Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sielerus in die rustigheid van die Paarlberg
Johan van Wyk

As jy op die Karoovlaktes grootgeword het, is jy maar katvoet vir hoogtes.

Om die waarheid te sê, ek dink die meeste van daardie wêreld se mense ly aan hoogtevrees. Ek waag dit nie eens op ’n leer nie. Op pad Kaap toe sou my pa by die afgronde in Bainskloof maan: “Pasop, staan tru!”

Dan is ons nog nie by Tafelberg nie. In die ou kabelkarretjie het ek kleintyd vir lewe en dood aan my ma geklou wanneer dit skommelend verby die afgronde skuur. In die groter, nuwe een het ek my oë toegeknyp.

Maar ek het nog altyd daarvan gedroom om Tafelberg soos die groot bergliefhebber van weleer, genl. Jan Smuts, op 80 uit te klim.

Daar het nog niks van gekom nie. Daar sal ook nie. Ek wil nie op Tafelberg vermoor word nie. Nog minder wil ek dit in die geselskap van gewapende wagte betree.

In die hoop dat dit my sal help om te midde van alles wat daagliks in Suid-Afrika verkeerd loop, soos Smuts, sin te vind in die “ewige gebergtes waar die kranse antwoord gee”, gaan ek my dus beperk tot Rebunie by Calvinia – ’n hele ent hoër as ’n molshoop, maar darem nie so dat jy dit sommer so sal agterkom nie. Ook die yl hoogtetjies van die Jan Swartsberge langs die Renosterrivier in die noordwestelike Onderveld, en die ruwe leegtes van die Roggeveldberge by Gannaga in die Tankwa-Karoo.

En, het ek pas ná baie jare weer ontdek, die Paarlberg.

Moet hom nie lig kyk nie. Hy lyk maar so half platterig, maar hy is ’n meneer. Te voet of op ’n trapfiets eet hy jou.

Moet hom nie lig kyk nie. Hy lyk maar so half platterig, maar hy is ’n meneer. Te voet of op ’n trapfiets eet hy jou.

Op ’n piekniek saam met my kleinkinders in die Krismiskamp is ek opnuut deur die skoonheid en grootsheid van die Paarlberg getref.

Generaal Smuts se diepgaande insig van die geweldige sielkundige en geestelike betekenis van berge vir die menslike psige het daar by my opgekom:

“The mountain is not merely something eternally sublime. It has a great historical and spiritual meaning for us.

“From it came the Law, from it came the Gospel in the sermon on the mount. We may truly say that the highest religion is the Religion of the Mountain”.

Soos generaal Smuts, vir wie berge, veral Tafelberg (wat hy talle kere uitgeklim het, onder meer saam met die Engelse koning George VI op sy besoek aan Suid-Afrika in 1947), sy lewe lank die plek was waar hy sielerus en inspirasie gesoek en gevind het, het ek dit ook opnuut in die stilte en rustigheid van die Paarlberg ervaar.

Wat ek nie gevind het nie, was die spore wat ek meer as 60 jaar gelede daar as skoolseun agtergelaat het. Dit is deur tyd toegewaai.

Hopelik sal dié wat my kleinseuns nou daar trap, nie in hul leeftyd onder die beton en teer van gierige ontwikkelaars kom nie.

Maar loop wakker! Hul gewetenlose kloue lê op die loer.

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Stap  |  Bergklim  |  Fietsry  |  Sielerus  |  Natuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.