Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Situasie in die Midde-Ooste uiters plofbaar

Sowat 2 400 jaar gelede het die Indiese filosoof Kautilja (hy staan ook bekend as die Indiese Machiavelli) ’n spreekwoord geskep wat die wêreldpolitiek dikwels vandag nog goed beskryf: “Die vyand van my vyand is my vriend.”

Die waarheid hiervan blyk tans in die Siriese burgeroorlog, wat toenemend in ’n totale chaos verval waar niemand meer sin van onsin kan onderskei nie.

Byvoorbeeld: Amerika en Turkye, albei lede van Navo, is ou bondgenote. In Sirië staan hulle egter aan teenoorgestelde kante.

Turkye beskou die Siries-Koerdiese rebellebeweging YPG as ’n bondgenoot van die Turks-Koerdiese rebellebeweging PKK, en dus sy
vyand. Maar Amerika steun die YPG militêr in sy stryd teen die Siriese diktator Basjar al-Assad. Turkye het troepe gestuur om die enklave Afrin net oorkant die Siriese grens, waar die YPG tot baie onlangs die septer geswaai het, te beset. Waarmee hy dreig om met Amerika te bots.

Terselfdertyd beskou Assad die ongevraagde Turkse inval as ’n oortreding van sy soewereiniteit. Dus het die diktator troepe gestuur om die Turkse invalsmagte te verdryf. Waarmee Assad, die YPG en die Amerikaners dus aan dieselfde kant veg.

Maar die Amerikaners (en ander Navo-lande) se oorlogspoging in Sirië is nie alleen om teen die terreurbeweging Islamitiese Staat te veg nie, maar ook om Assad tot ’n val te bring.

Om alles te kroon is daar ook nog Rusland, wat op beduidende skaal aan Assad se kant ingegryp het. En tussenin meng Iran en Israel in die oorlog in waar en wanneer dit hulle pas.

’n Mens word skoon duiselig van al die faksies wat soos die slierte op ’n bord spaghetti deurmekaar vervleg lê.

’n Mens word skoon duiselig van al die faksies wat soos die slierte op ’n bord spaghetti deurmekaar vervleg lê. Die Siriese burgeroorlog is moontlik die ingewikkeldste konflik in baie eeue. En in sulke omstandighede verg dit soms net ’n vonk om ’n kruitvat met donderende geweld te laat ontplof.

Enersyds kan Israel en Iran aanmekaar spring. Of Amerika en Turkye. Of, nog erger, Amerika en Rusland.

En as Amerika en Turkye mekaar aan die bors gryp, moet dit op die allerminste ’n groot gat in Navo se borswering slaan. As dit Israel en Iran is, kan dit lei tot ’n oorlog wat die hele Midde-Ooste aan die brand kan laat slaan.

Te midde van al die verwarring is een ding wel duidelik: Die situasie in die Midde-Ooste was in baie dekades nie so gevaarlik soos nou nie.

Let wel, dié analise is geen doemprofesie nie. Dinge hóéf nie handuit te ruk nie; as dit vanuit die verskillende hoofstede goed bestuur word, kan dit beperk bly. Die punt is wel dat die kruitvat stáán, en dat ’n klomp vuurhoutjies in die onmiddellike omgewing rondlê.

Dalk is Kautilja se spreuk sinies. Maar wel akkuraat.

Meer oor:  Leopold Scholtz  |  Midde-Ooste  |  Rusland  |  Oorlog  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.