Daar was die afgelope week erge bewerings oor Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC.
Daarom sou ’n mens dink pres. Cyril Ramaphosa, ANC-president, sou eergisteraand in Sandton op ’n ANC-byeenkoms in die hartjie van die land se finansiële distrik gepeper word met vrae oor dié kwessie.

Sarel van der Walt
Daar was nie ’n enkele vraag daaroor uit die gehoor nie. Hulle het waarskynlik geweet hy sou antwoord die reg moet sy gang gaan. Ramaphosa het self ook nie na sy party se sekretaris-generaal verwys nie. Die naaste wat hy daaraan gekom het, is ’n uitlating dat mense wat die hernuwing van Suid-Afrika teenstaan nie sal slaag nie.
Dis geen geheim nie dat Maga-shule die hooftromslaner in die Jacob Zuma-faksie in die ANC is. Agter die skerms is hy ook die groot doring in die vlees van die Ramaphosa-faksie, wat die ANC én die land wil hernuwe.
Die ANC-byeenkoms is aanvanklik geadverteer as ’n vergadering tussen die president met die wit gemeenskap.
Dit is waarskynlik waarom die ANC onder andere die adjunkministers Andries Nel en Gert Oosthuizen, parlementslede soos die Koornhofs, Gerhard en Nick, en Barbara Creecy, Gautengse LUR vir finansies, daarheen ontplooi het.
Die gehoor wat uiteindelik opgedaag het, was baie gemeng.
Creecy het as voorsitter opgetree en uit die sowat 20 vrae wat uit die gehoor aan Ramaphosa gevra is, is dit duidelik daar is groot kommer by Suid-Afrikaners oor die toekoms.
Die vrae het gewissel van misdaad tot staatskaping en die ekonomie. Ook van Eskom tot onsekerheid onder wit mense of hulle nog welkom is in die land.
Van enige vyandigheid teenoor die president was daar geen teken nie.
Dit was ook die geval toe die president verlede week die Griekse, Italiaanse en Portugese gemeenskappe in Germiston toegespreek het.
’n Mens het die idee gekry die mense wat dié twee geleenthede bygewoon het, besef Ramaphosa alleen kan nie optree en “Magashule onder sy agterent skop” nie. Soos Ramaphosa is Magashule deur ANC-lede tot sy amp verkies. Net die partystrukture kan hom verwyder.
As hy self pessimisties is oor die land, het Ramaphosa dit nie gesê of gewys nie.
Die gehoor het sekerlik ook besef demokratiese beginsels is vir Ramaphosa belangrik. Zuma het dit met sy sterkman-hou-ding vertrap. En anders as Zuma, begryp Ramaphosa as regsgeleerde die verskil tussen staat en party.
Ramaphosa het gepaai en belowe stappe word reeds gedoen wat Suid-Afrika sal laat terugkeer “na die regte manier van dinge doen”.
Dit is wat sy gehoor wou hoor.
As hy self pessimisties is oor die land, het Ramaphosa dit nie gesê of gewys nie.
Vir hom is die glas halfvol eerder as halfleeg. ( ’n Mens kan in elk geval tog seker nie van ’n president verwag om te sê hy is pessimisties nie!)
Daar is uitdagings, maar daar is maniere om die kalf uit die put te kry, mits alle Suid-Afrikaners handevat, is sy boodskap.
Ramaphosa sê ook Suid-Afrikaners is soms oorhaastig. Hulle wil, soos met die Eskom-krisis, onmiddellik oplossings sien. Dit is nie moontlik nie.
Soos verlede week in Germiston was dit duidelik daar is ondanks sy foute simpatie vir Ramaphosa. Van die gehoorlede het waarskynlik daar uitgestap en dit oorweeg om op 8 Mei vir Ramaphosa te stem, maar toe onthou daar is steeds mense soos Magashule in die ANC wat aan die mag sal bly klou soos ’n neet aan ’n kombers . . .
- Van der Walt is ’n politieke joernalis van Beeld.