Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sit my as in ’n peperbottel

Daar is deesdae allerhande dinge wat jy met ’n geliefde se as kan doen ná hul dood. Dit het Erla-Mari Diedericks laat wonder wat eendag met haar as gedoen kan word . . .

Erla-Mari Diedericks

Hoe wil jy doodgaan?

Oukei, die antwoord is seker: “Glad nie.” Maar as jy dalk nou al jou begrafnis wil beplan, vergeet maar van Avbob en al daardie vervelige, depressiewe plekke. Ek het gaan inkopies doen op die oorsese tuisnywerheidswebwerf Etsy en het als gevind wat mens vir ’n begrafnis vol styl kan begeer.

Die DIY-kis

Jy het reg gelees. Timmer jou eie kis aanmekaar met die stel wat die hout en skroewe insluit. Jy skroef net die planke aanmekaar en siedaar! Jou eie tuisgemaakte kis. Interessant genoeg word genoem dat die kis in net 30 minute aanmekaar geslaan kan word. Dit is seker vir gevalle waar jy vinnig van ’n lyk ontslae moet raak.

’n Ashouer wat nie skreeu nie

Die “Modern Urn” roem daarop dat dit nie skreeu: “Kyk hier rus my Ouma se as nie!” Dis glo modern en stylvol genoeg om by enige dekor te pas. Dis nou as jy van plan is om jou geliefde se as in jou huis uit te stal.

Vir my lyk die Modern Urn meer soos ’n oorgrootte bottelprop, maar dalk kan jy vir Ouma dan in die kroeg of kombuiskas bêre. En hoef jy jou nie meer daarvoor te skaam nie.

Die eienaars van die Cherish-onderneming noem in hul bemarkingskopie dat die produk “jou vreugde in jou donker tye sal verskaf en ’n trotse plekkie in jou kamer sal hê”.

’n Wit verehart

Daar word geglo dat as jy ’n veertjie sien, dit ’n teken is dat jou beskermengel by jou is. Nou kan jy die naam van ’n afgestorwe geliefde op ’n veertjie laat stempel wat dan in ’n glasborrel-versiering gehang word.

Die skepper van die verehart verklaar in haar reklame dat sy elke veertjie “liefdevol stempel”. Jy kan ook ’n babavoetjie of dierepoot op die veertjie laat stempel en dit dan aan jou Kersboom hang.

Die Corvette-ashouer

Vir die man in jou lewe is daar die 220 Corvette Car Funeral Memorial Adult Cremation Urn.

Dis basies ’n groot silwer boks met die Corvette-embleem voorop. Die advertensie stel jou gou gerus dat die houer baie as kan huisves. Inderwaarheid kan dit die as huisves van ’n man wat 117 kilogram geweeg het. As hy groter as dit is, moet jy seker dan maar twee kissies koop.

Die wasbeer-houertjie

Dié houertjie is piepklein en sal beslis nie Groot Gert se as kan berg nie. Vreemd genoeg het dit ’n skets van ’n wasbeertjie voorop, want die eienaar van die produk het een aand afgekom op ’n wasbeer in haar hond se waterbak en voel dat die dood net so onverwags kan wees soos die wasbeertjie se verskyning.

Die idee is dat jy ’n klein bietjie in die houertjie hou vir jouself en dan die res êrens gaan strooi.

Die prettige tuinbordjie

Vir die vrolike wewenaar of weduwee is daar ’n keramiek-tuinbordjie versier met helderkleurige voëltjies, blommetjies en bytjies wat jy in jou tuin kan plant ter herinnering. Ek dink dis meer geskik vir ’n dooie budjie of so iets, maar die skepper van die produk reken dit sal “warm, goeie herinneringe opwek”.

Dra jou kat om jou nek

As jy graag jou kat of hond vir altyd by jou wil hou, kan jy die as in ’n glasbotteltjie geheg aan ’n silwer slot aan ’n ketting om jou nek dra. Sara, die verkoper, sê dat jy so jou geliefde troeteldier naby aan jou hart kan hou.

Die houertjie is glo ook geskik vir snorbaarde – of jou geliefde dier se pels.

Ek sal nogal daarvan hou dat my as met peper vermeng en dan in peperbotteltjies verpak word waar dit mense sal laat nies en hul pasta sal opkikker.

Of dalk kan my as in ’n kers gegiet word sodat ek vir ’n ruk lank vrolik kan flikker.

Maar ek weet dit sal die beste wees om my as in ’n wilde wind oor ’n stormagtige oseaan te gooi waar ek sal vaswaai in verskrikte mense se gesigte, seemeeue sal verwilder en verstrengel sal raak in branders se wit skuimwolle.

Vry, wild en wragtig. Net soos ek geleef het.

* Diedericks is ’n redaksielid van Netwerk24. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

* Haar nuwe boek, Seks, leuens en die internet (Lapa), is nou landwyd op die rakke.

Meer oor:  Erla-Mari Diedericks  |  Dood  |  Verassing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.