Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sis Tiemsie is graf toe met ’n mooi kopdoek

Ek het pas my verstand gekry toe my paaie met dié van siesie Tiemsie gekruis het.

Dis nou toe sy een aand teen skemer haar bagasie op ons voorstoep kom neerplak.

Te oordeel na die warme wyse waarop Ouma haar verwelkom het, kon ek aflei dat hul vriendskap al jare aankom. Ek sou later leer dat sy op ’n naburige dorpie gewoon en altyd haar opwagting gemaak het wanneer ’n siel op my geboortedorp so siek was dat die engel Gabriël enige tyd kon intree.

Ons kleingoed het haar sommer sis Tiemsie genoem. ’n Hart van goud het sy gehad en vir niks op dese aarde het sy agteruitgestaan nie.

Ten tyde van ’n sterfte was sy gereed om die bedroefde familie van diens te wees. Sy sou ’n sterwende met ’n laaste gebed op die pad sit.

Wanneer die dood ingetree het, sou sy die oorledene uitlê, kendoekie vasbind, oë toedruk, vinger- en toonnaels knip – die lot. Dan sou die ondernemer ’n silwerskoon liggaam in ontvangs neem.

“ ’n Mens moet maar jou geliefde se liggaam mooi versorg. Die mense by die mortuary kan ook maar lekker skinder,” sou sy altyd sê.

Ek het iemand eendag aan Ouma hoor sê dat sis Tiemsie lang vingers het. Ek het sis Tiemsie se hande daarna gereeld bekyk, maar niks buitengewoon aan haar vingers opmerk nie.

Dan het haar groot bontstaan vir die begrafnis begin. Sy het sommer tot ná die lykstasie by die bedroefdes haar intrek geneem en niemand het omgegee nie. Douvoordag sou sy opstaan en vir die vale vensters was en stoepe blink vryf. Saans, ná die troosdienste, het gebedsgroepe gesmul aan die roosterkoeke en skonsies wat sy deur die dag gebak het.

Ek het iemand eendag aan Ouma hoor sê dat sis Tiemsie lang vingers het. Ek het sis Tiemsie se hande daarna gereeld bekyk, maar niks buitengewoon aan haar vingers opmerk nie.

Wat ek nie kon verstaan nie is hoekom sy na afloop van ’n begrafnis met tot vier keer soveel bagasie huis toe is as waarmee sy gekom het.

Dis nou afgesien van die groenteskille en afvalkossies wat sy vir haar werfbrakke en varkies ge-aas het.

Die dorpsmense het altyd na afloop van ’n begrafnis gekla dat hulle skottel- en selfs beddegoed vermis. So vergesel ek en ’n paar pelle een middag vir sis Tiemsie na die bushalte.

Dis toe dat ’n aartappelsak met skille aan die onderkant oopbars. En saam met die skille beland ’n skaapboud op die rooi dorpsgrond – onmiskenbaar afkomstig van een van die vierpotiges wat vir die begrafnis geslag is. Blitsig gooi sis Tiemsie haar winterjas oor die “skille” en beveel ons om huis toe te gaan.

Toe ek dese petalje met Ouma deel, het sy net gefrons en onderlangs na Oupa geloer.

Met sis Tiemsie se heengaan woon Ouma die begrafnis by. Die volgende dag kom sy hewig omgekrap tuis. Ons sou later verneem dat wyle waardig in haar kis gelê het. Om haar hoof gebind was ’n kopdoek van satyn. Dieselfde een wat Oupa met hul huweliksherdenking vir Ouma ten duurste gekoop het – kompleet met Ouma se voorletters daarop geborduur.

Dis toe ook net daar dat sis Tiemsie se lang vingers vir my betekenis kry.

  • Venter is ’n skrywer van Fort Beaufort.
Meer oor:  Nolan Venter  |  Graf  |  Herinneringe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.