Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Siesie Tos, ons reddingsboei in tye van honger

Die tuinhekkie se geroeste skarniere gee ’n hartseer kreun toe ek hom oopstoot. In ’n hoekie langs die kombuisdeur staan ’n haasbek-grasbesem, en ek merk op dat die stoep soos altyd netjies skoongevee is.

Haar oë straal van blydskap toe sy my liefdevol by die kombuisdeur omhels. Siesie Tos! Haar regte naam is eintlik Rosy, maar van kindsbeen al roep ons haar op haar bynaam. Vir my het dit nog altyd mooier geklink as om haar antie Rosy te noem.

Wanneer sy my soengroet, kleef die bekende geur van Vicks aan my lippe en vul die geur van wynruit my neusgate. Om haar kop is ’n flennielap gebind. “Dis vir die knaende hoofpyne,” verduidelik sy later.

Sy laat my sommer net daar in haar gesellige kombuisie sit en skakel die ketel aan vir tee. Siesie Tos is een van my laaste oorlewende tantes. Die yl grys hare onder haar kopdoek en die vele kreukels in haar gesig verklap haar hoë ouderdom. Volgende jaar sal sy 80 somers agter die rug hê. Sy woon nou al jare hier, sedert ons deur die ou bedeling uit ons geboorteplek ontwortel is.

Die yl grys hare onder haar kopdoek en die vele kreukels in haar gesig verklap haar hoë ouderdom.

Dis was toe dat sy noodgedwonge die groen golwende heuwels van die eertydse Transkei vir een van die vele ongepleisterde rooibaksteenhuise hier in een van Komani se lokasies moes verruil. Heel gepas is die woonbuurt se naam Rooihel.

Haar munisipale huisie het sy intussen met haar karige pensioengeldjies laat pleister en dit staan nou in skrille kontras met die meeste ander huise in die woonbuurt.

Toe siesie Tos later vir ’n wyle aandag aan haar kospotte skenk, slaan my gedagtes bolmakiesie na my kinderdae. Sy was in daardie tyd ’n ware reddingsboei vir ons. Sy het destyds in die kombuisgedeelte van ’n kafee vis gebak, maar sy het my ma altyd bygestaan wanneer die hongersnoodwolf by ons deur gestaan het.

Ek het vele dae wanneer my maag uit hongerte gegrom het, by haar werkplek gaan ronddrentel.

Ek het vele dae wanneer my maag uit hongerte gegrom het, by haar werkplek gaan ronddrentel. Dan sou sy my ’n halwe brood en ’n heilsame pakkie viskaiings in die hand stop. Koningskos vir ’n honger kindermagie!

Male sonder tal het sy vir my ma broodnodige kruideniersware “op die boek” by haar werkgewer gevat. Ek wonder dikwels wat met my sou gebeur het as sy nie tot ons redding gekom het nie. As sy nie soos die weduwee van Sarfat altyd haar laaste koppie meel en lekseltjie olie in haar kruik met ons gedeel het nie.

By siesie Tos het ek as kind een van die belangrikste lewenswaardes geleer: mededeelsaamheid. Iets wat by só baie mense ontbreek. En juis daarom besoek ek haar gereeld en kan my hand nooit vir haar toe wees nie.

Lank nadat die wuiwende handjie in my truspieël verdwyn het, spook sy nog in my gedagtes. Ja-nee, in hierdie lewe het ek lankal geleer dat nie almal wat soos Lot se vrou op die lewe terugkyk, in ’n soutpilaar verander nie.

Meer oor:  Nolan Venter  |  Siesie Tos  |  Honger  |  Herinneringe  |  Liefde  |  Reddingsboei  |  Kos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.