die kop, tree nader. “Wa gaan djille heen, hê?” Hy wys met ’n kwaai vinger na hulle.

“Ons soek slaapplek.” Josef se stem is bang en onseker. “Die hotel is vol.”

Die seun wys na die twee hooibale by die krip. Josef en Maria gaan sit op die bale, dan kom vyf skaapwagters in ’n veld vol kartonskape orent, elk met ’n bamboesstaf in die hand. Ek kyk na Lettie, Lettie kyk na Johannes, Johannes kyk na my. Koos is nie een van hulle nie. Koos sou ’n goeie skaapwagter kon wees.

Oor die luidspreker begin ’n meisie stadig, sukkelend daardie ou-ou woorde lees: “. . . en die engel sê vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring vir julle goeie tyding . . .” Eensklaps is daar ’n klomp engele, met ’n wit lakens om die lyf gedraai. Dan sien ons hulle: Uit Hopefield se koers kom hulle aangestap, die drie ­wyse manne, en Koos is een van hulle, ons Koos, Koos Makhondane, met sy een arm effens in die lug, in ’n blink japon. Hulle bring nie goud nie. Hulle bring nie wierook nie. Hulle bring nie mirre nie. Hulle bring hulself.

“Kom herwaarts getroues,” begin almal sing, en langs my vat die man met die rooi das sy seun se een voëltjieklou-hand in ­syne. Oorkant die paadjie vee ’n vrou kwyl met ’n sakdoekie van die meisie in die rolstoel se wang. Die Bethlehem-ster weerkaats in Maria se China-shop-bril. Koos soek en soek met sy oë tussen die mense na ons, en sien ons, en wys, vrolik, seëvierend, met die duim in die lug vir ons: Shap.

Later, terug by die huis op Jacobsbaai, sê Lettie: “Nou kan jy weer gaan tik, Ouboet. Gaan tik maar weer.”

  * Dana Snyman is ’n skrywer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.